---
type: BookChapter
work_id: '546'
book_url: https://nasa.misia.sk/books/1958
book_markdown_url: https://nasa.misia.sk/books/1958.md
language: za
position: 45
canonical_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5955
markdown_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5955.md
markdown_source: converted
translations:
  za: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5955.md
---

# Die Werking van Openbaring

## Die verseëlde Boek

Ons vind 'n parallel in die Ou Testament aan die openbaring van Johannes. Die profeet Esegiël het 'n geheimenisvolle boek gesien. *“Toe kyk ek, en daar was 'n hand na my toe uitgesteek, en daarin 'n boekrol! En Hy het dit voor my uitgesprei; en dit was beskrywe op die voor- en agterkant”* (Esé. 2: 9-10). Johannes getuig in Openbaring 5, vers 1: *“En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, 'n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël”.*

Die profeet Daniël het die opdrag gekry: *“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe”* (Dan. 12:4). Die tekens van die tye getuig vir ons dat ons nou in die eindtyd leef, en die boek kon dus nie meer verseël bly met die verborgenhede van God nie. Die magtige stem van die engel het gesê: *“Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?”.* Johannes het bitterlik geween toe niemand waardig gevind is nie. Maar een van die ouderlinge antwoord toe: *“Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek”*(Openb. 5).

Op grond van die bonatuurlike gebeure in die bediening van Broeder Branham, is dit heel duidelik dat hy as die boodskapper van die sewende gemeentelike tydperk gebruik was, om die opening van die seëls te ontvang en aan die mense deur te gee. Broeder Branham het op 22 Desember, 1962, in 'n visioen gesien wat later sou gebeur in verband met die opening van die seëls. Die visioen was op 28 Februarie, 1963, in die gebergtes van Arizona bevestig. Daar het net voor sonsonder 'n magtige wolk verskyn, waarin 'n konstellasie van sewe engele in die vorm van 'n piramide in die blou lug was. Daardie wolk het op die berg afgekom waar Broeder Branham was. Hy het die sewe engele wat hy duidelik gesien het, beskryf. Hy was letterlik gehul in hierdie wolk en 'n kragtige stem gehoor: "Keer ooswaarts na Jeffersonville, want die tyd het aangebreek om die sewe seëls oop te maak". Hy getuig hoedat hy dae lank onder die indruk van dié geweldige ervaring was.

Na hierdie bevel keer hy terug na Jeffersonville, waar hy die seëls vir sewe agtereenvolgende dae gepreek het. Die Here het elke dag ‘n seël aan hom geopenbaar deur goddelike openbaring, waaroor hy dan in die aand gepraat het.

Niemand moet God se openbaring ignoreer voordat hy dié woorde noukeurig oorweeg het nie: *“Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis”* (Spr. 1:7). God noem in ons '*vandag*' dieselfde woorde as met Job: *“Staan stil en gee ag op die wonders van God”* (Job 37:14). Job het nie altyd verstaan hoe God optree nie, maar die Here het aan hom gesê: *“Wie maak die verlossingsplan* daar tot duisternis met woorde sonder kennis?”* (Job 38:2).

In ons eie woorde en opinies verduister ons God se verlossingsplan, maar Sy openbaring bring lig en duidelikheid aan Sy heerskappy. Nadat die Here God op so 'n duidelike manier met Job gepraat het, het hy uitgeroep: *“Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond. Een maal het ek gespreek, maar sal nie meer antwoord nie; ja, twee maal, maar ek sal nie voortgaan nie”*(Job 39: 37-38). Job het genade voor God gevind. Hy het sy hand op sy mond gelê en gesien dat sy toespraak nie duidelikheid gebring het nie. In hoofstuk 42, vers 3, het hy tot die gevolgtrekking gekom: *“So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie”* (Job). Hieruit moet ons leer om niks te oordeel nie. Mag ons genade voor God vind sodat Hy met ons kan praat deur Sy geopenbaarde woord.

Die vrees vir God moet in ons harte wees, sodat ons nie sondig teen Sy werk nie. Ons het die grootste voorreg van alle tye in hierdie geslag, om deel te wees van die finale werk van God.

Die Here het die profeet in die Ou Testament beveel: *“Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verby-gaan kan lees. Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie”*(Hab. 2: 2-3). Ons kan getuig dat die openbaring nie versuim het om te realiseer nie. Alle beloftes is ja en amen! God hou wat Hy belowe.

Laat ons nie vergeet dat geestelike dinge geestelik beoordeel moet word nie: *“Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge (regverdiglik); self egter word hy deur niemand (regverdig) beoordeel nie”* (IKor. 2:15). Wil ons almal aangegryp word deur hierdie geweldige openbaring van God in ons tyd, sodat wat geskrywe is, nie homself herhaal nie: *“En die Here, die God van hulle vaders, het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk en met sy woning gehad. Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die Here teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie”* (IIKron. 36: 15-16).


## Chapter navigation

- [Previous chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5954.md)
- [Book contents](https://nasa.misia.sk/books/1958.md)
- [Next chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5956.md)

## Available translations

- [Afrikaans](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5955.md)

## Source

- [Canonical HTML page](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5955)
- [Markdown representation](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5955.md)
