'n Psalm van Asaf. God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode. Hoe lank sal julle onregverdig oordeel en partydig wees vir die goddelose mense? Sela. Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg. Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense. Hulle weet nie en verstaan nie; hulle loop rond in duisternis: al die fondamente van die aarde wankel. Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste -- nogtans sal julle sterwe soos mense, en soos een van die vorste sal julle val. Staan op, o God, oordeel die aarde! Want U het erfbesit van al die nasies.