---
type: BookChapter
work_id: '1806'
book_url: https://nasa.misia.sk/books/1942
book_markdown_url: https://nasa.misia.sk/books/1942.md
language: za
position: 43
canonical_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5911
markdown_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5911.md
markdown_source: converted
translations:
  za: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5911.md
---

# Omsendbrief Desember 2020

## Vandag word hierdie skrif vervul

Ons leef in die laaste periode voor die Wederkoms van Jesus Christus. Ons sien met ons eie oë, met ons ore hoor ons bybelse profesieë in ons tyd — hetsy dit die terugkeer van die volk Israel is, of oorloë, of gerigte daarvan is, of aardbewings, hongersnood en epidemies. Onse Here het dit alles reeds voorspel (Lukas 21). Ons ervaar huidiglik nou aardverwarming, klimaatsverandering en allerhande natuurrampe. Deur hierdie nuwe virus, wat onder die naam “Corona” regoor die hele wêreld versprei het, het alles op aarde anders geword en sal dit nooit weer dieselfde wees soos dit voorheen was nie.

Die belangrikste kenmerk van die eindtyd is die volk Israel se terugkeer na die beloofde land: “*Want die Here sal Hom oor Jakob ontferm, en Hy sal Israel nog verkies en hulle in hul land laat vestig ...*” (Jes. 14:1). Hierdie Woord is voor ons oë vervul. Sedert 1948 bestaan die staat Israel weer. Die afgelope tyd is die vredes-proses in die Midde-Ooste weer opnuut die middelpunt gemaak. In September 2020 het die Verenigde Arabiese Emirate en Bahrein 'n vredesverdrag onderteken, die sogenaamde “Abraham-ooreenkoms”, soos die ooreenkomste wat Israel gesluit het met Egipte 1979 en Jordanië in 1994. Meer Islamitiese en ander lande behoort binnekort te volg. Deur middel van die verwagte versoening van Saoedi-Arabië met Israel, sal die finale deurbraak vir vrede in die Midde-Ooste kom — totdat die finale verdrag wat in Daniël 9, vers 27, geskryf staan, gesluit word. 

Na al die gedeeltelike verdrae met Israel, sal die een waarvan Daniel praat, met behulp van die hoogste gesag wat in die hele wêreld aanvaar sal word, uiteindelik gesluit word. Wanneer daardie vrede, wat net 'n skyn-vrede sal wees, tot stand kom, sal hulle sê: “*… vrede en veiligheid”.* Maar, *“dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie”* (IThes. 5:3). Ons kan daagliks in die nuus volg, hoe die vredesproses gestalte aanneem.

Die wegraping en die vredesverdrag sal min of meer dieselfde tyd gebeur. Met die wegraping kom die genade tyd vir die nasies tot ‘n einde en begin die laaste 7 jaar, voor die aanvang van die Millennium. Gedurende die eerste drie-en-'n-half jaar daarvan sal die twee profete volgens Openbaring 11 na vore kom, deur wie se bedienings die verseëling van die 144,000 uit die 12 stamme van Israel sal plaasvind. In die middel van die laaste sewe jaar sal die verbond verbreek word, die groot verdrukking begin en word Jerusalem vir nog 42 maande deur die heidene vertrap (Openb. 11:2).

Die eerste opstanding van diegene wat in Christus ontslaap het sal plaasvind by die Wederkoms van die Here (IThes. 4: 13-18). In Openbaring 20, verse 4-6, word van die opstanding van die martelare gepraat wat uit die groot verdrukking kom (Openb. 7: 13-14). Hulle sal nie aan die wegraping en die bruilofsmaal deelneem nie, maar sal wel deel wees van die duisend-jarige koninkryk: *“... en ek het  die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank”.* Alle ander sal eers ná die duisend jaar, by die tweede opstanding deel het, wat op dieselfde tyd die finale oordeel is (Openb. 20: 11-15).

Ons sal egter nie verder hierop ingaan nie, maar ons besef, dat die eindtyd vêr gevorder het. Vir ons gaan dit daarom, dat die ware gelowiges gereed moet wees om deel te neem aan die wegraping (IThes. 4: 13-18). Mag ons, met die huidige gebeure, doen soos onse Here gesê het: *“... as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is”* (Lk. 21:28).

Herhaaldelik kan ons uitroep: Vandag is hierdie en ander skrifte vervul voor ons oë! In Matthéüs 24, vers 14, sê onse Here: *“En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot 'n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom”.* Dit het nog nooit tevore gebeur dat die ware, ewige Evangelie van Jesus Christus, aan die hele wêreld uitgedra is soos in hierdie tyd nie. In die verlede, voor en veral sedert die Reformasie, was daar telkens geestelike herlewings, maar in geeneen daarvan was die oorspronklike, volle evangelie, onder die salwing van die Heilige Gees verkondig, soos met die stigting van die nuwe-testamentiese Gemeente nie. Die volle evangelie met die bybelse leerstellinge, byvoorbeeld oor die Godheid, waterdoop, die nagmaal, ens., moet nou honderd persent dieselfde wees, soos dit aan die begin was. Dit was gesê van onse Here en Verlosser: *“Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete”* (Hand. 3:21). 

In onse tyd het baie predikers hul eie evangelie verkondig, tot by die charismatiese beweging. Tog het hulle almal die belangrikste belofte, wat vóór die Wederkoms van Christus vervul moet word, misgeloop. Soos die Heilsplan van God in die Nuwe Testament met vervulling van bybelse profesieë begin het, eindig dit ook met vervulling van bybelse profesieë. In Markus 1 lees ons: *“Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God. Soos geskrywe is in die Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak”* (Mal. 3:1a); *“die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!”* (Jes. 40:3): *“Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig. En die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem het uitgegaan na hom toe, en almal is deur hom gedoop in die Jordaanrivier met belydenis van hulle sondes”* (verse 1-5).

Die man van God kon diegene bereik wat sy boodskap ontvang en geglo het, en gesê: *“Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees”* (vers 8). Toe Jesus verskyn, het Hy gepreek: *“Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie”* (vers 15).

In sy eerste preek ná die uitstorting van die Heilige Gees, het Petrus onder die salwing en inspirasie van die Heilige Gees, die volgende woorde gespreek: *“Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep”* (Hand. 2: 38-39).

Die tyd is vervul. Ons ervaar nou aan die einde van die tyd van genade, net soos in die begin, die vervulling van bybelse profesieë wat vir die Gemeente bedoel is. In Maleági 4, verse 5 en 6, byvoorbeeld, staan: *“Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terug bring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders …” *

Deur die bediening van Johannes die Doper word die harte van die ou-testamentiese vaders tot die Nuwe Verbond-kinders gebring (Luk. 1:17). Deur die bediening van broeder Branham was die tweede deel vervul: die harte van God se kinders is teruggebring na die geloof van die aanvanklike apostoliese vaders. Die Here Jesus het in Matthéüs 17, vers 11, hierdie ou-testamentiese belofte bevestig: *“En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers en sal alles herstel”.* Die profeet Maleági het dit onder die salwing van die Heilige Gees aangekondig, ons Verlosser het dit onder die salwing van die Heilige Gees bevestig en almal wat nou met die salwing van die Heilige Gees geleer word, glo die belofte en ervaar die vervulling.

God het Sy dienskneg in Desember, 1965, heengeroep, maar sedert daardie tyd, was die oorspronklike bybelse boodskap wat hy gebring het, na die hele wêreld geneem, volgens die opdrag van God. Hier kan gesê word: Die wat uit God is, hoor God se Woord (Joh. 8:47). Maar hier kan ook gevra word: Wie het ons prediking geglo en aan wie is die arm van die Here geopenbaar (Jes. 53:1; Rom. 10:16)?


## Chapter navigation

- [Previous chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5910.md)
- [Book contents](https://nasa.misia.sk/books/1942.md)
- [Next chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5912.md)

## Available translations

- [Afrikaans](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5911.md)

## Source

- [Canonical HTML page](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5911)
- [Markdown representation](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5911.md)
