---
type: BookChapter
work_id: '349'
book_url: https://nasa.misia.sk/books/1956
book_markdown_url: https://nasa.misia.sk/books/1956.md
language: za
position: 3
canonical_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5930
markdown_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5930.md
markdown_source: converted
translations:
  za: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5930.md
---

# OMSENDBRIEF DESEMBER 1973

## Die 70 jaarweke van Daniël

Baie wat die woord van profesie bestudeer, vra gedurig die vraag, hoe die 70 jaarweke van Daniël verdeel word. Die engel Gabriël het die profeet Daniël opdrag gegee oor die sesvoudige doel van die heilsplan vir Israel.

In Daniël 9 vers 24 staan: *“Sewentig jaarweke is oor jou volk en jou heilige stad bepaal . . .”*

1. om die goddeloosheid te voleindig

2. om die maat van sondes vol te maak

3. om die ongeregtigheid te versoen

4. om ewige geregtigheid aan te bring

5. om gesig en profeet te beseël

6. om wat hoogheilig is, te salf.

Eerstens moet die goddeloosheid tot 'n einde gebring word. God het deur die profeet Esegiël gesê: *"... want die land is vol bloedvergieting en die stad vol geweld”* (7:23)*.* In hoofstuk 45, vers 9 sê dit:   *“... Dit is nou genoeg,**o vorste van Israel! Verwyder geweld en verdrukking, en doen reg en geregtigheid . . .”.* Deur die profeet Jesaja sê die Here: *“Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste — Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie!”* (Jes. 1:13).

Almal wat die verbond oortree wat God met Israel gesluit het, sal beskaamd staan. Die profeet Daniël het geprofeteer: *“En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree”.* Ten tye van die vervulling van hierdie profesie sal die verontwaardiging in Israel uiteindelik tot 'n einde gebring word. Hulle sal weet wat God in geregtigheid en heiligheid vir hulle gedoen het.

Tweedens moet die mate van sonde voleindig word. Die Here verwag van Israel om in die Messias te glo. Maar hulle het Hom nie herken nie en so die sonde van ongeloof gepleeg. Israel se grootste sonde was hul verwerping van die Messias. Maar wanneer hulle tyd sal aanbreek, sal hulle, volgens Sagaria 12, vers 10, die een erken vir wie hulle deurboor het: *“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind”.* So word 'n einde aan die verskriklike sonde van ongeloof gemaak. *“. . . dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe . . . en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie”* (Hebr. 8: 10-13).

Derdens moet die verskuldiging en ongeregtigheid versoen word. Die Here Jesus het na Sy volk (Israel) gekom, maar hulle het Hom nie aangeneem nie. Vir hulle skuld het Hy versoening bewerk, deur Sy dood op Golgota, maar hulle het toe nie hierdie versoening aanvaar nie. Toe hulle die Messias verwerp het en uitgeroep het: *“Sy bloed kom op ons en op ons kinders!”* het verlossing na die heidene oorgegaan. Maar wanneer die Here Hom tot Israel terugwend, sal hulle hul skuld-versoening vir die ongeregtigheid, deur Christus hulle Messias aanneem. Die profeet Jesaja profeteer: *“as die Here die onreinheid van die dogters van Sion afgewas en die bloedskulde van Jerusalem daaruit weggespoel het deur die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging. Dan skep die Here oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms 'n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar 'n beskutting wees”* (Jes. 4: 4-5).

Die vierde doel was om ewige geregtigheid aan te bring. God self is ewig en Sy geregtigheid is ook ewig. Die ewige lewe en die ewige geregtigheid van God sal aan hulle gegee word in Jesus Christus. Die profeet Jesaja skryf: *“Sion sal deur strafgerig verlos word en die van hom wat terugkeer, deur geregtigheid. Maar daar sal verbreking wees van die oortreders en die sondaars almal saam; en die wat die Here verlaat, sal omkom”* (Jesaja 1: 27-28). In daardie tyd sal die Israeliete nie meer die geregtigheid van die wet nie, maar ewige geregtigheid in geloof in die Messias aanneem: *“. . . Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing”* (IKor. 1:30).

Vyfdens, moet die visioene, die profesieë en die profeet bevestig word. Op daardie tydstip sal God self kennis van die goddelike openbaring van die verlossingsplan skenk en hulle sal dan die vervulde profesieë en visioene herken. Die uitverkorenes in Israel het nog altyd geglo aan hulle profete, aan wie God gesigte gegee het, en waardeur Hy in profesieë tot hulle gespreek het. Israel was geleer dat hulle eers na die profete moet luister, wanneer hulle profesieë bevestig en vervul is.

Die sesde, ter afsluiting, praat van die salwing van die Allerheiligste. In die Ou Testament was die openbaringstent, die tabernakel, en ook die priesters en die voorwerpe van die Here deur die salwing gewy tot die diens van God (Levitikus). So sal die tempel van die Here, die plek van God se openbaring, aan die begin van die millennium gesalf wees as die allerheiligste.

Die engel Gabriël het die volgende aan die profeet Daniël gesê: *“Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op 'n Gesalfde, 'n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die twee-en-sestig sewetalle sal 'n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van 'n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met 'n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word”*

Die sewentig jaarweke vir die volk Israel is in drie tydperke ingedeel. Die eerste tydperk strek oor sewe weke van jare en het in Maart 445 vChr begin. Na die Babiloniese ballingskap geëindig het, moes Jerusalem weer herstel word en met markpleine voorsien word. Nehemia het getrek na Jerusalem toe en gesê: *“Daarop sê ek vir hulle: Julle sien die nood waar ons in is, dat Jerusalem woes lê en sy poorte met vuur verbrand is; kom, laat ons die muur van Jerusalem opbou, dat ons nie langer 'n voorwerp van smaad kan wees nie . . . En hulle sê: Ons sal ons klaarmaak en bou! En hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk”*.

Dit het hulle sewe jaarweke geneem om Jerusalem weer te herbou, aldus 49 jaar. Tweedens gaan dit oor die 62 jaarweke, aan die einde waarvan die Gesalfde, die Messias, Sy lewe in versoening gegee het. Hier moet ons die 7 jaarweke (= 49 jaar), en die 62 jaarweke (= 434 jaar), saam tel. Dit maak 'n totaal van 483 jaar. Die eerste tydperk het in 445 vChr begin en die tweede het geëindig met die dood van Jesus Christus.

In die profetiese betragting word ‘n jaar met net 360 dae en nie 365 dae bereken. In Openbaring vind ons dieselfde tydperk van 3**½** jaar aangegee as 42 maande of as 1260 dae (1260 / 3**½**= 360).

Die volgende aanhalings van Broeder Branham weergee ek sonder kommentaar. Ek sal ook geen vrae in hierdie verband beantwoord nie. My uitsluitlike doel is om almal te help sodat niemand 'n spesifieke tyd kan vaslê nie. God alleen sal daarvoor sorg dat alles presies volgens Sy plan en wil verloop.

Broeder Branham het die onderwerp van die 70 jaarweke vanuit verskillende oogpunte gedek. As profeet van God het hy die onderskeie aspekte van die heilsgeskiedenis gesien. Met verwysing na die bediening van die twee getuies, het hy gepraat van 3**½**jaar wat vir Israel bestem was en daarop gewys dat die Here Jesus reeds 3**½**jaar vir die Jode gepreek het. Maar met verwysing na die hele tydsbestek ná die wegraping, praat hy van sewe jaar. Albei is korrek, as dit korrek georden word.

Hiermee gee ons dan die vertaalde aanhalings uit die preek van Broeder Branham oor die "70 Jaarweke van Daniël", gepreek op 6 Augustus, 1961, in Jeffersonville, Indiana. 

Begin van aanhalings:

“Nou is daar nie meer enige raaiwerk daaroor nie. Ons weet nou, dat een (profetiese) week beteken sewe jaar. Verstaan julle dit? Kom ons sê dit saam: ‘Een week is gelyk aan sewe jare!’. Nou weet ons dat ons dit het. Een week is gelyk aan sewe jaar!” . . . “Dit het 49 jaar geneem om die tempel te herbou” . . . “Geen spesifieke tydperk was vir die nasies gestel nie. Jesus het net in Lukas 21, vers 24 gesê: *‘. . . Jerusalem sal vertrap word deur die heidene, totdat die tye van die heidene uitgeloop het’*.” . . . “Daar is 'n vasgestelde tyd, maar niemand weet wanneer dit sal eindig nie. Dit is 'n verborgenheid”.

“Nou, die sewe weke was 49 jaar. Ons verstaan dit nou duidelik. Een week is sewe jaar.” . . . “Sedert die bevel gegee is om die stad op te bou tot die Messias, tot Christus die Gesalfde kom, moet 7 en 62 jaarweke, dws., ‘n totaal van 69 jaarweke wees; 69 x 7 gee 483 jare.”

“Volgens Openbaring 11, sal die twee profete vir 1260 dae profeteer, tot in die middel van die laaste week van die Jode. Dan sal hulle doodgemaak word en Armageddon plaasvind.”

“Ons sien dat alles wat nog moet gebeur (met Israel) in die tyd van die sewentigste week sal gebeur. Siende dat hulle alreeds presies 69 jaarweke gehad het en alles vervul is soos God gesê het dit sou wees, is daar nog een jaarweek oor van wat aan die Jode belowe was.”

“Wanneer sal die 70ste jaarweek begin? Nadat die Gemeente weggeneem word, draai God na die Jode. Moet dit nie vergeet nie!” 

“Sodra die Gemeente weggeneem word, gryp die Jode dit aan en kom in. Die volgende ding wat nou voor ons staan is nie 'n nasionale herlewing onder die heidene nie, volgende is die koms van die koninkryk van God, die koms van Christus”.

“Wanneer sal God hierdie laaste week begin? Wanneer? Dit kan selfs vandag wees. Dit kan voor sononder wees. God sal dit bekend maak. Ek weet nie wanneer dit sal wees nie, maar ek sal vir julle iets daaroor sê binne ’n paar minute. Ek weet nie of julle dit sal glo of nie, maar ek moet dit sê.” . . . “Die Jode is in hul vaderland. Ons is aan die einde van die eeu, gereed vir die wegraping. Wanneer die wegraping gebeur, sal die Gemeente opgeneem word en ons ontmoet Hom in die lug. Dit weet ons almal . . . So eindig die heidene se tydsbestek”.

“So, daar is nog net een week oor vir die Jode. Is dit korrek? En dit is presies sewe jaar. ‘n Volle sewentig jaarweke was bestem vir die volk Israel. Ons weet dus, dat nog sewe jare oorbly vir die Jode. Is dit korrek? Let dit tog op! Laat weet my sou daar nog ’n vraag daaroor wees”.

“God sal die 144 000 uit die Jode uitroep, deur die twee profete . . . Maar onthou! Dit gebeur in die sewentigste jaarweek terwyl die Gemeente in heerlikheid is. Amen! — en die bruilofsmaal plaasvind."

“Die oomblik waarin die Gemeente weggeraap word, begin die sewentigste week, die sewe jaar. Kan julle dit sien vrien-de? Indien wel, steek op julle hande. Dankie."

“Die oomblik wat die Gemeente weggeneem word, begin die die sewentigste week, die sewe jaar. Luister nou! Ek herhaal dit, sodat julle nie vergeet nie. Dit is wat die Heilige Gees my gegee het terwyl ek geskryf het.”

“Ons is in die gemeentelike tydperk van Laodisea. Christus word deur Sy eie Gemeente verwerp. Die boodskapper van hierdie tydperk het die boodskap gebring. Israel is in hul land. Sien julle waar ons ons bevind? Ons is aan die einde."

“Gedurende die afgelope veertig jaar het die Jode na Jerusalem teruggekeer. Hulle gaan na hul tuisland. Sien jy waar ons is? Veertig jaar het verloop ná die kruisiging van die Messias, voordat die Romeinse generaal Titus die Tempel vernietig en die Jode verstrooi het."

“Nou sien, ons het gevind dat die Jode vir die laaste veertig jaar terugkeer.” . . . “Dit is omtrent dieselfde tyd soos ná die kruisiging van Christus, tot met die vernietiging van die tempel en die verstrooiing van die Jode.”

“Die prins, die antichris, sal 'n verbond met die Jode sluit en in die middel van die week — na 3**½** jaar — sal die dier die verbond verbreek."

“Ons stel vas dat die Protestantse organisasies opgeneem word in die Wêreldraad van Kerke — 'n beeld van die dier. Die Jode word in hierdie konfederasie ingeroep. Ja inderdaad, en hulle stem in. Dit is wat die Bybel sê. Dan maak hy 'n verbond met hulle, wat in die middel van die sewentigste week verbreek word. Hy — die Antichris — verbreek sy verbond met die Jode.”

“Let nou op! Die daaglikse offer sal ingestel word nadat die tempel herbou is: en die vors wat sal kom, gaan die verbond verbreek en wegdoen met die daaglikse offer . . . en hierdie verwoesting sal tot die einde toe hou."

“Is daar nie nou hongersnood in die land nie, met die ware Gemeente wat honderde kilometers ry om die Woord van God te hoor? Die honger is nie na brood alleen nie, maar om die Woord van God te hoor. Ons leef nou in die middel daarvan.” 

“'n Treffende verklaring: Vanaf die tyd toe God aan Abraham die belofte gemaak het in Genesis 12, tot die verwerping van Christus in (die jaar) 33 nC, volgens Galasiërs 3, verse 16-17 en volgens Usher se kronologie van die Hebreërs, werk die krag van God presies 1954 jaar onder die Jode . . . nadat hulle Christus verwerp het, het Hy hom tot die heidene gewend, om 'n volk vir Sy Naam te neem (Handelinge 15:14). As ons die tydsberekening doen, dan het die Gemeente vanaf 33 nC tot 1977, ook 1954 jaar waarin God met ons deel, soos met die tydperk van die Jode . . .”

“Ons verstaan dus dat vanaf die eerste jubeljaar, volgens Levitikus 25, verse 8-10, sal 1977 die sewentigste jubeljaar wees” . . . “en wat sal dit wees? O, broeder! Wees nou oplettend. Moet dit nie mis nie! Dit sal die bevrydingsjaar wees waarin die heidense Bruid heengaan en Christus terugkeer na die Jode, wanneer hulle van hul slawerny bevry word. Amen! Van regoor die wêreld kom hulle daar bymekaar vir daardie dag. Ons weet nie watter tyd dit gaan gebeur nie. Ons is in die eindtyd.”

“Ek het in 1933 gesê dat, volgens die verloop van tyd, alles teen 1977 vervul sal wees . . . God ken my hart. Tot gister het ek nie geweet dat 1977 weer 'n jubeljaar gaan wees nie. Dan sal dieselfde hoeveelheid tyd verloop het as wat Hy aan Israel gegee het. Ons is aan die einde van die tydperk — by die aanbreek van die sewentigste jaarweek. Ons weet nie watter tyd die Gemeente weg sal wees nie.”

“Ek wil nie hê iemand moet hiervandaan weggaan met ’n wan-indruk ​​nie. Niemand moet wat gesê was verkeerd verstaan ​​en gaan sê dat Broeder Branham gesê het Jesus kom in 1977 nie. Ek het nie so gesê nie. Jesus kan selfs vandag kom. Ek het net voorspel dat daar tussen die jare ’33 en ’77 iets sal gebeur en dat die dinge wat in visioene aan my gewys was, vervul sal wees. Vyf van hulle het reeds gebeur.”

"Is julle nie gelukkig nie? Terug na die boodskap, broeder! Terug na die oorspronklike! Terug na Pinkster! Terug na die ware seëninge! Terug na die naam van Jesus Christus! Terug na die doop van die Heilige Gees! Terug na die tekens en wonders! Terug na Pinkster! Weg met die organisasie! . . .”

Einde van aanhalings.

 


## Chapter navigation

- [Previous chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5929.md)
- [Book contents](https://nasa.misia.sk/books/1956.md)
- [Next chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5931.md)

## Available translations

- [Afrikaans](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5930.md)

## Source

- [Canonical HTML page](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5930)
- [Markdown representation](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5930.md)
