---
type: BookChapter
work_id: '546'
book_url: https://nasa.misia.sk/books/1958
book_markdown_url: https://nasa.misia.sk/books/1958.md
language: za
position: 38
canonical_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5948
markdown_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5948.md
markdown_source: converted
translations:
  za: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5948.md
---

# Die Werking van Openbaring

## Die Voleinding

Aan die begin van hierdie daarlegging plaas ons die Woord uit Genesis 2, vers 2: *“En God het op die sewende dag Sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al Sy werk wat Hy gemaak het”.* Dit is nie net 'n skeppingsverslag nie, maar gee ons ook 'n profetiese heenwysing op die voltooiing van die Gemeente. Nou, aan die einde van die genadetyd, in die sewende gemeentelike tydperk, is die Here besig om Sy werk onder Sy volk af te sluit.

In Filippense 1, vers 6, getuig Paulus van die voleinding van God se werk: *“omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus”.* Slegs die voltooide Gemeente sal die heerlikheid betree en aan die bruilofsfees deelneem (Openb. 19:9). Dan kom die “Dag van rus”, die Vrederyk, die sewende duisend-jaar of “Millennium”. 'n Dag by God, is soos ‘n duisend jaar by ons (IIPet. 3:8). Onmiddellik daarna het Petrus geskryf: *“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie ...”*.

Ongeveer 6,000 jaar is sedert Adam verby. *“… maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word”* (Matt. 24:22).  Ons is nou by 'n keerpunt in die geskiedenis van die mensdom, net voor die sewende duisend-jaar begin. Na die duisend-jaar kom die finale oordeel voor die wit troon en die herskepping van hemel en aarde — tyd vloei dan in die ewigheid in.

Die Heilige Gees sal net aan diesulkes die verloop van bybelse gebeure openbaar, wie geen voorbedagte opinies oor die verloop en voltooiing daarvan het nie. *“Die Here van die leër-skare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand”* (Jes. 14:24). Wat 'n gewisheid is daar in hierdie woorde! Hy doen nie wat mense beplan het nie, maar wat God beplan het. Sy raad strek oor die hele aarde en sy hand is uitgestrek oor alle volke. *“want die Here van die leërskare het dit besluit — wie sal dit kan verydel? En Sy hand is uitgestrek — wie sal dit kan afkeer?*” (Jes. 14:27). *“… want Hy volbring 'n saak en verkort dit in geregtigheid, omdat die Here 'n saak wat verkort is, op die aarde sal doen”* (Rom. 9:28).

In hierdie kritieke tyd is dit belangrik om die regte aansluiting met die werk van God te vind. Dit is moontlik om te praat van die tekens van die tye en om die vervulling van die profesieë aan Israel te beklemtoon, sonder om te let op wat God belowe het om in die Gemeente te volbring. *“Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor*” (Jes. 42:9).

Volgens God se plan loop twee dinge parallel in ons tyd: Israel keer terug na die Beloofde Land: *“Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos 'n herder sy kudde”* (Jer. 31:10b) en die Gemeente kom terug na die Here en Sy Woord: *“Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige”* (IIKor. 6: 17-18). Net soos nie alle Jode terugkeer na Palestina nie, so ook kom nie alle gelowiges uit die organisasies nie. *“Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard”* (Rom. 11:7). Dieselfde geld vir die nasies: slegs die uitverkore deel volg die oproep van God in hierdie tyd en sal die doel bereik. Die res is hardkoppig en neem nie God se sprekinge ernstig op nie.

Maar die werk van die Here sal voleinding vind. Jesaja 28, vers 21 sê: *“Want die Here sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim; Hy sal aanstorm soos in die dal by Gíbeon om Sy werk te doen — vreemd is Sy werk! En om Sy daad te verrig — ongehoord is Sy daad!”.* Die werk van God en Sy daad is iets vreemds vir mense (Hab. 1:5). So naby aan die Wederkoms van Jesus Christus het ons nie die goed-bedoelde interpretasies van die Skrif nodig nie, maar wel die duidelike manier waarop die Here praat aangaande God se onfeilbare Woord.

*“Want die Here sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim ​​...”* is die profesie van die profeet Jesaja. Wat het op Perazim-berg gebeur? Daar het God 'n geweldige deurbraak gegee, die vyande verslaan en Sy volk die oorwinning gegee. Dawid het uitgeroep: *“Die Here het voor my heen deur my vyande gebreek soos water deurbreek; daarom het hy dié plek Baäl-Pérasim*(die plek van die deurbraak)*genoem”* (IISam. 5:20). *“Hy sal aanstorm soos in die dal by Gíbeon om Sy werk te doen”. “Toe het Josua met die Here gespreek … en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ájalon!”* (Jos. 10:12). Die twee gebeure waarna die profeet Jesaja verwys, gee ons 'n idee van die geweldige manier waarop die Here *Sy “vreemde werk” en Sy “ongehoorde daad”* sal voltooi. Hy sal aan die einde van die tyd 'n geweldige deurbraak gee en elke struikelblok verwyder en elke vyand oorwin, en hulle Sy voetbank maak (Ps. 110: 1-3) en so Sy werk tot voleinding bring.


## Chapter navigation

- [Previous chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5947.md)
- [Book contents](https://nasa.misia.sk/books/1958.md)
- [Next chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5949.md)

## Available translations

- [Afrikaans](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5948.md)

## Source

- [Canonical HTML page](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5948)
- [Markdown representation](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5948.md)
