---
type: BookChapter
work_id: '546'
book_url: https://nasa.misia.sk/books/1958
book_markdown_url: https://nasa.misia.sk/books/1958.md
language: za
position: 43
canonical_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5953
markdown_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5953.md
markdown_source: converted
translations:
  za: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5953.md
---

# Die Werking van Openbaring

## Die Nuwe-Testamentiese era

Baie vernalatig om die Ou Testament te lees en besef dus nie dat al die profesieë in die Nuwe Testament vervul word nie. 109 profesieë wat met Christus verband hou, is letterlik vervul toe Hy die eerste keer gekom het. Elke leer van die Nuwe Testament is gebaseer op die So spreek die Here van die profetiese Woord. Dit is onbegryplik hoedat die bybel-onderriggewers en godsdienstige leiers van daardie tyd nie die vervulling van die Skrif erken het nie. Hulle het hul eie interpretasies geglo en gepreek en gewag dat God dit dienooreenkomstig sou vervul.

Ons vra ons af: “Herhaal die geskiedenis homself in ons tyd?”. Die Wederkoms van Jesus Christus word verkondig en wonderlike dienste word gehou, en tog word die Woord wat God vir hierdie tyd geopenbaar het, geïgnoreer.

Herhaaldelik verwys die apostels — die skrywers van die Nuwe Testament — na die Woord van die profete. In die Nuwe Testament vind ons 845 aanhalings uit die ou Testament. Ons kan nie die Ou en Nuwe Testamente skei nie. Gedurende die ou tydsbestek is God se plan van verlossing met die mensdom vooruitgespreek, wat nou vervul word in die Nuwe Verbond: *“... gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is”* (Efé. 2:20).

Aan die begin van die Nuwe Testament het God, volgens die belofte van Sy Woord, Johannes die Doper gestuur, die voorloper van Christus se eerste koms. Die predikers van daardie tyd het sy bediening verkeerd verstaan, hom beledig en teëgestaan. Maar almal wat hulself kon verloën en hul vorige lering kon vergeet, het die boodskap wat deur God gestuur is, aanvaar. Hulle het daarvan gehou om na hom te luister en geen aanstoot geneem teen die aard van sy bediening nie. Johannes het gesê: *“Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome”* (Joh. 3:29).

Het ons verstaan ​​dat ons nou weer leef in 'n profetiese tyd waarin die profesieë van die Skrif voor ons oë waar word? Het ons die '*vandag*' van ons goddelike besoek erken?

Die bediening van Johannes die Doper was die vervulling van Jesaja 40, verse 3-5 en Maleági 3, vers 1, soos ons in die Markus-evangelie kan lees: *"Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God (was) soos geskrywe is in die Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak*(Mal. 3:1)*… die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak Sy paaie reguit!* (Jes. 40:3)”. 

Die Engel van die Here het met Sagaria oor die bediening van Johannes die Doper gepraat: *“... En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders ...”* (Luk. 1:17). Die engel het geweet watter deel van die Skrif deur die bediening van Johannes vervul moes word. Hy het nie van Johannes gesê dat hy Elia is wat sou kom voor die groot en vreeslike dag van die Here nie. Hy het die belofte van Maleági 4, vers 6 genoem, wat toe vervul is: *“En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders ...”*. Omdat 'n deel van die belofte van Elia wat voor die groot en vreeslike dag van die Here sou kom, deur die bediening van Johannes vervul is, noem Jesus hom óók Elia. *“En as julle dit wil aanneem: hy is Elía wat sou kom”* (Matt. 11:14). *“… maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het hom nie erken nie, maar aan hom alles gedoen wat hulle wou”* (Matt. 17:12).

Die res van vers 6 was destyds onvervuld omdat dit tot die tyd van Christus se Wederkoms behoort. Die vervulling van die eerste gedeelte was aan die begin van die dag van genade en verlossing. Byna tweeduisend jaar het verloop en die 'Dag van die Here' was nog nie. Van die "Dag van die Here" lees ons bv: *“Huil julle, want die dag van die Here is naby; Hy kom as 'n verwoesting van die Almagtige. Daarom word al die hande slap, en elke mensehart versmelt … Kyk, die dag van die Here  kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde 'n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg”* (Jes. 13: 6-9). In Joël 2, vers 31, spreek die profeet as volg: *“Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom”*.

Die oorblywende gedeelte van Maleági 4, verse 5-6, vir hierdie tyd, lui: *“Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie”.* In Lukas 1:17 vind ons 'n verborgenheid soos in Lukas 4:19. Die engel het slegs geneem wat toe vervul was, en die Here Jesus het net gelees wat daarmee verband hou. Hy het nie oor die “dag van wraak” gelees nie, want dit verwys nie na die tyd van genade nie, maar na die tyd van oordeel, na die groot en vreeslike dag van die Here.

In Matthéüs 11, vers 10, identifiseer Jesus nie vir Johannes die Doper met Maleági 4:5 nie, maar met Maleági 3, vers 1: Want dit is die een waarna die Skrif verwys: *“Kyk, Ek stuur my bood-skapper wat die weg voor My uit sal baan”*. Toe Johannes op die hoogtepunt van sy bediening was, het hulle hom gevra: *“Is u Elía? En hy sê: Ek is nie. Is u die profeet? En hy antwoord: Nee”* (Joh. 1:21). Wie dit kan snap, gryp dit aan. Die getuienisse van die Here Jesus, die engel, Johannes die Doper en die evangelis Markus, is so duidelik en harmonieus, dat dit nie weerlê kan word nie.


## Chapter navigation

- [Previous chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5952.md)
- [Book contents](https://nasa.misia.sk/books/1958.md)
- [Next chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5954.md)

## Available translations

- [Afrikaans](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5953.md)

## Source

- [Canonical HTML page](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5953)
- [Markdown representation](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5953.md)
