---
type: BookChapter
work_id: '349'
book_url: https://nasa.misia.sk/books/1956
book_markdown_url: https://nasa.misia.sk/books/1956.md
language: za
position: 2
canonical_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5929
markdown_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5929.md
markdown_source: converted
translations:
  za: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5929.md
---

# OMSENDBRIEF DESEMBER 1973

## Israel in profesie

In hierdie profetiese tydperk word God se Woord op menigvuldige maniere voor ons oë vervul. God doen belangrike dinge, nie net in die Gemeente nie, maar ook in Israel. Hy sê: *“En in dié dag maak Ek Jerusalem tot 'n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seermaak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word”* (Sag. 12:3).

In hierdie dae is die aandag van die hele wêreldbevolking weer op Israel gerig. Die meeste besef egter nie dat die Here God die profesieë van die profete vervul nie. Hy self het belowe dat Hy aan die einde van die dae Israel uit al die volke sal versamel en hulle na die beloofde land sal terugbring. Hy sal hulle plant en niemand kan hulle ontwortel nie. Hy is op die punt om Sy seëninge en heil oor Israel uit te stort.

Gelowiges regoor die wêreld, ongeag hul regering se houding, het vir Israel gebid. Terwyl Israel die groot versoeningsfees gevier het, het die vyande hulle aangeval. Nêrens in die wêreld vind ons sulke haat soos tussen die nageslag van Isak en Ismael nie. Albei kan na Abraham verwys as hul vader. Net die Woord van God wys vir ons waarin die onderskeid lê.  Paulus beskryf in Galasiërs 4, verse 21-30, die betekenis van die seuns van Abraham.  Vers 22 sê: *“. . . dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye. Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye, deur die belofte*”. Hierin lê die geheimenis. Die belofte wat God aan Abraham gemaak het, was nie aan Ismael gemaak nie, maar slegs aan Isak. Hy was die regmatige erfgenaam en het die seën van die Almagtige God ontvang. Die belangrikheid van 'n goddelike belofte kan nie oorskat word nie, want die seën van God is daaraan verbonde. In vers 28 gaan Paulus voort: *"Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte."*

Ware kinders van God is kinders van belofte. Hulle glo wat God aan Sy eie beloof het, hulle is erfgename van God en mede-erfgename met Jesus Christus. Uitsonderlik is dat die Israeliete nie die Arabiere, die nageslag van Ismael, haat nie, maar altyd gereed is om vir hulle liefde te betoon. Maar die Ismaeliete haat die Israeliete, die nageslag van Isak, met 'n dodelike haat. Wat in die natuurlike onder die nageslag van Abraham plaasvind, sien ons ook in die Christendom verwesenlik. Diegene wat uit God gebore is, wat die belofte van die Woord en die Gees ontvang het, word deur die ander gehaat en vervolg.

Die martelaarskap bewys hierdie feit duidelik. Paulus stel dit so: *“maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook”* (vers 29)*.* Gelowiges is nie verbaas oor wat in die Midde-Ooste gebeur nie, want hulle sien dit as die vervulling van die Skrif. Alhoewel dit nog nie duidelik is watter verloop dinge gaan neem nie, weet ons dat Israel tot 'n verbond moet instem. Volgens die profesie van Daniël 9 sal die Jode vir die laaste sewe jaar die verbond toetree.

Tot nou toe was geen direkte vredesonderhandelinge moontlik nie, maar nou is die pad duidelik. Hierdie oorlog het tot hiertoe nog 'n ongekende maar noodsaaklike situasie geskep. Internasionaal-erkende grense sal onder druk van die groot moondhede kom, want die Skrif moet vervul word: *“. . . wanneer hulle sê: (Daar heers nou) Vrede en veiligheid — dan oorval 'n skielike verderf hulle . . .”.* Die vyande van Israel sal instem tot die afbakening, maar hulle haat sal aanhou toeneem tot die dag wanneer hulle, volgens Esegiël 38 en 39 Israel met al hulle bondgenote sal aanval. Die Jode is nog nie bewus van die manier waarop die beloftes vervul word nie. Hulle oë word vasgehou soos Paulus in IIKorinthiërs 3:15 skryf: *"Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar 'n bedekking oor hulle hart".*

Onder die uitverkorenes in Israel is die verwagting van die Messias groot. In hulle harte is die verlange na verlossing en bevryding. Die tyd vir Israel as 'n hele nasie kom nie voordat die volle getal uit die volkere die Gemeente binnegegaan het nie. Paulus skryf verder: *“... maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem”* Dit kan eers gebeur ná die wegraping van die Bruidgemeente.

Hoe kan ons die gebeure van hierdie tyd plaas? Onder die ware gelowiges is die ernstige vraag: hoe lank sal die genadetyd duur en wanneer is die Here se Wederkoms? Die tekens van die tye spreek duidelik tot ons. Die vyeboom is in volle blom. Die profetiese woord word voor ons oë vervul.

 


## Chapter navigation

- [Previous chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5928.md)
- [Book contents](https://nasa.misia.sk/books/1956.md)
- [Next chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5930.md)

## Available translations

- [Afrikaans](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5929.md)

## Source

- [Canonical HTML page](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5929)
- [Markdown representation](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5929.md)
