---
type: BookChapter
work_id: '109'
book_url: https://nasa.misia.sk/books/1960
book_markdown_url: https://nasa.misia.sk/books/1960.md
language: za
position: 20
canonical_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5978
markdown_url: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5978.md
markdown_source: converted
translations:
  za: https://nasa.misia.sk/book_chapters/5978.md
---

# Globale Inligting - Opklaring van Bo

## 'n Oortuigende vergelyking

Al die leringe en praktyke van die vroeë Gemeente kan uitgelê word, maar ons sal samevattend slegs nog sê, dat die ware leringe oor die Godheid, die doop, die nagmaal — basies alles wat geskryf is in die hele Verlossingsplan van God, aan ons vanuit die apostoliese tye nagelaat is. As ons hiermee 'n vergelyking maak tussen die Gemeente van Jesus Christus uit die vroeë Christendom en al die kerke wat deur die afgelope tweeduisend jaar tot stand gekom het, dan is dit eintlik net vir die een doel, om almal die weg na die begin, na die vroeë Gemeente en sy struktuur te wys. Verbind daaraan, is die gebed wat ons tot God maak, dat ons die genade van God op dieselfde manier kan ervaar as ons broeders en susters in die begin, want Jesus Christus is dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid. Amen.

Almal wat vertroud is met die kerkgeskiedenis, is bekend daarmee dat die eerste eeue verloop het sonder 'n universeel-georganiseerde kerk. Daar was aanvanklik net die plaaslike gemeentes. Maar so vroeg as die tweede eeu berig Irenaeus van 20, Hippolytus van 32 in die 3de eeu, Epiphanius noem in die 4de eeu reeds 60 verskillende geloofsrigtings en Biskop Philaster skryf van 'n totaal van 131 verskillende groepe. In die eerste eeue was daar geen kardinale nie, geen pouse nie en die biskoppe was nie hooggeplaastes nie — hulle was die leiers en ouderlinge in die plaaslike gemeentes. Hulle moes getroud wees (ITimothéüs 3). Na die laaste Christen-vervolging onder Diocletianus (240-313), het Kaiser Konstantyn die weg gebaan vir 'n universele Christelike kerk in die Romeinse Ryk. Eers later het ons te make met 'n staatsgodsdiens! met 'n opvolger vir Petrus! getiteld "Pontifex Maximus" vir die pouse!

In die jaar 380, verklaar Kaiser Theodosius I die Grote, die Drie-eenheid geloof, wat hoofsaaklik deur Tertullianus geformuleer was, as staats-godsdiens, wat alle burgers moes aanvaar het. In die jaar 382 het keiser Gratianus amptelik die Romeinse titel "Pontifex Maximus" neergelê, wat hy gedra het as hoof van die heidense priesterskolege. "Pontifex Maximus", as die hoogste brug-bouer, het selfs dan die taak gehad om brûe te bou, om volke en stamme bymekaar te bring. In die jaar 217 het die Romeinse biskop voorkeur geëis, maar net Leo I het in die jaar 441 geseëvier. Hy was die eerste om die woord wat aan Petrus in Mattheus 16 gerig was: "*Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee …",* uitsluitlik vir homself op te eis. Konstantyn het die politieke dogma in die jaar 312 gestig, waardeur die keiser nie net heerser van die staat was nie, maar ook “verteenwoordiger van Christus en here van die Kerk" was, soos die geval in die heidendom, dat in die regeerders beide magte verteenwoordig was. Hierdie siening is later deur die pouse aangeneem, deur hul aanspraak op geestelike en wêreldmag. Martin Luther het aangedring op die verdeling van die twee magte.

Daar was rade gehou, beginnende met die Raad van Nicea (325 nC), Wat bygewoon was deur sowat 300 afgevaardigdes van die verskillende kampe. Die siek biskop van Rome was nie teenwoordig nie. Hulle het spesifieke kwessies bespreek en geloofsbevindings geformuleer. Daar was een dogma na die ander, vanaf die dogma van pouslike onfeilbaarheid (1870) en die liggaamlike hemelvaart van Maria (1950). As geloof in 'n dogma noodsaaklk is vir redding, dan sal ons die apostels, selfs die Here moet aankla, dat hulle ons nie vertel het daarvan nie. *O God, hoe goed dat die Woord van die waarheid alles, absoluut alles is, wat U aan U Gemeente toegesê het, en dat slegs U Woord ‘n lig is vir ons voete!* Amen. Die Nuwe Testament is voltooi, dit is sedert die dood van die testateur wetlik bindend en durf nie verander word met byvoegings nie (Gal. 3:15). Wat is dan valse geloof, nagemaakte waarheid en wat stem met die oorspronklike ooreen? Dit is die kernvraag wat ons almal moet stel.

Die begrip "dogma" is afgelei van die Griekse "dokein", wat beteken "om te verskyn". Vir die kerkvaders het die een of die ander ding gelyk of dit reg was, maar wat vir kerkleiers "skynbaar" korrek gelyk het, was vêr van reg af gewees. God se Woord blyk nie korrek te wees nie, God se Woord is reg en waaragtig en bly tot in ewigheid! Amen.

Dit is nie ons taak, om die grootste en magtigste instelling op aarde af te druk nie. Dus ook nie die baie formele en nasionale kerke, wat elk hul eie tradisies en kenmerke het nie. Maar daar moet, ter wille van die waarheid, gevra word: Wat as die kerke, in lering en praktyke, nie ooreenstem met die Skrif nie? Wat baat dit die Rooms-Katolieke gelowiges, dat die Vatikaan sedert 1929, deur die Lateraanse Verdrag 'n kerkstaat is, wat met 175 nasies van die aarde diplomatieke betrekkinge het? Wat het dit te doen met die redding van ons siele? Wat baat die staatserkenning van al die Protestantse streeks-, lands- en staatskerke, as hulle nie almal erken word as die geestelikes van God nie? Die Kerk van Rome het meer as 'n miljard lede wêreldwyd, het meer as 'n miljoen geestelike manne en vroue, oor vier honderd duisend priesters en vier duisend vyf honderd biskoppe. Die ander kerke het ook hul miljoene volgelinge en hul geestelikes. Maar hoeveel van hulle het Jesus Christus as hul persoonlike Verlosser aangeneem en dus die sekerheid dat hulle aan die Gemeente van die lewende God behoort? Hier ontstaan ​​die vraag vir ons: Kan dit wees dat, uit die biljoene en miljoene, dit regtig net die "klein kuddetjie" behels, wat Jesus Christus van gepraat het, aan wie die Vader die koninkryk sal gee (Luk 12:32)? Dít is die Gemeente wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het: *"Ek sal my gemeente bou ..."*. Is die kerke van hierdie wêreld die koninkryk van God, wat volgens die woorde van Jesus, nie uit hierdie wêreld is nie (Joh. 18:36)?

Wanneer en waar het Jesus Christus die apostel Petrus as hoof van Sy Gemeente, of selfs as staatshoof aangestel? Die Here het gesê: *"Jy is Petros*('n klip)*en op hierdie rots*(Petra)*—*nie "op jou" nie*— sal Ek my gemeente bou ..."*, maar nie op die wankelmoedige man, aan wie die Here by dieselfde geleentheid, toe hy nie onder goddelike inspirasie gepraat het nie, gesê het: *"Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense"*(Matt. 16:23)! Christus self is tog die rots, die hoeksteen waarop die Gemeente gegrond is. Dit is die ware openbaring wat Petrus ontvang het! Die Verlosser self is die "Hoof van die Gemeente!"

Die pous se ambassadeurs in alle lande is nie ambassadeurs van Jesus Christus nie, maar dié van die Vatikaanstaat! Is die geestelikes in alle kerke werklik boodskappers van God? Is hulle apostels van Jesus Christus of dienaars van hul kerke? Verkondig hulle die Woord van God soos in die begin, of die leer van hul onderskeie denominasies? Het Christus al ooit 'n wêreldse aanspraak gemaak? Wou Hy 'n pouslike kerkstaat hê? of 'n volks- of staatskerk? Kon Petrus die eerste pous gewees het, alhoewel alle geskiedkundiges dit eens is dat hy nooit in Rome was nie?


## Chapter navigation

- [Previous chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5977.md)
- [Book contents](https://nasa.misia.sk/books/1960.md)
- [Next chapter](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5979.md)

## Available translations

- [Afrikaans](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5978.md)

## Source

- [Canonical HTML page](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5978)
- [Markdown representation](https://nasa.misia.sk/book_chapters/5978.md)
