Die Openbaring - 'n Boek met 7 Seëls?
AANHANGSEL - Die 70 jaarweke van Daniel en die huidige gebeurtenisse met Israel in die lig van bybelse profesie
Font Face
Line Height
Paragraph Gap
Font Size
Die belangstelling van baie bybelkenners aangaande die boek Daniël word verhoog deur die huidige gebeure in die Midde-Ooste. Sy visioen oor die 70 jaarweke is as basis veral geskik om bybelse profesieë, wat verband hou met die brandpunt van wêreldgebeure — Israel — beter te kan klassifiseer. Dit is nodig om die verlede en die hede in ag te neem; slegs op hierdie manier sal die toekoms dan ook verstaanbaar wees. Die boek Daniël is die 'apokalips' van die Ou Testament. Daarin word dit wat met Israel gebeur, tot aan die einde van hierdie beskawing, onthul.
Die profeet Daniël was destyds saam met sy volk in babiloniese ballingskap en het die geskrifte van die profeet Jeremia deursoek (Jer. 25:11; 29:10), om uitsluitsel oor die beëindiging van die sewentig-jarige onderdrukking te verkry (Dan. 9:2). Hy het toe vurig tot God gebid en voor die Here sy hart uitgestort. Die lang gebed van beroudoening en voorbidding is gevolg deur die antwoord van God, wat egter nie verwys het na die tye van ballingskap nie, maar na die toekomstige gebeure met Israel, tot en met die Messias en tot aan die einde van die laaste tydvak.
"By die begin van jou smekinge het 'n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is 'n besonder geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.
Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal ..."(hoofstuk 9: 23-24a).
Twee jaar later, met die toestemming van die Persiese koning, Kores, is die ballingskap beëindig met die gevolglike herbou van die tempel in Jerusalem (Esra 1: 1-3). Die stad met sy mure was eers omtrent 100 jaar later onder Nehemia herbou. Volgens die woorde van die engel Gabriël was dit die begin van die 70 jaarweke. Soos ons die dae en weke ken, gebruik die Here die term jaarweke.
Dit gaan oor die sesvoudige doel, soos dit in Daniël 9, vers 24b, uitgedruk word:
- "... om die goddeloosheid te voleindig en
- om die maat van die sondes vol te maak en
- om die ongeregtigheid te versoen en
- om ewige geregtigheid aan te bring en
- om die gesig en die profesie te beseël en
- om wat hoogheilig is, te salf".
"Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op die Gesalfde, (= die Messias), 'n Vors, is sewe jaarweke; en twee-en-sestig jaarweke lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.
En ná die twee-en-sestig jaarweke sal die Gesalfde (= die Messias) doodgemaak word, maar sonder regspraak vir Hom; en die volk van 'n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met 'n stormvloed wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.
En hy (die Antichris) sal een jaarweek lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die jaarweek sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word" (verse 25-27).
Die kenners van die profetiese woord en geskiedenis het die tydlyn van die besluit om Jerusalem te herbou (Neh. 2), tot en met Christus, die Messias, oortuigend uiteengesit. Die aangegewe tydperke van 7, 62 en 1 jaarweek, gaan oor Israel. Die tydperk van genade vir die nasies (Ps. 118:24; Jes. 49:8; IIKor. 6:2; Heb. 4:7) lê tussen die 69ste en die 70ste jaarweke.
Die lering dat Jesus Christus reeds die eerste helfte van die sewentigste jaarweek voltooi het, is nie bybels nie. Ons moet ook op hierdie punt baie duidelik afvra: wat sê die Skrif daaroor? Die Skrif sê, dat Daniel in die profesie slegs drie tydsbestekke aangee oor hierdie aangeleentheid: 7 en 62 en 1 jaarweek. Dit sê verder dat die Messias, die gesalfde, na 62 jaarweke, nie na 62 en een halwe jaarweek nie, gedood sal word. SO SPREEK DIE HERE in Sy Woord: "En na die twee-en-sestig jaarweke sal die Gesalfde doodgemaak word ..." (vers 26).
Daar is nie 'n enkele bybelgedeelte wat sê dat onse Here 'n verbond van sewe jaar gesluit het, drie-en-'n-half jaar gepreek het en dan die verbond verbreek het nie. Soos in Moses bepaal is, aangaande die manne wat by die tent van samekoms bedien het (Num. 4: 1-3), begin Hy ook Sy bediening as die Seun van die mens in Sy dertigste lewensjaar (Luk. 3:23).
Dieselfde vers kan nie op Christus en op die antichris van toepassing wees nie! Wanneer en met wie sou Christus sewe jare lank 'n verbond sluit en dan verbreek? Hoe kan die eerste drie-en-'n-half jaar op Hom van toepassing wees? Hy het geen verbond met Rome gehad, wat Hy kon verbreek het nie, en Hy het met Israel ook geen verbond verbreek nie, inteendeel: Hy het 'n Nuwe Verbond, deur die bloed van die verbond ingestel (Matt. 26: 26-28), en die Nuwe Verbond is nie 'n tydelike nie, maar 'n ewige verbond. Dit grens aan godslastering as 'n bybelgedeelte wat eintlik van die antichris praat, op Christus toegepas word.
Boonop het die Here ook geen slag– of spysoffers afgeskaf nie. Alles het in die tempel verloop soos gewoonlik, tot die jaar 70 nC. Dit wat in vers 27 gesê word, is nie van toepassing op Christus nie, maar alles heeltemal op die antichris. Honderde andersluidende aanhalings kan nie 'n enkele vers van die Woord van God vervang nie. Diegene wie van God is, stem eers saam met God en sien dán die regte verbinding. Al het die bediening van Jesus Christus drie of drie-en-'n-half jaar geduur, val hy in elk geval in die einde van die twee- en-sestig jaarweke. Dit is SO SPREEK DIE HERE in Sy Woord.
Israel sal drie-en-'n-half jaar as 'n tyd van genade beleef, waarin die twee profete in Jerusalem sal optree. "En Ek sal aan my twee getuies mag gee dat hulle, met sakke bekleed, een-duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer" (Openb. 11:3). Hulle het op daardie tydstip die woord van goddelike volmag. Tydens hulle bediening sal die tempel herbou word.
Die Jode verwag dat die Messias na die tempel sal kom, want so is daar geskrywe: "... dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare" (Mark. 3:1b). Volgens die Jode is die Messias 'n spesiale man, 'n prins (Eségiël 46) uit die geslag van David (IISamuel 7, o.a.). Daarom sal hulle val vir die teëstander wat by spesiale geleenthede soos 'n prins met sy heersers-septer oor die hele wêreld optree. Die Jode weet wat aan hulle belowe is met die oog op die Messias, naamlik dat Hy Sy septer vanaf Sion, dit wil sê, vanaf die Tempelberg te Jerusalem, sal oprig. "U magtige septer sal die Here uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande!"(Ps. 110:2).
Soos die Bybel dit duidelik stel, het die Messias geestelik 'n hemelse en menslik 'n aardse afkoms. In Matthéüs 1 en ook in Lukas 3 vind ons die aardse afkoms: "Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid …". In Johannes 1 leer ons van Sy hemelse oorsprong. Die Woord, wat God self was, het mens geword. In die Ou Testament vind ons dat albei afkomste aangekondig was en in die Nuwe vind ons die vervulling en bevestiging. Romeine 1, vers 3, sê van Christus: "wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid". In Romeine 9:5, word Sy aardse herkoms aan die aardsvaders en Sy hemelse aan God toegeskryf: "... uit wie die Christus is na die vlees — Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen". In IKorinthiërs 15:47 word vermeld dat die Messias "uit die hemel" is — die Here kom uit die hemel. Die Skrif in Maleagi noem Hom die Engel van die Verbond, soos ook Openbaring 10 duidelik bevestig (ook Hand. 7:38).
In Nehemia en Daniel is daar nie sprake van die bou van die tempel nie, maar van die heropbou van Jerusalem, met inbegrip van die mure en poorte. Hierdie dekreet, waaroor dit hier handel, en waarmee die tydsberekening begin, was in 445 vC deur Arthaxerxes gemaak. Van toe af, tot met die dood van die Messias, het 7 jaarweke (49 jare) en 62 jaarweke (434 jare) verloop, dus 'n totaal van 483 jaar. As ons in ag neem dat in bybelse profesie 'n jaar met 360 dae bereken word, kom ons eintlik tot die jaar van die kruisiging van ons Here. Dit beteken 7 en 62 vervul 69 jaarweke. Die begin van die laaste jaarweek sal min of meer saamval met die wegraping van die Bruidgemeente. Die nuwe geestelike begin vir Israel breek dan aan.
Nebukadnésar was die eerste wêreldheerser wat Israel onderdruk het. Die heidense magsuitoefening van die vier wêreldryke, het met hom begin (Daniël 2 & 7). Soos die eerste heerser 'n dierehart gekry het, so sal dit ook met die laaste een wees: "Laat sy hart anders word as dié van 'n mens en 'n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan" (Dan. 4:13). Daar word nog drie keer in dieselfde hoofstuk gesê dat dit sewe keer, dws, sewe jaar sou wees, waarin die eerste heerser 'n dier geword het. Dieselfde geld vir die laaste wêreldheerser ook: hy sal in die laaste sewe jare, in die sewentigste jaarweek, wanneer Satan neergewerp word (Openb. 12:9), deur hom in besit geneem word en sy 'stoel' van hom kry (Openb. 13:2) en soos 'n dier optree. In die eerste drie-en-'n-half jaar sal hy nie absolute wêreldmag kan uitoefen nie, want die twee profete beoefen dan hul bedieninge uit met goddelike volmag (Openbaring 11). Maar in die daaropvolgende drie-en-'n-half jaar sal hy dierlik-satanies word, naamlik gedurende die groot vervolgings– en verdrukkingstyd.
Volgens die getuienis van die Skrif bly daar nog een jaarweek oor: drie-en-'n-half jaar genadetyd vir Israel en drie-en-'n-half jaar van die Groot Verdrukking (Dan. 7:25-27; Openb. 13: 5-7); dit is vollig sewe jare. In dié laaste sewe jare, wat sal begin met die Wegraping van die Bruidgemeente uit die nasies, sal Rome — om meer presies te wees, die Vatikaan — met Israel, met die PBO en met al die Arabiese buurstate 'n allesomvattende 'vredesverdrag' sluit: "En hy (die antichris) sal een jaarweek lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die jaarweek sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word" (Dan. 9:27).
Afhangend van u bybelvertaling, word daar gesê dat die verbond met "baie" of met "die nasies" gesluit sal word. Die woord in die oorspronklike teks moes eintlik vertaal word as "verskeie", soos ander vertalings dit weergee, byvoorbeeld in Frans met "plusieurs": "Il fera une solid alliance avec plusieurs pour une semaine ...". Dit is 'n verbond — of 'n sewe-jaar lange verdrag wat eenparty met verskeie verdrags-vennote sluit. Dit sal nie 'n verdrag oor Israel wees nie, maar dit sal uitsluitlik na Jerusalem verwys.
'n Diplomatieke verdrag word gewoonlik tussen twee lande gesluit. Hierdie "vredesverdrag" betrek egter verskeie lande en godsdienste: Israel, die PBO, Jordanië en die aangrensende Arabiese state sal daarby betrokke wees. Hierdie aspek was tot dusver nog deur alle bybelleraars heeltemal misgekyk en geïgnoreer. Hulle sien net vir Rome en Israel, maar dit is eintlik 'n baie belangrike feit wat reg verstaan en beoordeel moet word, om die eindtyd-profesieë wat nou werklikheid word, reg te kan orden.
In Daniël 9 word "heilige stad", herhaaldelik beklemtoon, naas die term "die volk". In Israel en Jerusalem vind ons plekke wat heilig is aan Judaïsme, die Christendom én Islam. Die vestiging van diplomatieke betrekkinge tussen Israel en die Vatikaan, in 1994, was nodig vir verdere onderhandelinge oor Jerusalem. Die verbond volgens Daniël 9, vers 27, is dus nie 'n verdrag met een nie, maar met verskeie regerings; dit is nie bilateraal nie, maar multilateraal. Dit kan presies in die Daniël-teks gelees word. In hierdie kennis van die Skrif lê die sleutel — die openbaring — om die regte begrip te het van die onderhandelinge wat die verdrag tans in die Midde-Ooste en in die Vatikaanstad vooraf gaan.
Die uitruil van ambassadeurs met Israel toon duidelik die gewone staatskarakter van die Vatikaan, wat duidelik nie gaan oor die vooruitgespreekte verbondsluiting nie. Sulke erkenning is algemeen tussen die wêreldstate en het nie tydsbeperkinge nie. In die "sewejaarverdrag" sal dit nie gaan oor die gewone uitruil van ambassadeurs en vestiging van diplomatieke missies nie, maar daarin sal die regte en pligte van die drie wêreld-godsdienste in Jerusalem vasgelë en gereguleer word.
Tot vandag toe was Jerusalem net Israel se hoofstad, nooit die van enige ander volk nie. Vir die ander twee wêreld-godsdienste, Islam en die Christendom, was hierdie stad tot onlangs nog van ondergeskikte belang. Maar nou, vreemd genoeg, rig hulle al hoe meer hul aandag tot Jerusalem. Ongeag die pelgrimstogte na Mekka en Medina, Lourdes en Fatima, word al meer op Israel se hoofstad, Jerusalem, gekonsentreer.
Daar is net een persoon op aarde na wie die Jode, en ook die Moslems, opkyk met respek: dit is die pous, wie deur alle godsdienste as 'n sentrale figuur gerespekteer word. Sy verhouding met die PBO en die Arabiese wêreld is ook welbekend. Die Vatikaan sal dus 'n belangrike rol speel in die onderhandelinge, om Israel se wens om die tempel te bou, met die Arabiere se toegewing, by die verdrag te kan insluit. Hy gebruik daarvoor 'hoë diplomasie' van menseregte en die gelykheid van die drie monoteïstiese godsdienste. Dit alles sal gebeur sodat die Skrif vervul sal word.
As gevolg van die ooreenkoms in die "Jerusalem Verdrag", sal die pous dan met al sy prag en praal die voltooide tempel in Jerusalem besoek, soos twee-duisend jaar gelede vooruitgespreek was. "... sodat hy selfs in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is" (IIThes. 2:4b).
God het 'n mens in die Seun geword en die gedaante van 'n dienskneg aangeneem. Die "man van wetteloosheid" as die "seun van die verderf", verhef homself selfs tot 'n god wat onfeilbaarheid beweer en hulde ontvang. Eers val die Jode vir die valse 'Messias' wie hulle sal gebruik om te help met die verdrag oor Jerusalem. Tot op daardie oomblik hang die bedekking van Moses nog steeds oor die Jode. Daarna sal hy aan die Joodse mense met sy septer in die hand sy weergawe van die Christendom, naamlik Katolisisme, voorlê. Maar dan bars die 'tydbom' wanneer die Here Homself openbaar aan Sy eie, as die Engel van die Verbond (Openb. 10), en die teëstander slaan met die asem van Sy mond (Jes. 11:4; IIThes. 2). Die verdrag word dan verbreek en die twee profete, die geestelike leiers, word doodgemaak. Daarmee sal die eerste helfte van die laaste jaarweek verby wees, en sal die 3½ jaar van oordeels– en vervolgingstyd begin (Dan. 7:25b; Openb.13:5b).
In Daniël 12 word die vraag gevra hoe lank dit van daardie tyd af sal duur tot die einde van die wonderbaarlike dinge. Die eed wat in vers 7 afgelê word, dui duidelik op Openbaring 10, waar dit verklaar word dat daar geen vertraging— geen tydoponthoud, sal wees nie. Die antwoord in Daniël 12 lui: "Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die vloed van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: 'n Tyd, tye en 'n halwe tyd, en sodra die mag (van die vernietiger) van die heilige volk tot 'n einde gekom het, sal al hierdie dinge vervul word"(vers 7).
Soos die einde nader kom, word God baie presies in Sy Woord, tot by die bepaling van dae. Die bediening van die twee profete duur 1,260 dae (Openb. 11:3), dit is presies drie-en-'n-half jaar. Gedurende hierdie tyd sal die tempel gebou word. Dan is dit 'halftyd'. Na die oprigting en opgemeting sal die heilige stad en die voorhof vir twee-en-veertig maande lank vertrap word. Dit is presies drie-en-'n-half jaar: "... want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap" (Openb. 11:2).
"... en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is"(Luk. 21:24b).
Die tweede helfte sal twee verlengings ondervind: "En van die tyd af dat die daaglikse offer afgeskaf en die verwoestende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop" (Dan. 12:11), dit wil sê 30 dae langer, tot met die vasberade vernietiging van die verwoestende gruwel. Dan word 'n derde aantal dae aan ons genoem, naamlik 1,335 dae. Dit is duidelik dat nog 45 dae nodig is waarin die laaste gebeure soos bv. die oordeel van die nasies geskied (Jes. 2:4; Miga 4:3; Matt. 25:32; Openb. 11:18; Openb. 20:4, ens.); net dan kan die Koninklike Heerskappy begin. Die hele skepping wag met reikhalsende verlange om hierdie verganklikheid te ontsnap, waaronder dit sug om bevry te word (Rom. 8: 19-22). Alles moet in 'n heerlike toestand teruggestel word.
Met verwysing na die laaste tydsduur, is geskryf: "Welgeluksalig is hy wat (uithou) en duisend-driehonderd-vyf-en-dertig dae bereik!" (Dan. 12:12). Daarmee word beëindig dit wat moet gebeur in die laaste fase, tot met die oprigting van die duisendjarige Koninkryk. Welgeluksalig is hy wat tot aan die einde volhard, want die wat op die aarde agterbly, gaan dan die duisendjarige Koninkryk in. Die hele skepping sal weer maklik kan asemhaal en die hele wêreld sal weer in 'n paradys-toestand wees. Volgens die getuienis van die Heilige Skrif sal daar voor die aanbreek van duisendjarige Koninklike Heerskappy geen totale wêreld vernietiging wees nie, soos sommige mense verkeerdelik leer, maar slegs 'n suiwering en loutering deur vuur en 'n wonderlike nuwe begin waarna die hele skepping uitsien. Dan sal die wolf en die lam, die koei en die beer, ens, vreedsaam met mekaar wei (Jes. 11: 6-9, ens.), want Satan word dan gebind en in die afgrond gewerp (Openb. 20).
Aangaande die eindtydse godsdiens- en politieke gebeure, het die man van God, William Branham, in sy preek in Tifton, Georgia, VSA, op 19 Maart, 1962 —die hoogtepunt van die 'koue oorlog' en net enkele maande na die bou van die Berlynse muur, toe oosterse- en westerse tenks in Berlyn teenoor mekaar gestaan het — gesê: "Daar het 'n leringsreën uitgegaan. Daar was 'n nasionale leringsreën — kommunisme was in elke nasie onder die mense gesaai. Daar was 'n Romeinse herlewing. Weet u wat sal gebeur? Wanneer hulle … die oostelike deel van Berlyn teruggee? Dit plaas ... die Romeinse Ryk terug soos in die tyd van Jesus Christus. Dit sal gewis so gebeur. Presies".
Wêreldkommunisme bestaan nie meer nie, en is dus lank nie meer 'n bedreiging vir die Rooms-Katolieke Kerk nie. Inteendeel, die eens kommunistiese lande beleef 'n heel nuwe opswaai. Diegene wat die agtergronde ken, sal weet watter rol die Vatikaan met die ineenstorting van kommunisme gespeel het. Die "koue oorlog" is verby, die muur het verdwyn in Berlyn en na byna 50 jaar, het die laaste Russiese soldate Duitse bodem op 31 Augustus 1994, verlaat. Duitsland is verenig en Europa is in 'n eenwordingsproses vasgegryp. Op dieselfde tyd, kom wêreldkatolisisme na vore, en dit is hoe die Romeinse Ryk weer nuut voor ons oë tot stand kom.
Die Verdrag van Rome was op 25 Maart 1957 onderteken, en vorm die basis van die Europese Ekonomiese Gemeenskap. Hierdie verdrag kon in geen ander stad van die wêreld gesluit word nie. Wêreldpolitiek word gemaak in die wêreldhoofstad. Dit gaan oor die Romeinse Ryk, wat as die laaste wêreldryk tot aan die einde bly.
In die dae van Jesus was Israel onder die Romeinse bewind. Sedert 63 vC was die Joodse land deel van die Romeinse Ryk. Die koningskap van die Makkabeërs het aan 'n gewelddadige einde gekom. Ten tye van die geboorte van Jesus, het die Romeinse keiser Augustus, 'n volkstelling regdeur die Romeinse Ryk gelas, wat 'Judea' insluit het (Lukas 2). Paulus as 'n Jood, was gebore 'n Romeinse burger (Hand. 22: 25-29). Die Romeinse generaal Titus, wat Jerusalem beleër en verwoes het, was die goddelose prins van Daniël 9, ver 26b, deur wie die strafgerig oor die Jode gekom het (Matt. 24: 15-22; Mark. 13: 14-20; Luk. 21: 20-24). Dit is vreemd, maar waar: Israel is sedert 1964 deur 'n spesiale status met die Europese Unie geassosieer.
Op die paspoorte van die "Gemeenskap van Twaalf" word daar nie meer die eie land nie, maar "Europese Gemeenskap" eerste aangedui. Alreeds geld Europese reg vóór nasionale reg. Nasionale howe stuur sekere uitsprake vir hersiening en bevestiging aan die Europese Hof van Justisie in Luxemburg. Die Raad van Europa, die Europese Sentrale Bank, ja, die belangrikste instellings het al hul plekke gevind. Die Europese Unie is ook die basis vir die wêreldregering wat, tesame met die geestelike hoofstad van die wêreld, Rome, mag sal uitoefen. Die oorheersing van alle volke sal deur die politieke mag van Rome bereik word, en die vervolging van al die bybelsgelowige Christene en Jode sal deur die godsdienstige mag van Rome uitgeoefen word.
Die onderhandelinge tussen die Vatikaan, Israel, die PBO en die Arabiese state, word ondanks enkele probleme en terugslae, suksesvol voortgesit. Op 30 Desember, 1993, het die ondertekening van dokumente tussen die Vatikaan en Israel plaasgevind, en slegs 'n dag later, op 31 Desember, 1993, het dieselfde Vatikaanse afvaardiging onderhandel met die PBO. Ons kan aanvaar dat die vooruitgespreekte eskatologiese gebeure baie naby is en vinnig op mekaar sal volg. Keer op keer praat mense van 'historiese' betekenisse en doelstellinge van vrede en veiligheid in hierdie streek, van 'historiese' gebeure, 'historiese' verdrae, selfs ook van die 'historiese' handdruk in Castel Gandolfo tussen Johannes Paulus II en Meir Lau, die hoofrabbi van Jerusalem, op 21 September, 1993, asook van die 'handdruk' tussen Arafat en Rabin in Washington.
Volgens die Washington-ondertekende resolusie van die 13de September, 1993, moet onderhandelde ooreenkomste op die laatste binne drie jaar onderteken word oor die finale status van Jerusalem, wat dan oor twee jaar voltooi moet word. Reg na die ondertekening, het die wêreld-bekende Amerikaanse politikus en Jood-geborene, Henry Kissinger, in Fürth naby Neurenberg gesê: "Peres walked into a trap" — "Peres het in 'n lokval geloop". 'Peres' beteken volgens Genesis 38, vers 29, 'skeuring' en volgens Daniël 5, vers 28, 'verdeling'; so dus verdeel Peres dan hul eie land, sodat dit 'n skeuring veroorsaak. Van die 120 lede van die Israelse parlement, die Knesset, het 61 vir die ooreenkoms gestem. Een stem het dus die deurslag gegee.
Vanuit 'n bybelse perspektief is God se grense vir die Beloofde Land baie anders. Die twee-en-'n-half stamme van Ruben, Gad en Mannasse het hul gebiede aan die oostekant van die Jordaan gehad (Jos. 1: 12-15, o.a.). Om die goddelike orde dus geografies ook te herstel, sou Israel, in teenstelling, land moes bygevoeg het, i.p.v. terruggee. Dit sal sekerlik nog kom, en inderdaad deur goddelike ingryping!
Nie Gaza en ook nie Jerigo nie, nie die Wes-oewer nie en ook die Golanhoogte nie, maar Jerusalem sal tot met die laaste slag, 'n swaar klip vir al die volkere wees, wie hulself sekerlik daarteen sal seermaak (Sag. 12: 2-3). Deur die Gaza-Jerigo ooreenkoms het die volkere reg tot by die voordeur van Jerusalem gekom. Nou is alle nasies in die VN ten gunste van Arafat en dus teen Israel. Dit was hierdie man wat in 1974 sy infaseringsplan soos volg aangekondig het: "In die eerste fase bou ons strategiese brugpilare tussen Gaza en Jerigo, vanwaar ons Jerusalem sal kan verower, want hy wat Jerusalem het, het die hele Israel". Ses dae na die ondertekening van die ooreenkoms in Washington, naamlik op 19 September, 1993, het Arafat voor 19 ministers van buitelandse sake van die Arabiese Liga, in Kaïro, dieselfde plan herhaal. Hy het die ou-bekende lese uit die PBO-konstitusie voorgelees en eindig toe met die woorde: "Ons eind-doel is die vernietiging van Israel". Reeds in verskeie oorloë — en Arafat was daar vanaf die eerste in 1948 — wou hulle, soos hulle sê: "Israel in die see werp".
Die slagspreuk van die PBO is dus: eers Gaza en die Wes-oewer, dan Jerusalem en die hele Israel. Daarom het Arafat aangedring om op sy staatswapen-embleem die hele Israel, vanaf Eilat tot Jerusalem en Tel Aviv tot Haifa, te druk. Dit is volgens hom die staat Palestina, wat nooit eintlik waarlik bestaan het nie, maar wat nou veronderstel is om tot stand te kom. Die algemene naam Palestina kom van die Grieks-Romeinse meng-naam "Palaistine" en was op die Filistyne se land toegepas, wat vandag se Gazastrook is, niks meer nie. Die Arabiese state is 640 keer groter as Israel en kon hul Palestynse geloofs- en strydgenote maklik huisves.
Die Skrif sê nie dat daar ware vrede, deur politieke en godsdienstige onderhandelinge sal kom nie. Dit gee slegs uitdrukking aan wat nou gebeur: die mense praat van vrede en wil 'n 'grond vir vrede' kompromie onderhandel, in elke opsig, totdat daar 'n eintlike vredes- en sekuriteitsverdrag in daardie streek kom. Dit alles gebeur sodat die Skrif vervul sal word. Maar die waarskuwing bly: "Want wanneer hulle sê: Nou is daar vrede en veiligheid — dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie"(IThes. 5: 1-3).
Op 29 September, 1938, het Lord Chamberlain, die Britse premier, ná die ondertekening van die München-ooreenkoms met Hitler, aangekondig: "Peace in our days" — "Vrede in onse dae". Slegs enkele weke later, op 9 November, 1938, het die sinagoges in Hitler se Duitsland in vlamme gestaan: Daardie nag was 91 Jode deur die Nazi's vermoor, meer as 26,000 na konsentrasie-kampe gebring en ontelbare Joodse winkels verwoes. Op 13 September, 1993 was die gonswoord in Washington soortgelyk: "Peace in our time" ("Vrede in ons tyd"). Alhoewel die Israeliese premier Rabin in Washington die vrede deur die woord uit Prediker 3, vers 8, benadruk het: "... 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog en 'n tyd vir vrede", het die volk Israel en die stad Jerusalem nog baie slegte tye in die gesig gestaar, want God het dit in die Heilige Skrif laat vooruitspreek.
Wat die tyd van genade vir die nasies betref, gaan dit nog voort, totdat God genadiglik terugkeer na Israel. Hierdie tydperk word, betreffende Israel en ook die Gemeente, die profetiese "laaste dae" genoem (Hand. 2:17; Heb. 1:2, o.a.).
In sy tweede preek ná pinksterdag neem Petrus die belofte uit Deuteronomium 18, verse 15-18, en bewys dat Christus, die Messias, wie die profeet is van wie Moses vooruitgespreek het. "... En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word en ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig ..." (Hand 3: 22-24). Hierdie twee laaste dae kom stadig maar seker tot 'n einde.
Die profeet Hosea het die laaste dae met verwysing na Israel se verstrooiing ook genoem: "Kom en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.
Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe"(6: 1-2). Die twee dae wat hier genoem word, is die tweeduisend jaar, waarin die hele volk Israel verstrooi was, waarin hulle aan die einde van hierdie dae weer versamel word, soos wat baie bybel-gedeeltes getuig en ons in ons tyd gesien het.
Die samekoms na twee dae beteken nie dat hulle die lewe van God ontvang nie. Dit gebeur eers wanneer hulle hul Messias erken, in wie alleen daar vir alle mense redding en die ewige lewe is. Slegs in Jesus Christus het God Homself persoonlik aan die mensdom tot hul saligheid geopenbaar. Met die oog op Israel word gesê: "... op die derde dag ons laat opstaan ...". Ná onse tyd van genade, in die tyd van genade wat vir húlle sal aanbreek, wat eers in die Dag van die Here val, sal hulle die lewe van God ontvang.
"Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?" (Rom. 11:15).
Tot dan sal die sluier van Moses nog oor hulle lê, ten spyte van hul samekoms en die nasionale gewaarwording. Dit is wat Paulus in sy brief aan die Korintiërs sê: "Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar 'n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem"(IIKor. 3:15).
Die goddelike verlossingsplan verloop presies soos dit van ewigheid af vervat is. Ons bevind ons eintlik in die middel van die vervulling en verwesenliking van bybelse eindtyd-profesie. Enige oomblik kan dit gebeur dat die tyd van genade vir die nasies tot 'n einde kom, dat die voltooiing van die Bruidgemeente bereik word en hulle heengaan plaasvind. Dan gee God 'n geestelike nuwe begin aan Israel, die verbond met die antichris word gesluit en die tempel word gebou.
Die volgende feit wys met hoeveel verwagting die Jode uitsien na die verwesenliking van hul verlange: Onder die beskerming van Israel se Minister van Godsdiens en die rabbiniete, is daar al 93 voltooide tempel-voorbereidings. Dit kan besigtig word in Misgav Ladachstraat 24, Jerusalem. Volgende is die 1,8m hoë kandelaar, wat volgens Exodus 25, verse 31-40, uit 'n enkele 43kg-swaar stuk goud gemaak sal word. Die enigste uitsondering is slegs die Ark, omdat die skrifgeleerde Jode glo dat dit nie soos die ander tempeltoerusting gebuit was nie, maar eerder ongedeerd in 'n vertrek onder die puin van die tempel is.
Die gelowige Jode praat alhoe meer openlik uit oor dit wat hulle in die onmiddelike toekoms verwag. Hulle is daarvan oortuig dat God met die ontstaan en stigting van die staat Israel, in Mei 1948, Sy volk weereens in die oorspronklike ritme van die jubeljaar geplaas het. Hulle glo dat 'n jubeljaar weer na 49 jaar uitgeroep sal word, net soos Moses dit destyds, volgens Levitikus hoofstuk 25, verse 8-13, vir Israel verordineer het. Volgens hul berekening, sal dit in 1998 wees. Ons kan en ons moet nie die gebeure wat nog uitstaande is, vir 'n spesifieke jaar bereken nie. Maar, dit moet ons laat besef dat die verwerkliking daarvan onafwendbaar is. Die terugkeer van die volk Israel na die Belofte Land moes noodwendigerwys alles in ag neem wat vir hulle bedoel was. Vir die Gemeente is dit dan ook die hoogste alarm-seine. Voordat God se verlossingsgebeure met Israel begin, moet Sy reddingsplan met die Gemeente van die nasies voltooi wees. Alles wat vooruitgespreek was, is nou binne bereik en des te meer die terugkeer van die hemelse Bruidegom om die aardse Bruid heimlik huistoe te neem.
Omdat ons dit alles glo, sien en korrek kan plaas, moet ons ons koppe omhoog lig, want ons weet — ons vermoed nie, ons weet — dat op grond van die gebeure wat volgens bybelse profesie alreeds plaasgevind het, die Wederkoms van onse Here nou baie naby is. Dus is daarmee ook die verlossing van hierdie liggaam, en die wegneem van hulle wat aan die Bruidgemeente behoort, werklik op hande.
Niemand ken egter die tyd en uur nie; dit is nie nodig nie; ons moet ons redding met vrees en bewing uitwerk en in alle dinge nugter bly. Dit wil sê, ons moet soos normaal bly leef en beplan asof daar nog 'n hele lewe voor ons lê. Wie 'n huis wil bou, bou gerus. Enigiemand wat wil voortbou op hul beroep, doen dit. Wie wil trou, trou gerus, ens. Wat ons ook al op aarde wil doen, moet ons uitvoer, maar met alles in ag geneem, moet ons verseker dat ons altyd gereed is en in die wil van God gevind word.
Die toestand waarin die individuele kinders van God en die Gemeente huidiglik is, sal nie tot aan die einde duur nie. God sal nog groter dinge onder Sy volk doen. Sy belofte is dat die hemel en aarde nog een maal sal bewe (Heb. 12: 26-28). God het die vroeë– en laat reën belowe (Joël 2:23), en sal dit gee in die tyd van die oes (Jak. 5:7). Soos die Gees van God aan die begin was, so ook sal dit aan die einde van die tyd van genade, soos ‘n magtige vloed op droë grond wees (Jes. 44:3). Ons kan op 'n kort en magtige geesteswerking reken, wat in die opstanding, verandering en Wegraping sal uitvloei. Die afsluiting sal 'n kragtige belewenis en herlewing binne die Bruidgemeente bring. In daardie kort tydjie sal buitengewone dinge gebeur, wat almal sal verbaas en sal versterk in hul geloof. Dan sal druk uitgeoefen word op die werklike gelowiges en die oproep van diegene wat gereed is, sal weerklink, "Ja kom, Here Jesus!". Uiteindelik sal die Gees en die Bruid sê: "Kom!". Die laaste ding wat sal weerklink, is: "Ja, kom, Here Jesus! Amen".
Die belangstelling van baie bybelkenners aangaande die boek Daniël word verhoog deur die huidige gebeure in die Midde-Ooste. Sy visioen oor die 70 jaarweke is as basis veral geskik om bybelse profesieë, wat verband hou met die brandpunt van wêreldgebeure — Israel — beter te kan klassifiseer. Dit is nodig om die verlede en die hede in ag te neem; slegs op hierdie manier sal die toekoms dan ook verstaanbaar wees. Die boek Daniël is die 'apokalips' van die Ou Testament. Daarin word dit wat met Israel gebeur, tot aan die einde van hierdie beskawing, onthul.
Die profeet Daniël was destyds saam met sy volk in babiloniese ballingskap en het die geskrifte van die profeet Jeremia deursoek (Jer. 25:11; 29:10), om uitsluitsel oor die beëindiging van die sewentig-jarige onderdrukking te verkry (Dan. 9:2). Hy het toe vurig tot God gebid en voor die Here sy hart uitgestort. Die lang gebed van beroudoening en voorbidding is gevolg deur die antwoord van God, wat egter nie verwys het na die tye van ballingskap nie, maar na die toekomstige gebeure met Israel, tot en met die Messias en tot aan die einde van die laaste tydvak.
"By die begin van jou smekinge het 'n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is 'n besonder geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.
Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal ..." (hoofstuk 9: 23-24a).
Twee jaar later, met die toestemming van die Persiese koning, Kores, is die ballingskap beëindig met die gevolglike herbou van die tempel in Jerusalem (Esra 1: 1-3). Die stad met sy mure was eers omtrent 100 jaar later onder Nehemia herbou. Volgens die woorde van die engel Gabriël was dit die begin van die 70 jaarweke. Soos ons die dae en weke ken, gebruik die Here die term jaarweke.
Dit gaan oor die sesvoudige doel, soos dit in Daniël 9, vers 24b, uitgedruk word:
- "... om die goddeloosheid te voleindig en
- om die maat van die sondes vol te maak en
- om die ongeregtigheid te versoen en
- om ewige geregtigheid aan te bring en
- om die gesig en die profesie te beseël en
- omwat hoogheilig is, te salf".
"Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op die Gesalfde, (= die Messias), 'n Vors, is sewe jaarweke; en twee-en-sestig jaarweke lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.
En ná die twee-en-sestig jaarweke sal die Gesalfde (= die Messias) doodgemaak word, maar sonder regspraak vir Hom; en die volk van 'n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met 'n stormvloed wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.
En hy (die Antichris) sal een jaarweek lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die jaarweek sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word" (verse 25-27).
Die kenners van die profetiese woord en geskiedenis het die tydlyn van die besluit om Jerusalem te herbou (Neh. 2), tot en met Christus, die Messias, oortuigend uiteengesit. Die aangegewe tydperke van 7, 62 en 1 jaarweek, gaan oor Israel. Die tydperk van genade vir die nasies (Ps. 118:24; Jes. 49:8; IIKor. 6:2; Heb. 4:7) lê tussen die 69ste en die 70ste jaarweke.
Die lering dat Jesus Christus reeds die eerste helfte van die sewentigste jaarweek voltooi het, is nie bybels nie. Ons moet ook op hierdie punt baie duidelik afvra: wat sê die Skrif daaroor? Die Skrif sê, dat Daniel in die profesie slegs drie tydsbestekke aangee oor hierdie aangeleentheid: 7 en 62 en 1 jaarweek. Dit sê verder dat die Messias, die gesalfde, na 62 jaarweke, nie na 62 en een halwe jaarweek nie, gedood sal word. SO SPREEK DIE HERE in Sy Woord: "En na die twee-en-sestig jaarweke sal die Gesalfde doodgemaak word ..." (vers 26).
Daar is nie 'n enkele bybelgedeelte wat sê dat onse Here 'n verbond van sewe jaar gesluit het, drie-en-'n-half jaar gepreek het en dan die verbond verbreek het nie. Soos in Moses bepaal is, aangaande die manne wat by die tent van samekoms bedien het (Num. 4: 1-3), begin Hy ook Sy bediening as die Seun van die mens in Sy dertigste lewensjaar (Luk. 3:23).
Dieselfde vers kan nie op Christus en op die antichris van toepassing wees nie! Wanneer en met wie sou Christus sewe jare lank 'n verbond sluit en dan verbreek? Hoe kan die eerste drie-en-'n-half jaar op Hom van toepassing wees? Hy het geen verbond met Rome gehad, wat Hy kon verbreek het nie, en Hy het met Israel ook geen verbond verbreek nie, inteendeel: Hy het 'n Nuwe Verbond, deur die bloed van die verbond ingestel (Matt. 26: 26-28), en die Nuwe Verbond is nie 'n tydelike nie, maar 'n ewige verbond. Dit grens aan godslastering as 'n bybelgedeelte wat eintlik van die antichris praat, op Christus toegepas word.
Boonop het die Here ook geen slag– of spysoffers afgeskaf nie. Alles het in die tempel verloop soos gewoonlik, tot die jaar 70 nC. Dit wat in vers 27 gesê word, is nie van toepassing op Christus nie, maar alles heeltemal op die antichris. Honderde andersluidende aanhalings kan nie 'n enkele vers van die Woord van God vervang nie. Diegene wie van God is, stem eers saam met God en sien dán die regte verbinding. Al het die bediening van Jesus Christus drie of drie-en-'n-half jaar geduur, val hy in elk geval in die einde van die twee- en-sestig jaarweke. Dit is SO SPREEK DIE HERE in Sy Woord.
Israel sal drie-en-'n-half jaar as 'n tyd van genade beleef, waarin die twee profete in Jerusalem sal optree. "En Ek sal aan my twee getuies mag gee dat hulle, met sakke bekleed, een-duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer" (Openb. 11:3). Hulle het op daardie tydstip die woord van goddelike volmag. Tydens hulle bediening sal die tempel herbou word.
Die Jode verwag dat die Messias na die tempel sal kom, want so is daar geskrywe: "... dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare" (Mark. 3:1b). Volgens die Jode is die Messias 'n spesiale man, 'n prins (Eségiël 46) uit die geslag van David (IISamuel 7, o.a.). Daarom sal hulle val vir die teëstander wat by spesiale geleenthede soos 'n prins met sy heersers-septer oor die hele wêreld optree. Die Jode weet wat aan hulle belowe is met die oog op die Messias, naamlik dat Hy Sy septer vanaf Sion, dit wil sê, vanaf die Tempelberg te Jerusalem, sal oprig. "U magtige septer sal die Here uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande!" (Ps. 110:2).
Soos die Bybel dit duidelik stel, het die Messias geestelik 'n hemelse en menslik 'n aardse afkoms. In Matthéüs 1 en ook in Lukas 3 vind ons die aardse afkoms: "Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid …". In Johannes 1 leer ons van Sy hemelse oorsprong. Die Woord, wat God self was, het mens geword. In die Ou Testament vind ons dat albei afkomste aangekondig was en in die Nuwe vind ons die vervulling en bevestiging. Romeine 1, vers 3, sê van Christus: "wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid". In Romeine 9:5, word Sy aardse herkoms aan die aardsvaders en Sy hemelse aan God toegeskryf: "... uit wie die Christus is na die vlees — Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen". In IKorinthiërs 15:47 word vermeld dat die Messias "uit die hemel" is — die Here kom uit die hemel. Die Skrif in Maleagi noem Hom die Engel van die Verbond, soos ook Openbaring 10 duidelik bevestig (ook Hand. 7:38).
In Nehemia en Daniel is daar nie sprake van die bou van die tempel nie, maar van die heropbou van Jerusalem, met inbegrip van die mure en poorte. Hierdie dekreet, waaroor dit hier handel, en waarmee die tydsberekening begin, was in 445 vC deur Arthaxerxes gemaak. Van toe af, tot met die dood van die Messias, het 7 jaarweke (49 jare) en 62 jaarweke (434 jare) verloop, dus 'n totaal van 483 jaar. As ons in ag neem dat in bybelse profesie 'n jaar met 360 dae bereken word, kom ons eintlik tot die jaar van die kruisiging van ons Here. Dit beteken 7 en 62 vervul 69 jaarweke. Die begin van die laaste jaarweek sal min of meer saamval met die wegraping van die Bruidgemeente. Die nuwe geestelike begin vir Israel breek dan aan.
Nebukadnésar was die eerste wêreldheerser wat Israel onderdruk het. Die heidense magsuitoefening van die vier wêreldryke, het met hom begin (Daniël 2 & 7). Soos die eerste heerser 'n dierehart gekry het, so sal dit ook met die laaste een wees: "Laat sy hart anders word as dié van 'n mens en 'n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan" (Dan. 4:13). Daar word nog drie keer in dieselfde hoofstuk gesê dat dit sewe keer, dws, sewe jaar sou wees, waarin die eerste heerser 'n dier geword het. Dieselfde geld vir die laaste wêreldheerser ook: hy sal in die laaste sewe jare, in die sewentigste jaarweek, wanneer Satan neergewerp word (Openb. 12:9), deur hom in besit geneem word en sy 'stoel' van hom kry (Openb. 13:2) en soos 'n dier optree. In die eerste drie-en-'n-half jaar sal hy nie absolute wêreldmag kan uitoefen nie, want die twee profete beoefen dan hul bedieninge uit met goddelike volmag (Openbaring 11). Maar in die daaropvolgende drie-en-'n-half jaar sal hy dierlik-satanies word, naamlik gedurende die groot vervolgings– en verdrukkingstyd.
Volgens die getuienis van die Skrif bly daar nog een jaarweek oor: drie-en-'n-half jaar genadetyd vir Israel en drie-en-'n-half jaar van die Groot Verdrukking (Dan. 7:25-27; Openb. 13: 5-7); dit is vollig sewe jare. In dié laaste sewe jare, wat sal begin met die Wegraping van die Bruidgemeente uit die nasies, sal Rome — om meer presies te wees, die Vatikaan — met Israel, met die PBO en met al die Arabiese buurstate 'n allesomvattende 'vredesverdrag' sluit: "En hy (die antichris) sal een jaarweek lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die jaarweek sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word" (Dan. 9:27).
Afhangend van u bybelvertaling, word daar gesê dat die verbond met "baie" of met "die nasies" gesluit sal word. Die woord in die oorspronklike teks moes eintlik vertaal word as "verskeie", soos ander vertalings dit weergee, byvoorbeeld in Frans met "plusieurs": "Il fera une solid alliance avec plusieurs pour une semaine ...". Dit is 'n verbond — of 'n sewe-jaar lange verdrag wat een party met verskeie verdrags-vennote sluit. Dit sal nie 'n verdrag oor Israel wees nie, maar dit sal uitsluitlik na Jerusalem verwys.
'n Diplomatieke verdrag word gewoonlik tussen twee lande gesluit. Hierdie "vredesverdrag" betrek egter verskeie lande en godsdienste: Israel, die PBO, Jordanië en die aangrensende Arabiese state sal daarby betrokke wees. Hierdie aspek was tot dusver nog deur alle bybelleraars heeltemal misgekyk en geïgnoreer. Hulle sien net vir Rome en Israel, maar dit is eintlik 'n baie belangrike feit wat reg verstaan en beoordeel moet word, om die eindtyd-profesieë wat nou werklikheid word, reg te kan orden.
In Daniël 9 word "heilige stad", herhaaldelik beklemtoon, naas die term "die volk". In Israel en Jerusalem vind ons plekke wat heilig is aan Judaïsme, die Christendom én Islam. Die vestiging van diplomatieke betrekkinge tussen Israel en die Vatikaan, in 1994, was nodig vir verdere onderhandelinge oor Jerusalem. Die verbond volgens Daniël 9, vers 27, is dus nie 'n verdrag met een nie, maar met verskeie regerings; dit is nie bilateraal nie, maar multilateraal. Dit kan presies in die Daniël-teks gelees word. In hierdie kennis van die Skrif lê die sleutel — die openbaring — om die regte begrip te het van die onderhandelinge wat die verdrag tans in die Midde-Ooste en in die Vatikaanstad vooraf gaan.
Die uitruil van ambassadeurs met Israel toon duidelik die gewone staatskarakter van die Vatikaan, wat duidelik nie gaan oor die vooruitgespreekte verbondsluiting nie. Sulke erkenning is algemeen tussen die wêreldstate en het nie tydsbeperkinge nie. In die "sewejaarverdrag" sal dit nie gaan oor die gewone uitruil van ambassadeurs en vestiging van diplomatieke missies nie, maar daarin sal die regte en pligte van die drie wêreld-godsdienste in Jerusalem vasgelë en gereguleer word.
Tot vandag toe was Jerusalem net Israel se hoofstad, nooit die van enige ander volk nie. Vir die ander twee wêreld-godsdienste, Islam en die Christendom, was hierdie stad tot onlangs nog van ondergeskikte belang. Maar nou, vreemd genoeg, rig hulle al hoe meer hul aandag tot Jerusalem. Ongeag die pelgrimstogte na Mekka en Medina, Lourdes en Fatima, word al meer op Israel se hoofstad, Jerusalem, gekonsentreer.
Daar is net een persoon op aarde na wie die Jode, en ook die Moslems, opkyk met respek: dit is die pous, wie deur alle godsdienste as 'n sentrale figuur gerespekteer word. Sy verhouding met die PBO en die Arabiese wêreld is ook welbekend. Die Vatikaan sal dus 'n belangrike rol speel in die onderhandelinge, om Israel se wens om die tempel te bou, met die Arabiere se toegewing, by die verdrag te kan insluit. Hy gebruik daarvoor 'hoë diplomasie' van menseregte en die gelykheid van die drie monoteïstiese godsdienste. Dit alles sal gebeur sodat die Skrif vervul sal word.
As gevolg van die ooreenkoms in die "Jerusalem Verdrag", sal die pous dan met al sy prag en praal die voltooide tempel in Jerusalem besoek, soos twee-duisend jaar gelede vooruitgespreek was. "... sodat hy selfs in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is" (IIThes. 2:4b).
God het 'n mens in die Seun geword en die gedaante van 'n dienskneg aangeneem. Die "man van wetteloosheid" as die "seun van die verderf", verhef homself selfs tot 'n god wat onfeilbaarheid beweer en hulde ontvang. Eers val die Jode vir die valse 'Messias' wie hulle sal gebruik om te help met die verdrag oor Jerusalem. Tot op daardie oomblik hang die bedekking van Moses nog steeds oor die Jode. Daarna sal hy aan die Joodse mense met sy septer in die hand sy weergawe van die Christendom, naamlik Katolisisme, voorlê. Maar dan bars die 'tydbom' wanneer die Here Homself openbaar aan Sy eie, as die Engel van die Verbond (Openb. 10), en die teëstander slaan met die asem van Sy mond (Jes. 11:4; IIThes. 2). Die verdrag word dan verbreek en die twee profete, die geestelike leiers, word doodgemaak. Daarmee sal die eerste helfte van die laaste jaarweek verby wees, en sal die 3½ jaar van oordeels– en vervolgingstyd begin (Dan. 7:25b; Openb.13:5b).
In Daniël 12 word die vraag gevra hoe lank dit van daardie tyd af sal duur tot die einde van die wonderbaarlike dinge. Die eed wat in vers 7 afgelê word, dui duidelik op Openbaring 10, waar dit verklaar word dat daar geen vertraging— geen tydoponthoud, sal wees nie. Die antwoord in Daniël 12 lui: "Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die vloed van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: 'n Tyd, tye en 'n halwe tyd, en sodra die mag (van die vernietiger) van die heilige volk tot 'n einde gekom het, sal al hierdie dinge vervul word" (vers 7).
Soos die einde nader kom, word God baie presies in Sy Woord, tot by die bepaling van dae. Die bediening van die twee profete duur 1,260 dae (Openb. 11:3), dit is presies drie-en-'n-half jaar. Gedurende hierdie tyd sal die tempel gebou word. Dan is dit 'halftyd'. Na die oprigting en opgemeting sal die heilige stad en die voorhof vir twee-en-veertig maande lank vertrap word. Dit is presies drie-en-'n-half jaar: "... want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap" (Openb. 11:2).
"... en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is" (Luk. 21:24b).
Die tweede helfte sal twee verlengings ondervind: "En van die tyd af dat die daaglikse offer afgeskaf en die verwoestende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop" (Dan. 12:11), dit wil sê 30 dae langer, tot met die vasberade vernietiging van die verwoestende gruwel. Dan word 'n derde aantal dae aan ons genoem, naamlik 1,335 dae. Dit is duidelik dat nog 45 dae nodig is waarin die laaste gebeure soos bv. die oordeel van die nasies geskied (Jes. 2:4; Miga 4:3; Matt. 25:32; Openb. 11:18; Openb. 20:4, ens.); net dan kan die Koninklike Heerskappy begin. Die hele skepping wag met reikhalsende verlange om hierdie verganklikheid te ontsnap, waaronder dit sug om bevry te word (Rom. 8: 19-22). Alles moet in 'n heerlike toestand teruggestel word.
Met verwysing na die laaste tydsduur, is geskryf: "Welgeluksalig is hy wat (uithou) en duisend-driehonderd-vyf-en-dertig dae bereik!" (Dan. 12:12). Daarmee word beëindig dit wat moet gebeur in die laaste fase, tot met die oprigting van die duisendjarige Koninkryk. Welgeluksalig is hy wat tot aan die einde volhard, want die wat op die aarde agterbly, gaan dan die duisendjarige Koninkryk in. Die hele skepping sal weer maklik kan asemhaal en die hele wêreld sal weer in 'n paradys-toestand wees. Volgens die getuienis van die Heilige Skrif sal daar voor die aanbreek van duisendjarige Koninklike Heerskappy geen totale wêreld vernietiging wees nie, soos sommige mense verkeerdelik leer, maar slegs 'n suiwering en loutering deur vuur en 'n wonderlike nuwe begin waarna die hele skepping uitsien. Dan sal die wolf en die lam, die koei en die beer, ens, vreedsaam met mekaar wei (Jes. 11: 6-9, ens.), want Satan word dan gebind en in die afgrond gewerp (Openb. 20).
Aangaande die eindtydse godsdiens- en politieke gebeure, het die man van God, William Branham, in sy preek in Tifton, Georgia, VSA, op 19 Maart, 1962 —die hoogtepunt van die 'koue oorlog' en net enkele maande na die bou van die Berlynse muur, toe oosterse- en westerse tenks in Berlyn teenoor mekaar gestaan het — gesê: "Daar het 'n leringsreën uitgegaan. Daar was 'n nasionale leringsreën — kommunisme was in elke nasie onder die mense gesaai. Daar was 'n Romeinse herlewing. Weet u wat sal gebeur? Wanneer hulle … die oostelike deel van Berlyn teruggee? Dit plaas ... die Romeinse Ryk terug soos in die tyd van Jesus Christus. Dit sal gewis so gebeur. Presies".
Wêreldkommunisme bestaan nie meer nie, en is dus lank nie meer 'n bedreiging vir die Rooms-Katolieke Kerk nie. Inteendeel, die eens kommunistiese lande beleef 'n heel nuwe opswaai. Diegene wat die agtergronde ken, sal weet watter rol die Vatikaan met die ineenstorting van kommunisme gespeel het. Die "koue oorlog" is verby, die muur het verdwyn in Berlyn en na byna 50 jaar, het die laaste Russiese soldate Duitse bodem op 31 Augustus 1994, verlaat. Duitsland is verenig en Europa is in 'n eenwordingsproses vasgegryp. Op dieselfde tyd, kom wêreldkatolisisme na vore, en dit is hoe die Romeinse Ryk weer nuut voor ons oë tot stand kom.
Die Verdrag van Rome was op 25 Maart 1957 onderteken, en vorm die basis van die Europese Ekonomiese Gemeenskap. Hierdie verdrag kon in geen ander stad van die wêreld gesluit word nie. Wêreldpolitiek word gemaak in die wêreldhoofstad. Dit gaan oor die Romeinse Ryk, wat as die laaste wêreldryk tot aan die einde bly.
In die dae van Jesus was Israel onder die Romeinse bewind. Sedert 63 vC was die Joodse land deel van die Romeinse Ryk. Die koningskap van die Makkabeërs het aan 'n gewelddadige einde gekom. Ten tye van die geboorte van Jesus, het die Romeinse keiser Augustus, 'n volkstelling regdeur die Romeinse Ryk gelas, wat 'Judea' insluit het (Lukas 2). Paulus as 'n Jood, was gebore 'n Romeinse burger (Hand. 22: 25-29). Die Romeinse generaal Titus, wat Jerusalem beleër en verwoes het, was die goddelose prins van Daniël 9, ver 26b, deur wie die strafgerig oor die Jode gekom het (Matt. 24: 15-22; Mark. 13: 14-20; Luk. 21: 20-24). Dit is vreemd, maar waar: Israel is sedert 1964 deur 'n spesiale status met die Europese Unie geassosieer.
Op die paspoorte van die "Gemeenskap van Twaalf" word daar nie meer die eie land nie, maar "Europese Gemeenskap" eerste aangedui. Alreeds geld Europese reg vóór nasionale reg. Nasionale howe stuur sekere uitsprake vir hersiening en bevestiging aan die Europese Hof van Justisie in Luxemburg. Die Raad van Europa, die Europese Sentrale Bank, ja, die belangrikste instellings het al hul plekke gevind. Die Europese Unie is ook die basis vir die wêreldregering wat, tesame met die geestelike hoofstad van die wêreld, Rome, mag sal uitoefen. Die oorheersing van alle volke sal deur die politieke mag van Rome bereik word, en die vervolging van al die bybelsgelowige Christene en Jode sal deur die godsdienstige mag van Rome uitgeoefen word.
Die onderhandelinge tussen die Vatikaan, Israel, die PBO en die Arabiese state, word ondanks enkele probleme en terugslae, suksesvol voortgesit. Op 30 Desember, 1993, het die ondertekening van dokumente tussen die Vatikaan en Israel plaasgevind, en slegs 'n dag later, op 31 Desember, 1993, het dieselfde Vatikaanse afvaardiging onderhandel met die PBO. Ons kan aanvaar dat die vooruitgespreekte eskatologiese gebeure baie naby is en vinnig op mekaar sal volg. Keer op keer praat mense van 'historiese' betekenisse en doelstellinge van vrede en veiligheid in hierdie streek, van 'historiese' gebeure, 'historiese' verdrae, selfs ook van die 'historiese' handdruk in Castel Gandolfo tussen Johannes Paulus II en Meir Lau, die hoofrabbi van Jerusalem, op 21 September, 1993, asook van die 'handdruk' tussen Arafat en Rabin in Washington.
Volgens die Washington-ondertekende resolusie van die 13de September, 1993, moet onderhandelde ooreenkomste op die laatste binne drie jaar onderteken word oor die finale status van Jerusalem, wat dan oor twee jaar voltooi moet word. Reg na die ondertekening, het die wêreld-bekende Amerikaanse politikus en Jood-geborene, Henry Kissinger, in Fürth naby Neurenberg gesê: "Peres walked into a trap" — "Peres het in 'n lokval geloop". 'Peres' beteken volgens Genesis 38, vers 29, 'skeuring' en volgens Daniël 5, vers 28, 'verdeling'; so dus verdeel Peres dan hul eie land, sodat dit 'n skeuring veroorsaak. Van die 120 lede van die Israelse parlement, die Knesset, het 61 vir die ooreenkoms gestem. Een stem het dus die deurslag gegee.
Vanuit 'n bybelse perspektief is God se grense vir die Beloofde Land baie anders. Die twee-en-'n-half stamme van Ruben, Gad en Mannasse het hul gebiede aan die oostekant van die Jordaan gehad (Jos. 1: 12-15, o.a.). Om die goddelike orde dus geografies ook te herstel, sou Israel, in teenstelling, land moes bygevoeg het, i.p.v. terruggee. Dit sal sekerlik nog kom, en inderdaad deur goddelike ingryping!
Nie Gaza en ook nie Jerigo nie, nie die Wes-oewer nie en ook die Golanhoogte nie, maar Jerusalem sal tot met die laaste slag, 'n swaar klip vir al die volkere wees, wie hulself sekerlik daarteen sal seermaak (Sag. 12: 2-3). Deur die Gaza-Jerigo ooreenkoms het die volkere reg tot by die voordeur van Jerusalem gekom. Nou is alle nasies in die VN ten gunste van Arafat en dus teen Israel. Dit was hierdie man wat in 1974 sy infaseringsplan soos volg aangekondig het: "In die eerste fase bou ons strategiese brugpilare tussen Gaza en Jerigo, vanwaar ons Jerusalem sal kan verower, want hy wat Jerusalem het, het die hele Israel". Ses dae na die ondertekening van die ooreenkoms in Washington, naamlik op 19 September, 1993, het Arafat voor 19 ministers van buitelandse sake van die Arabiese Liga, in Kaïro, dieselfde plan herhaal. Hy het die ou-bekende lese uit die PBO-konstitusie voorgelees en eindig toe met die woorde: "Ons eind-doel is die vernietiging van Israel". Reeds in verskeie oorloë — en Arafat was daar vanaf die eerste in 1948 — wou hulle, soos hulle sê: "Israel in die see werp".
Die slagspreuk van die PBO is dus: eers Gaza en die Wes-oewer, dan Jerusalem en die hele Israel. Daarom het Arafat aangedring om op sy staatswapen-embleem die hele Israel, vanaf Eilat tot Jerusalem en Tel Aviv tot Haifa, te druk. Dit is volgens hom die staat Palestina, wat nooit eintlik waarlik bestaan het nie, maar wat nou veronderstel is om tot stand te kom. Die algemene naam Palestina kom van die Grieks-Romeinse meng-naam "Palaistine" en was op die Filistyne se land toegepas, wat vandag se Gazastrook is, niks meer nie. Die Arabiese state is 640 keer groter as Israel en kon hul Palestynse geloofs- en strydgenote maklik huisves.
Die Skrif sê nie dat daar ware vrede, deur politieke en godsdienstige onderhandelinge sal kom nie. Dit gee slegs uitdrukking aan wat nou gebeur: die mense praat van vrede en wil 'n 'grond vir vrede' kompromie onderhandel, in elke opsig, totdat daar 'n eintlike vredes- en sekuriteitsverdrag in daardie streek kom. Dit alles gebeur sodat die Skrif vervul sal word. Maar die waarskuwing bly: "Want wanneer hulle sê: Nou is daar vrede en veiligheid — dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie" (IThes. 5: 1-3).
Op 29 September, 1938, het Lord Chamberlain, die Britse premier, ná die ondertekening van die München-ooreenkoms met Hitler, aangekondig: "Peace in our days" — "Vrede in onse dae". Slegs enkele weke later, op 9 November, 1938, het die sinagoges in Hitler se Duitsland in vlamme gestaan: Daardie nag was 91 Jode deur die Nazi's vermoor, meer as 26,000 na konsentrasie-kampe gebring en ontelbare Joodse winkels verwoes. Op 13 September, 1993 was die gonswoord in Washington soortgelyk: "Peace in our time" ("Vrede in ons tyd"). Alhoewel die Israeliese premier Rabin in Washington die vrede deur die woord uit Prediker 3, vers 8, benadruk het: "... 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog en 'n tyd vir vrede", het die volk Israel en die stad Jerusalem nog baie slegte tye in die gesig gestaar, want God het dit in die Heilige Skrif laat vooruitspreek.
Wat die tyd van genade vir die nasies betref, gaan dit nog voort, totdat God genadiglik terugkeer na Israel. Hierdie tydperk word, betreffende Israel en ook die Gemeente, die profetiese "laaste dae" genoem (Hand. 2:17; Heb. 1:2, o.a.).
In sy tweede preek ná pinksterdag neem Petrus die belofte uit Deuteronomium 18, verse 15-18, en bewys dat Christus, die Messias, wie die profeet is van wie Moses vooruitgespreek het. "... En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word en ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig ..." (Hand 3: 22-24). Hierdie twee laaste dae kom stadig maar seker tot 'n einde.
Die profeet Hosea het die laaste dae met verwysing na Israel se verstrooiing ook genoem: "Kom en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.
Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe" (6: 1-2). Die twee dae wat hier genoem word, is die tweeduisend jaar, waarin die hele volk Israel verstrooi was, waarin hulle aan die einde van hierdie dae weer versamel word, soos wat baie bybel-gedeeltes getuig en ons in ons tyd gesien het.
Die samekoms na twee dae beteken nie dat hulle die lewe van God ontvang nie. Dit gebeur eers wanneer hulle hul Messias erken, in wie alleen daar vir alle mense redding en die ewige lewe is. Slegs in Jesus Christus het God Homself persoonlik aan die mensdom tot hul saligheid geopenbaar. Met die oog op Israel word gesê: "...op die derde dag ons laat opstaan ...". Ná onse tyd van genade, in die tyd van genade wat vir húlle sal aanbreek, wat eers in die Dag van die Here val, sal hulle die lewe van God ontvang.
"Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?" (Rom. 11:15).
Tot dan sal die sluier van Moses nog oor hulle lê, ten spyte van hul samekoms en die nasionale gewaarwording. Dit is wat Paulus in sy brief aan die Korintiërs sê: "Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar 'n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem" (IIKor. 3:15).