---
type: BookChapter
work_id: '546'
book_url: https://nasa.misia.sk/books/1958
book_markdown_url: https://nasa.misia.sk/books/1958.md
language: za
position: 48
canonical_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5958
markdown_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5958.md
markdown_source: converted
translations:
  za: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5958.md
---

# Die Werking van Openbaring

## Die Godheid

Die verborgenheid van die Godheid kan nie verstandelik deurgrond word nie, en ook nie in woorde verklaar word nie. God en God se Woord weerspreek mekaar nooit. Ons moet dus ook toelaat dat die volledige getuienis van die Bybel met ons praat t.o.v. die Godheid. Ons vind God se selfgetuienis in soveel skrifgedeeltes dat daar nie verskillende menings nodig is nie. Lees ons in die Ou en Nuwe Testamente oor die Skepper en Bewaarder, Verlosser, Koning ens., kom ons altyd dieselfde God teë.

In die hemel is Hy 'Vader'. Daarom bid ons: *“Onse Vader, wat in die hemele is ...”.* Dieselfde God het Homself op aarde in die Seun geopenbaar en is 'Immanuel' genoem, wat *'God met ons'* beteken. Die term “God-Elohim” in die Ou Testament is die “Vader” in die Nuwe Testament. Die “Here-Yahweh” in die Ou Testament is die 'Seun' in die nuwe. God is van nature Gees (Joh. 4:24). Niemand kon Hom as 'n Gees sien nie (Joh. 1:18).

In die Ou Testament het die onsigbare Gees in sigbare vorm as die “Here” verskyn. So het Hy in die tuin van Eden gewandel — in hierdie vorm het Hy Homself aan die profete geopenbaar en met hulle gepraat. Elkeen wie die Here op hierdie manier gesien het, het uitgeroep: *“Ons sal sekerlik sterwe, omdat ons God gesien het”* (Rig. 13:22). Daar word gesê dat Jakob met God geworstel het. Die Here het Homself geopenbaar aan hom in die vorm van 'n engel. In Hoséa 12: 4-6 word Hy die *“Here God van die leër-skare”* genoem.

Die hemelse Vader openbaar Homself in die Seun in die Nuwe Testament. Filippus wou dit goddelik begryp en vra toe die Verlosser: *“Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?”* (Joh. 14). Jesus sê aan ons vandag nog: *“... niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar”* (Luk. 10:22).

Slegs deur goddelike openbaring kan die verborgenheid van die Godheid aan ons bekend gemaak word. Nóg 'n profeet nóg 'n apostel het God of Sy Woord na eie reg verduidelik, deur God in drie persone te verdeel. Die term "drie-eenheid" of "drie-enige God" is nie in die Bybel nie. Niemand moet Genesis 1, vers 26, *“Laat ons mense maak …”,*misbruik nie — deur verskeie persone binne die Godheid te plaas nie. Predikers en Christene kan die vraag vra: “Wie waag dit om hierdie Skrif volgens hul eie interpretasie as 'n 'Drie-eenheid' aan te haal, as die Here, Sy profete en apostels dit nie gedoen het nie?”. Aan die begin van hierdie daarlegging het ons alreeds gedemonstreer dat Satan, die ou slang, nie die Woord van God glo nie, maar dat hy nog altyd besig was om dit vir die mense uit te lê. Sogenaamde verkondigers en leraars van die bybel, ignoreer die duidelike uitsprake van God in Sy Woord; glo en verkondig Satan se verkeerde interpretasies. Job 38: 4-7 vertel duidelik met wie God aan die begin gepraat het. Wanneer sal God se mense van die verkeerde konsepte ontslae raak en terugkeer na eenvoudige geloof in God? 'n Ware kind van God glo elke geskrewe Woord soos dit geskryf is, sonder om sy eie interpretasies by te voeg.

*“Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die Here God is; daar is geen ander buiten Hom nie”* (Deut. 4:35)

*“… daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die Here God is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie”* (Deut. 4:39)

*“... sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is — voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. Ek, Ek is die Here, en daar is geen Heiland buiten My nie.”* (Jes. 43:10).

*“Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie”* (Jes. 44:6)

*“...sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die Here, en daar is geen ander nie”* (Jes. 45:6).

*“En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees ...”* (ITim. 3:16).

*“En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!”* (Joh. 20:28)

*“… aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees — Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen”* (Rom. 9:5).

Of ons Hom bevind as 'n Vader, Seun of Heilige Gees: Hy is altyd dieselfde God wat ons teëkom in die verskeidenheid van Sy openbarings en optrede.


## Chapter navigation

- [Previous chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5957.md)
- [Book contents](https://nasa.misia.sk/books/1958.md)
- [Next chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5959.md)

## Available translations

- [Afrikaans](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5958.md)

## Source

- [Canonical HTML page](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5958)
- [Markdown representation](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5958.md)
