Glo slegs die “So spreek die Here”

Glo slegs die “So spreek die Here”

« »

Die woorde “So spreek die Here” het vir baie mense 'n nuwe betekenis gekry. Onder die inspirasie van die Heilige Gees, kon God se profete nog altyd sê: “So spreek die Here”. Diegene wat getuies is van die profetiese bediening van Broeder Branham, moet tog erken dat dit onder die inspirasie van die Heilige Gees was, gebaseer op goddelike openbaring, wanneer hy gesê het: “So spreek die Here”.

Ons leef in 'n tyd waarin baie dinge gebeur, en is amper bang vir wat die nuus volgende kan bring. Pastore en evangeliste probeer alle dinge verstaan ​​en korrek te verduidelik. Baie boeke is geskryf met die doel om 'n beter begrip te gee van die wêreldgebeure wat plaasvind. Ons het egter nie die goed-bedoelde interpretasies van die mens nodig in 'n tyd wanneer die koms van die Here Jesus Christus so naby is nie. Wat ons nodig het, is die So spreek die Here van 'n ware profeet, wat gegrond is op die onfeilbare Woord van God. Ons leef in 'n tyd waarin die profetiese voorspellings rakende hierdie eindtyd hul vervulling vind. Niemand het die reg om goddelike dinge vanuit die menslike oogpunt te interpreteer nie. Geestelike dinge kan slegs deur die Heilige Gees onderskei en geopenbaar word. Net so seker as wat die Here God die profesieë deur die monde van Sy profete uitgespreek het, het Hy ook die betekenis daarvan op dieselfde manier bekend gemaak, ten tye van die vervulling.

Dit is nie ons doel om Broeder Branham, of die bediening wat God hom gegee het, te verdedig nie. 'n Man deur wie God vir 33 jaar sulke magtige tekens en wonders kon verrig, hoef nie deur enige een verdedig te word nie. Onder diegene wat die werk van die Heilige Gees in hierdie geslag ervaar het, is dit ‘n welbekende feit dat God Broeder Branham op 'n spesiale manier gebruik het, om aan die spits te wees van so ‘n magtige herlewing, wat wêreldwyd ná die Tweede Wêreldoorlog begin het. Ons kan met waarheid sê dat niemand die dinge wat gebeur het, kon doen nie, tensy God met hom was. Alvorens ons hierdie onderwerp van nader kan bekyk, moet ons besef dat God alle dinge volgens die plan van verlossing doen, soos opgeneem en vooruitgespreek in die Skrif.

Telkens wanneer 'n man van God in die Nuwe Testament gekies is, om te praat of te skryf oor dit wat betrekking het op die plan van verlossing, verwys hy altyd terug na die profetiese Woord. Dit is wat die skrywers van die vier Evangelies en ook die apostels gedoen het. Ons moet erken dat God Sy man op daardie bepaalde tydstip gekies het om dit tot uitvoering te bring wat vir daardie spesifieke tyd verordineer is om te gebeur.

Daar kan met waarheid gesê word dat elke nuwe-testamentiese lering gebaseer is op die So spreek die Here van die profetiese Woord. Al die manne van God in die Nuwe Testament, wat gekies was om te skryf of te praat, was op dieselfde manier geïnspireer deur die Heilige Gees as wat die profete was. Hulle het altyd verwys na die geïnspireerde Woord van God wat voorheen gespreek was. Elke bybelse vraag in die Nuwe Testament was in die lig van die profetiese Woord beantwoord en het daardeur die So spreek die Here geword. Dit was nie die mens se antwoord nie, maar die goddelike antwoord wat deur die Almagtige God, volgens Sy Woord gegee was. Daarom kan ons verstaan ​​wat Petrus skryf in IIPetrus 1, vers 21: “want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek”. Op dieselfde manier word manne van God deur die Heilige Gees beweeg volgens die wil van God, om die goeie nuus van die vervulde profesieë te verkondig. In Romeine 1, verse 1-2, lê Paulus die grondslag neer vir wat hy geskryf en voortgebou het op: “Paulus, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God — wat Hy tevore beloof het deur Sy profete in die heilige Skrifte …”. Die apostels verklaar hier dat die belofte van die evangelie alreeds vroeër in die Heilige Skrif geskryf was deur die profete.

As ons die briewe aan die Romeine en die Hebreërs lees, sien ons hoe gereeld die So spreek die Here van die profetiese Woord gebruik word in die nuwe-testamentiese lering. In Romeine 9, verse 24-26, verdedig Paulus die heiden bekering met die Skrifte en skryf: “... ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde;  en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God”.

As hy dieselfde onderwerp behandel, skryf Paulus in Romeine 15, verse 9-11, “... en dat die heidene ter wille van Sy barmhartigheid God kan verheerlik, soos geskrywe is: Daarom sal ek U loof onder die nasies en tot eer van u Naam psalmsing. En ook sê Hy: Verbly julle, o nasies, saam met Sy volk; en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke”.

Ons sien duidelik dat Paulus sy leringe baseer op die Woord van God wat deur die profete van die Here gespreek is. Volgens Handelinge 15, verse 13-15, is hierdie onderwerp in Jerusalem onder die apostels met Paulus en Barnabas bespreek. Ons lees soos volg: “En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê: Broeders, luister na my! Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om 'n volk uit die heidene vir Sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is ... ”. Dit was nie net Paulus nie, maar Jakobus het ook verwys na die woorde wat deur die heilige profete gespreek is. Ons moet vir eens en altyd leer dat 'n skriftuurlike antwoord slegs uit die Bybel verkry kan word. In Romeine 15, vers 4, skryf die apostel Paulus: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê”.

Dit is baie belangrik dat ons moet leer om terug te gaan na die geïnspireerde Woord van God en sodoende ons antwoord te vind as die So spreek die Here. Ons sien dat Paulus, Jakobus en al hierdie manne van God nie antwoorde gegee het wat hulle gedink het moet reg wees nie, maar deur die Heilige Gees is hulle aangespoor om die antwoord uit die Woord van God te gee.

In Handelinge 8, vers 35, lees ons die wonderlike stelling: “En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig”.

Stefanus was ook 'n man vol geloof en die Heilige Gees. In sy preek in Handelinge 7, wys hy dikwels op die So spreek die Here uit die profetiese Woord. Dit is onmoontlik om die Ou- van die Nuwe Testament te skei. Want, in die Ou Testament is die profesieë gegee en in die Nuwe Testament is dit vervul. Alles wat ons preek en leer moet gegrond wees op die So spreek die Here van die volledige Woord van God. Die doel van die Woord van God is nie om ons eie idees en interpretasies by te voeg nie, maar dat ons die plan van verlossing moet sien deur die openbaring van die profetiese Woord. Vir hierdie doel het God Sy manne gekies vanaf die begin van tyd, met ware inspirasie van die Here, om Sy Woord te spreek.

Ons kan sien dat God, sedert die dae van die reformasie, die een waarheid na die ander uit Sy Woord herstel en geopenbaar het. Diegene wat die God-gestuurde boodskapper in elke tydperk aanvaar het en geluister het na wat in die Naam van die Here gespreek was, het die seëninge van God ontvang. Diegene wat die boodskap van die uur geglo het, was die ware kinders van God. Ons moet alles sien wat nou in die lig van die profetiese Woord gebeur, soos al die manne van God in die Nuwe Testament gedoen het.

Ons lees in Matthéüs 1, verse 22-23: “Dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons”.

Matthéüs was deur die Heilige Gees geïnspireer en hy het teruggekeer na die profetiese Woord wat deur inspirasie gegee is. Toe die wyse manne na Jerusalem gekom en gevra het waar Christus gebore was, het hulle ook hul antwoord uit die Woord van God ontvang: “Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal 'n leidsman voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees” (Matt. 2:5).

In Matthéüs 26, vers 31, lees ons: “Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan en die skape van die kudde sal verstrooi word”.

Ons sien dat Christus ook voortdurend verwys het na die Woord van God. In Matthéüs 26, vers 54 het Jesus gesê: “Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?” … “Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug”(vers 56).

As ons hierdie tema kan bestudeer, sal ons verbaas wees hoe dikwels die apostels na die woorde van die profete verwys.

Markus 1, verse 1-2 lees soos volg: “Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God. Soos geskrywe is in die Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak”(Mal. 3:1; Isa. 40:3).

Markus rig onmiddellik ons ​​aandag op die profete Maleági en Jesaja, en lê die grondslag vir sy Evangelie op die profetiese Woord. Hy beklemtoon die So spreek die Here om aan die mense die vervulling te wys, van wat God deur die woorde van die profete beloof het. In die vierde vers maak Markus melding van die voorganger en skryf: “Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig”

Johannes was die God-gestuurde profeet met die God-gestuurde boodskap aan God se volk in daardie tyd. 

Dit is baie belangrik en van groot betekenis dat ons God se Woord voorrang gee. Na Markus die fondament deur die profetiese Woord gelê het, vertel hy ons meer oor Johannes. Sy sending en sy boodskap word beskryf. Daar word genoem hoe hierdie profeet aangetrek het en wat hy geëet het. Markus hou terug om oor Jesus te praat en gaan voort om te praat oor die voorganger en profeet. Dit is heel merkwaardig. Die eerste voorganger van Jesus Christus het gekom en gegaan en 'n wonderlike getuienis gelaat. In hierdie laaste dae, reg in ons midde, is 'n drama besig om af te speel, waardeur talle profesieë rakende hierdie eindtyd alreeds en steeds vervul word. Daar is ook 'n voorganger, soos Johannes, belowe vir die tweede koms van Jesus Christus. Hierdie feit sal skriftuurlik verder in hierdie boekie bevestig word.

As die Skrif vertel van die voorganger van die eerste koms van die Here, dan kan ons sekerlik skryf oor die voorganger van die tweede koms van die Here. God se volledige plan van verlossing is deur Sy voorafbestaande kennis verordineer, so ook die boodskap en die boodskapper vir elke dispensasie. Ook die mense wat die boodskap moet hoor, is vóór die grondlegging van die wêreld deur God voorafbestem.

Ons sal bewys dat ons die So spreek die Here as ons grondslag geneem het. Die skrifgeleerdes, wat nie geglo het dat Johannes die God-gestuurde profeet was nie, sou miskien kwaad gewees het dat Markus na hom moes verwys in sy geskrifte. Hulle kon hom natuurlik beskuldig het dat hy 'n man verheerlik, maar Markus was geïnspireer deur die Heilige Gees. Hy kon neerskryf wat plaasgevind het in die absolute sekerheid van die geopenbaarde Woord van God.

Geliefdes, dit is onmoontlik vir hulle wat waarlik met die Heilige Gees gevul is, om dit wat God belowe en vervul het in hierdie geslag, te ontken. Deur die genade van God is ons teruggebring na die So spreek die Here. Ons kan nou die betekenis van die profetiese Woord insien, in die lig van die openbaring van Jesus Christus. 

Nou kom ons by die vraag: Waarom het die skrifgeleerdes die vervulling van die profesieë nie in hulle tyd erken nie? Dit was bloot omdat hulle hul eie interpretasie van die Skrif daargestel het en op God gewag het om Sy Woord na gelang van hul eie interpretasie te vervul. Dieselfde gebeur met die skrifgeleerdes in hierdie geslag.

Slegs diegene wat die So spreek die Here van die profetiese Woord in hierdie tyd verstaan, erken die vervulling van die Skrifte. So seker as wat God 'n profeet gestuur het voor die eerste koms van Christus, het Hy ook 'n profeet gehad wat Sy tweede koms vooruit gaan. Te midde van al die voorbedagte interpretasies van mense, het hy opgestaan ​​en deur die openbaring van die Heilige Gees die So spreek die Here van die Woord van God, aan die volk van God, in hierdie geslag gebring. Dit is nou hoogtyd om alle mens-gemaakte interpretasies te laat vaar en terug te keer na die Woord van God.

Ons kan sê dat alles wat met Jesus Christus gebeur het, volgens die Skrif was. Sy geboorte, Sy die lewe, Sy bediening, Sy lyding, Sy dood, Sy opstanding en hemelvaart was alles volgens God se Woord. Dit is alles vervul volgens die profesieë van die Ou Testament wat deur die profete van God uitgespreek is. Ons sien ook dat alles wat met die Gemeente van die lewende God gebeur, van die begin tot die einde, gebeur volgens die voorafbepaalde raad van God.

In Lukas 4, vers 16, lees ons dat die Here Jesus op die sabbatdag die sinagoge ingegaan het. Die boek van die profeet Jesaja was aan Hom oorhandig. Hy het toe die wonderlike gedeelte van hoofstuk 61 gelees, wat betrekking het op Sy bediening en begin toe om die volgende woorde te sê: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul”.

Soos ons kan sien, het die skrywers herhaaldelik klem gelê op die vervulling van profesieë, soos ook die Here Jesus Christus.

Geliefdes in Christus! Het ons verstaan ​​waar die klem val in hierdie tyd? Verstaan ​​ons dat die Here Jesus en al die manne van God in die Nuwe Testament altyd na die Ou Testament verwys het? Hulle het voortdurend geïllustreer dat alles wat plaasgevind het, volgens die Skrifte plaasgevind het. Dit is presies wat ons doen, deur die genade van die Almagtige God. Ons was bevoorreg om die vervulling van die Skrifte te kon sien en ook bevoorreg om te kan skryf oor die dinge wat God in ons tyd gedoen het.

Diegene wat die So spreek die Here van die Woord van God verwaarloos, is verblind in hul hoogmoed en hulle verbeur God so. Hulle volg nie die Here na gelang van Sy plan nie. So ‘n persoon bou nie op die fondament van die onvervalste Woord van God nie. Hy bou nie op die rots van die openbaring van Jesus Christus nie, maar op sy eie fondasie. 

O volk van God! Kom terug na die So spreek die Here, sodat u die vervulling van die Woord van God in hierdie tyd kan sien. Kom terug na die ware geloof wat gegrond is op die Woord van God. Ons leef in 'n tyd waarin die wonderlike voorspellings rakende die Wederkoms van Jesus Christus voor ons oë vervul word. Eer aan God, wat die lig van Sy Woord laat skyn op die wat in duisternis sit.

Johannes skryf in Johannes 6, vers 45: “Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees”.

Deur die geopenbaarde Woord van God word ons geleer en het ons nou insig oor die dinge van God wat verborge was deur die eeue. In Johannes 7, vers 38, lees ons (Jesus Christus wat praat): “Hy wat in My glo soos die Skrif sê, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei”.

Slegs dan kan die seën van God op ons rus. Hierdie woorde “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê”, is belangriker as wat ons besef. Alles wat ons doen en glo, moet volgens die Skrif wees. Ons lees in II Timothéüs 3, verse 16-17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”.

As ons tot die volle statuur van Jesus Christus wil kom en tot volmaaktheid wil gaan, volgens Hebreërs 6, vers 1, moet ons die geïnspireerde Woord van God lees en al die beloftes wat daarin geskryf is glo. 

Dit is baie belangrik om te weet dat Jesus Christus ná Sy opstanding Sy dissipels se verstand vir Sy Woord geopen het. Ons lees in Lukas 24 dat Hy met twee van Sy dissipels oppad na Emmaus was. Hulle het oor alles wat in daardie dae gebeur het gepraat, maar het nog geen begrip daaroor gehad nie en nie geweet wat dit alles beteken het nie. In ons tyd het daar ook baie gebeur en mense het daaroor gepraat, maar wat van om Jesus te ontmoet? Hy kan ons verstand oopmaak en ons vraag vandag beantwoord. Die dissipels het selfs vir Jesus gesê: “Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?”. Hulle het Hom nie herken nie; hulle het ook nie besef dat die Skrifte vervul moes word nie. Solank as wat die dissipels gepraat het, kon hulle verstand nie geopen word nie, maar toe die Here Jesus begin praat, kon hulle sien en ook verstaan ​​wat destyds plaasgevind het. Dit is moontlik vir ware dissipels om oor die dinge van God te praat, en tog onkundig daaroor te wees dat die Skrifte in vervulling is.Dit word opgesluit in die woorde van Jesus in Lukas 24, vers 25: “O onverstandiges, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in Sy heerlikheid ingaan nie?”.

Ons sien hoe Jesus Christus self benadruk het dat alles vervul moes word, soos dit deur die profete gespreek was. 

Hierdie is baie belangrik. Jesus Christus is vandag dieselfde as wat Hy destyds was. As ons waarlik Sy dissipels is, dan sal Hy ons die lig van Sy Woord gee en die verstand om te sien dat die voorspellings wat vir hierdie tyd geprofeteer was, plaasgevind het.

Baie profesieë word vervul in die tyd waarin ons leef. Daardie profesieë, moet eers vanuit die Skrifte tot ons aandag geroep word. Ons moet ook verstaan ​​dat ons nie die profesieë van die Skrifte kan verduidelik net soos ons wil nie. Dit is nodig dat 'n God-gestuurde profeet die verborge dinge van God uitspreek. Soos Broeder Branham gesê het: “God is Sy eie vertolker”. Hy interpreteer Sy Woord deur dit wat Hy gespreek het, te laat gebeur.

Diegene wat graag wil verstaan ​​wat God doen voor die tweede koms van Christus, moet eers ​​God se handelinge voor Sy eerste koms verstaan. In die Ou Testament lees ons herhaaldelik dat die Woord na die profete gekom het. Die profete het in visioene en deur openbaring gesien, wat God wil hê dat Sy volk moes weet. In Amos 3, vers 7, lees ons die bekende Skrif: “Want die Here Here doen niks tensy Hy Sy raadsbesluit aan Sy knegte, die profete, geopenbaar het nie”.

Dit sê nie dat die geheime van God aan 'n evangelis of 'n prediker geopenbaar word nie, maar aan die diensknegte, die profete van God. Paulus beklemtoon hierdie feit in die Nuwe Testament en skryf in Efésiërs 3, vers 5: “wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan Sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees”.

Ons moet leer om die goddelike orde te respekteer en God te vra om ons te help om dit wat Hy doen, reg te verstaan.

‘n Ware profeet van God spreek nie sy eie gedagtes uit nie, en verklaar ook nie die sienings van ‘n denominasie nie, maar praat eerder met Godgegewe outoriteit in die Naam van die Here. Op hierdie punt moet ons 'n verklaring uit die Woord van God aanhaal in IIKronieke 20, vers 20. Dit lui soos volg: “… terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan Sy profete, dan sal julle voorspoedig wees”.

Ons glo beslis dat hierdie woorde deur die inspirasie van die Heilige Gees gespreek is. Ons moet dit nie ligtelik opneem nie, maar oplet wat in die laaste gedeelte van die vers gesê word: “Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan Sy profete, dan sal julle voorspoedig wees”. In Haggai 1, verse 12-13 lees ons: “(Toe het) die hoëpriester, en die hele oorblyfsel van die volk gehoor gegee aan die stem van die Here hulle God en aan die woorde van Haggai, die profeet, volgens die opdrag waarmee die Here hulle God hom gestuur het; en die volk was vervul met vrees voor die aangesig van die Here. Daarop het Haggai, die boodskapper van die Here, kragtens die boodskap van die Here, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die Here”.

Hierdie Skrif word ook deur inspirasie gegee en is voordelig vir lering. Hier lees ons van die Here se boodskapper, wat die boodskap van die Here aan die volk van God gegee het. Die belangrikste oor hierdie Skrif is dat die oorblyfsel van die volk aan die stem van die Here hulle God gehoor gegee het, en die woorde van die profeet Haggai, want die Here hulle God het hom gestuur, en die volk het die Here gevrees.

Eerstens moet ons verstaan ​​wat God belowe het en, wanneer ons besef dat God 'n profeet gestuur het, moet ons ook bereid wees om die woorde van God te gehoorsaam. Die Here sal dan met ons wees, sodat ons die boodskapper kan ontvang en ook die boodskap wat 'n ware profeet van God in die Naam van die Here uit die Woord van God lewer. Sonder aarseling kan daar gesê word dat die ware oorblyfsel van die volk van God ook in hierdie geslag, gehoorsaam is aan die stem van die Here hulle God, soos hulle luister na die woorde van die God-gestuurde profeet. Hulle het die boodskapper en ook die boodskap ontvang. Soos reeds genoem, was daar profesieë in die Ou Testament waarna verwys word met die eerste koms van die Here. Voordat dit vervul was, het God 'n profeet met die naam van Johannes gestuur. Hy het die weg van die Here voorberei en het die “Gesproke Woord” van God op daardie tydstip na die kinders van God gebring, om die waarheid van die Geskrewe Woord te openbaar. Deur die “Gesproke Woord” is die Geskrewe Woord geopenbaar. Almal wat die boodskap van Johannes geglo het, het in werklikheid God geglo. Nou lewe ons voor die tweede koms van Christus en weer word profesieë vervul. Almal wat die boodskap van hierdie uur, wat deur die God-gestuurde profeet gebring was, glo, sal die vervulling van die Skrifte sien.

Ons het die So spreek die Here nodig in hierdie tyd, om absolute sekerheid te kry oor wat ons glo en leer. Baie wat in die dae van Johannes gepreek het, het dit nie in lyn gebring met God se Woord nie, en nie erken dat dit voor hulle oë vervul word nie. Dieselfde kan in hierdie tyd gebeur. Ons kan selfs praat van die koms van die Here en nie besef dat die Skrifte vervul word nie. Tog, ondanks alles wat God gedoen het, word die Seun van God weer gekruisig, as ons wat God vir hierdie geslag voorspel en vervul het verwerp en ignoreer.

Dit is onmoontlik om die werk wat God doen, te omseil. As u 'n ware kind van God is, sal u die ware boodskapper en die boodskap van God erken en aanvaar. Volgens Handelinge 1 vers 16, het Petrus saam met die honderd-en-twintig in Jerusalem gestaan en gesê: “Broeders, hierdie Skrif moes vervul word wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid, aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het”

Deur die inspirasie van die Heilige Gees het Petrus die Skrif vervuld gesien, selfs in wat gebeur het met Judas. Ons moet eintlik die hoofstuk tot aan die einde lees, want Petrus verwys voortdurend na die profesieë wat vervul moes word. Dit is die kenmerk van 'n ware dienskneg van God. Hy sal nie goed uitgewerkte verduidelikings het nie, maar sal die volk van God terugneem na die So spreek die Here van die Woord van God.

In Handelinge 2 lees ons van die uitstorting van die Heilige Gees. Weereens is dit Petrus wat in vers 14 saam met die elf sy stem verhef en gesê het: “Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom”.

Ons sien dat Petrus, onder die invloed van die Heilige Gees, presies geweet het watter profesie vervul is. Hy het nie sy uitleg gegee oor wat op die Pinksterdag gebeur het nie, maar hy het verwys na die Woord van God. Hy kon die mense wys dat die profeet Joël daarvan gepraat het. 

In Handelinge 3, vers 18, lees ons: “maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al Sy profete, dat die Christus sou ly”. Dit is 'n wonderlike stelling. Met verwysing na Christus, sê hy in vers 21: “Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al Sy heilige profete”

Met hierdie profetiese stelling het ons by ons eintlike tema gekom. Christus wag in die hemel tot die herstelling van alle dinge plaasgevind het, en totdat die goddelike orde in die Gemeente van die lewende God weer opgebou is, soos God deur die mond van Sy heilige profete gesê het. Toe Petrus hierdie Woord van God gespreek het, wat die herstelling van alle dinge betref, was Johannes se bediening lankal klaar.

Hierdie belofte stem ooreen met wat Jesus Christus in Matthéüs 17, vers 11 gesê het, waar ons soos volg lees: “Dis waar, Elía kom eers en sal alles herstel”.

Dit is in die toekomstige tyd gespreek en geskryf. Dit kan nie ontken word nie. Die Here Jesus Christus het daarvan gepraat nadat die bediening van Johannes klaar was. Die dissipels het aan die Here gevra: “Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elía eers moet kom?”. Sy antwoord was dat Elia sou kom en alles herstel. Dan, in verwysing na Johannes, het Hy gesê “dat Elía al gekom het, en hulle het hom nie erken nie”. Jesus het slegs hierdie stelling gemaak, omdat die eerste deel van die profesie oor die stuur van die profeet Elia alreeds vervul was, “… om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders” (Luk. 1:17). Hier is 'n verborgenheid soos in Lukas 4, vers 19, waar Jesus gelees het oor die aangename jaar van die Here, maar weggelaat het wat geskrywe is aangaande die dag van wraak.

Ons sien dus dat dit God se belofte was om 'n profeet te stuur voor die eerste koms van Christus, sowel as om 'n profeet te stuur voor die tweede koms van Christus. Die belofte om die profeet Elia voor die groot en die vreeslike dag van die Here te stuur, kom voor in Maleági 4, vers 5: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek”.

Die tweede koms van die Here Jesus Christus moet plaasvind voor die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek.

Dit is duidelik dat die skrifgeleerdes gewag het op 'n man wat groot tekens en wonders onder die mense sou doen, net soos Elia gedoen het. Johannes was 'n Woord-profeet, maar geen tekens en wonders het deur sy bediening plaasgevind nie. Hy was nie die profeet Elia wat voor die groot en vreeslike dag van die Here sou kom nie. Die dag van die Here was nie op hande in Johannes se tyd nie; dit was eerder die begin van die dag van genade en verlossing. Hy was eenvoudig die profeet wat opgestaan ​​het in die krag en gees van Elia. Die engel het aan Sagaria in Lukas 1, vers 17 gesê: “En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders”.

Dit is absoluut noodsaaklik dat ons elke woord presies lees. Dit sê nie: hy was Elia nie, maar dit sê net dat hy in die gees en krag van Elia sou kom. In Johannes 1, vers 19 lees ons, “En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u? En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie. Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie”.

As ons Johannes nie 'n leuenaar wil noem nie, moet ons glo wat hy gesê het. In vers 23 antwoord hy met die Skrif wat oor hom geprofeteer is: “Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het”.

Johannes se getuienis en dit wat die engel vir Sagaria gesê het, stem volkome saam met die getuienis van Jesus Christus. Daar is geskryf oor Johannes in Matthéüs 11, vers 10: “Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak”.

Dit is presies wat ons in Maleági 3, vers 1, geskryf vind. Dit is wat Jesus Christus self gesê het, en ons moet glo wat hy gesê het. Johannes kon beslis nie 'n profeet wees wat voor die groot en vreeslike dag van die Here moes kom nie. Bykans tweeduisend jaar het verloop en die groot en vreeslike dag van die Here was nog nie. Volgens die Woord van God, soos ons lees in die laaste twee verse van die Ou Testament, in die profeet Maleági, moet Elia eers voor die groot en vreeslike dag van die Here kom. Hy sal die harte van die kinders terugbring tot die vaders, sodat die Here nie die aarde met die banvloek tref nie.

Laat ons nou enkele verse uit die Skrif aanhaal, waarin die dag van die Here beskryf word. In IIThessalonicense 2, vers 2 skryf Paulus: “om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is”.

Daar moes sekerlik mense gewees het wat die voorganger van die eerste koms verwar het met die voorganger van die tweede koms. Dit gebeur ook vandag, anders sou Paulus nie nodig gehad het om te skryf oor hierdie tema rakende die dag van die Here nie. Paulus was 'n apostel en 'n profeet. Hy het geskryf oor die afvalling en alles beskryf wat voor die dag van die Here sou gebeur. Basies het Paulus gesê dat die dag van die Here eers kan kom ná die vervulling van die dinge wat in IIThessalonicense 2 en ander plekke geskryf is, met verwysing na die laaste dae.

Die dag van die Here word in die Ou- sowel as in die Nuwe Testament beskryf. Byvoorbeeld, in Jesaja 13, verse 6 en 9, lees dit soos volg: “Huil julle, want die dag van die Here is naby; hy kom as 'n verwoesting van die Almagtige … Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde 'n woesteny te maak en Sy sondaars daaruit te verdelg”.

In die profeet Sefanja 1, verse 14-15, lees ons: “Naby is die groot dag van die Here, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die Here! Bitterlik skreeu die held daar. Dié dag is 'n dag van grimmigheid, 'n dag van benoudheid en angs, 'n dag van woestheid en verwoesting, 'n dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke en wolkenag”.

Ons lees verder in Joël 2, vers 31: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom”.

Laasgenoemde Skrif herinner ons baie aan die sesde seël. Almal kan vanaf Openbaring 6, vers 12 lees, wat die sesde seël behels.

Die dae van genade en verlossing eindig vir die heidene sodra die Wegraping plaasvind. Dan begin die dag van toorn en wraak. Petrus skryf in IIPetrus 3, vers 10: “Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand”.

Paulus skryf in IThessalonicense 5, vers 2: “want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag”. Verder skryf hy in die vierde vers: “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie”.

Hierdie voorspelling word ook vervul. Paulus skryf dat ons nie oorval kan word nie, omdat ons nie in duisternis woon nie. Die profeet Sagaría het in hoofstuk 14, vers 7 geprofeteer: “En dit sal 'n enige dag wees wat aan die Here bekend is — geen dag en geen nag nie; maar teen die aand sal dit lig word”.

Diegene wat in hierdie tydperk, in die lig van die geopenbaarde Woord van God lewe, wandel glad nie meer in die duisternis nie.Die uitverkorenes van God in dié geslag, het besef dat Hy Sy kneg en profeet gestuur het voor die groot en vreeslike dag van die Here.

Hier is 'n paar vrae aan alle predikers van die Evangelie in ons tyd, wat diegene aankla wat in bybeltye nie die besoeke van God erken het nie, en ook nie die vervulling van profesie gesien het nie: 

Kan dit moontlik wees dat ons in dieselfde situasie is, sonder dat ons dit besef? Gaan dit wat God in ons tyd doen, by ons verby? Verstaan ​​ons nie wat God doen nie, want ons sien net ons eie programme en nie die plan van God nie, ook nie die vervulling van die Woorde wat die Here deur Sy profete gespreek het nie?

Dit is absoluut noodsaaklik dat ons die ewige nooit-mislukkende Woord van God neem om ons weg te belig. Ons lees die wonderlike Woorde van onse Here in Johannes 8, vers 12: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê”.

Jesus Christus is die Woord. Om Hom te volg, moet u die Woord vir hierdie uur volg. Hoeveel mense sê met hul monde, “U woord is 'n lamp vir my voete en ‘n lig vir my pad”, maar wandel steeds in duisternis. God se Woord kan slegs 'n helder skynende lig word, as dit aan ons geopenbaar word in die goddelike betekenis daarvan, deur die openbaring van die Heilige Gees. Broeder Branham het dikwels gesê: “Mense dank God vir wat Hy gedoen het en vir wat Hy nog gaan doen, maar mis en omseil wat Hy in hulle tyd doen”.

Ons het nou 'n keuse. Ons kan aanhou om ons eie interpretasies te glo en te verkondig, óf ons kan God se Woord aanvaar, wat deur die profetiese bediening van Broeder Branham gestuur is in hierdie tyd. Die meeste mense is onkundig oor wat God vir hierdie tydperk belowe het. Ons moet die feit leer en aanvaar, dat God sedert die begin van tyd, Sy diensknegte — die profete — gebruik het, om te openbaar wat moet gebeur. Wanneer iets buitengewoons op aarde moes plaasvind, het God altyd 'n profeet gehad met wie Hy kon praat. Ons moet ook verstaan ​​dat nie elke prediker en evangelis 'n profetiese bediening het nie. Slegs 'n profeet kan die profetiese Woord aan die mense openbaar.

So seker as wat God die profete gebruik het om dinge te voorspel, gebruik Hy profete om dit te verklaar in die tyd van die vervulling daarvan. Goddank daarvoor. Hy waak oor Sy Woord om dit uit te voer.

Jesus Christus het in Lukas 17, verse 26-30 geprofeteer: “En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word”.

Dit is baie belangrik dat ons daardie dae in ag neem en besef wat God toe gedoen het, om dus te weet wat Hy nou ook doen. Die meerderheid van die gelowiges praat slegs van die dinge wat in daardie dae onder die ongelowiges gebeur het. Maar ons, as die kinders van God wat op die Wederkoms van Jesus Christus wag, stel veral belang om te weet wat gebeur het onder diegene wat destyds uitgeroep was. Dit is 'n feit dat God destyds 'n profeet gehad het met die watervloed oordeel. Hy het die verborgenheid van Sy wil aan daardie profeet geopenbaar en almal wat hom geglo het, het ontsnap en was veilig.

Op daardie tydstip was daar die nageslag van Set, wat God se seëninge gehad het, en ook die nageslag van Kain. Toe hierdie twee vermeng het, het die einde van alle vlees voor God gekom. Christus sou in die vlees, uit die nageslag van Set gebore word, wie se saad nie met Kain s'n vermeng was nie. In ons tyd kom die godsdienstige wêreld saam en word vermeng in die Wêreldraad van Kerke. Dit is op so 'n tydstip dat God 'n profeet gestuur het met 'n boodskap, om die kinders van God uit te roep, sodat hulle almal wat nie die leuens van Satan aanvaar en glo nie, van die res geskei kan word, om die Waarheid te glo. Ons kan onsself voorstel hoe mense gespot en hul koppe geskud het, toe hulle met Noag, die profeet van God, praat. Maar die tyd het gekom dat God dít bevestig het, wat in Sy Naam gesê was. So sal dit ook in hierdie geslag wees.

So seker as wat God in daardie dae 'n profeet nodig gehad het, moet Hy nou ook 'n profeet het, want Jesus Christus self het in Lukas 17, vers 30 gesê: "Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word".

Die mense het miskien gedink dat Noag nie die enigste hoef te wees wat die Woord van God geken het nie, aan wie die wil van God vir daardie tyd geopenbaar was nie. Tog is dit 'n gevestigde feit nietemin, dat Noag bevestig was as die profeet van God.

Vriende, die Skrif kan nie gebreek word nie. Jesus Christus, die Seun van God, het in Matthéüs 24, verse 37-39 gesê: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees”.

Ons kan met waarheid sê dat profesie voor ons oë vervul word. Kom ons kyk na die gebeure wat plaasgevind het voordat die vuur van God uit die hemel geval het en die stede Sodom en Gomorra verbrand is. Volgens Génesis 18, het die Here Sy profeet Abraham met twee engele besoek. In Génesis 19 lees ons van die twee engele wat na Sodom gegaan het, maar die Here het by Abraham gebly en gesê: “Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen?”(Gen. 18:17).

Abraham was in daardie tyd die profeet van God en aan hom is die geheime van die wil van God geopenbaar. Lees Génesis 18, verse 9-15 aandagtig deur. Die Here het die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, bevestig, terwyl Sara in die tent was en geluister het na die gesprek. Sy het binne-in haarself gelag. Toe het die Here aan Abraham onthul dat sy gelag het. Hy het ook die gedagtes van haar hart bekend gemaak (vers 13). Dit is van uiterste belang om hierdie gebeurtenis deeglik te verstaan, want dit het gebeur net voordat die oordele van God op Sodom en Gomorra geval het.

As ons nie verstaan ​​wat in daardie dae gebeur het nie, kan ons sekerlik nie verstaan ​​wat nou gebeur nie. Is ons instaat om te sien hoe die bediening van die Here, toe Hy op hierdie aarde gewandel het, ooreenstem met dit wat met Abraham gebeur het, net voordat Sodom en Gomorra vernietig is? Die Here het Homself bekend gemaak aan Abraham. Hy het Homself ook met Sy eerste koms bekend gemaak aan die koninklike saad van Abraham. Net soos Abraham God geglo het, so het die nageslag van Abraham God ook geglo, toe die Here Homself geopenbaar het en Hy hier op aarde gewandel het.

In die Evangelie van Johannes, hoofstuk 1, verse 40-42, word dit berig dat Andréas sy broer na Christus gebring het. Die Here het na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Jona …”. Nog nooit tevore het Hy hom ontmoet nie, maar nou het Hy hom by die naam geroep en selfs die naam van sy vader genoem. Moet dit asseblief nie ligtelik opneem nie, want alles wat die Here doen, het beslis 'n groot betekenis. In dieselfde hoofstuk word ons die verslag gegee dat Filippus vir Natánael na Christus gebring het. Toe sê Jesus: "Hier is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie". Natánael was so oorweldig dat hy met verbasing vra: "Waarvandaan ken U my?" (Joh. 1:48).

Toe kom die antwoord van die Meester: “Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien”. Dit was genoeg vir Natánael, en hy het uitgeroep: “Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!”.

In die Evangelie van Johannes, hoofstuk 4, lees ons die verhaal van die vrou van Samaria. Die Here Jesus het haar lewe geopenbaar, waarop sy Hom geantwoord het: “Here, ek sien dat U 'n profeet is”. Toe sê sy verder: “Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig”. Jesus sê toe vir haar: “Dit is Ek wat met jou spreek!”.

Dit was genoeg vir die vrou. Sy was oortuig en hardloop toe die stad binne en sê: “Kom kyk 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”.

As iemand die bediening van Broeder Branham korrek wil verstaan, in hierdie tyd, moet hy eers ​​die bediening van die Here verstaan. Dit kan nie ontken word deur diegene wat teenwoordig was by die byeenkomste van Broeder Branham nie, dat dieselfde Here Homself op dieselfde manier geopenbaar het deur die krag van die Heilige Gees. Honderde band-opgeneemde boodskappe islewende getuienis van hierdie feit. Ook in hierdie tyd het die ware saad van God erken en gejuig oor wat die Here van die heerlikheid gedoen het. Die saad van die slang verklaar dat die werk van die Here van die duiwel is. Soos dit destyds was, so is dit ook nou. Maar elke persoon aan wie die Here Homself op hierdie bonatuurlike manier geopenbaar het, was oortuig daarvan dat dit van God was.

Enigiemand wat die vier evangelies lees, sal vind dat die Here Jesus Christus vir die mense kon sê wat hulle dink en wat hulle gedoen het, ens. In Johannes 2, verse 24-25 lees ons: “Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is”.

Volgens Matthéüs 21, vers 1, stuur Jesus Christus twee dissipels en sê vir hulle: “Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle 'n eselin vind wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig; en dadelik sal hy hulle stuur. En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is: Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op 'n esel, ja, 'n jong esel, die vul van 'n pakdier”. Die dissipels het beslis alles gevind net soos die Here vir hulle gesê het.

Die Here Jesus Christus het geweet wat iemand in sy hart dink, en hy kon die omstandighede uitlê, wat sou gebeur presies soos Hy gesê het. Die ware saad van God was nie gegrief vanweë hierdie bonatuurlike bediening van die Here nie, maar was eerder oortuig dat dit die werk van God was. Daarom was hulle geseënd. Ons kan die aard van die bediening van Jesus Christus sien, hoe Hy op die aarde, as die Seun van die mens, die werk van 'n profeet gedoen het.

Dit was die bonatuurlike bediening van onderskeiding wat sommige mense gestruikel het, maar dit was hierdie tipe bediening waardeur geeste onderskei en uitgedryf is. In die teenwoordigheid van so 'n bediening was dit nie moontlik om neutraal te bly nie. Die saad van God het verklaar dat dit uit God is, en die saad van die slang het verklaar dat dit van die duiwel was. Ons wens net dat dit moontlik was dat die gordyn van tyd opgehef kon word, sodat ons die eindbestemming van die ware saad van Abraham kon sien, wie met hul hele hart geglo het.

Net so sal dit ook 'n ernstige vermaning wees as ons ook diegene kon sien wat die werk van die Here verwerp het en teen Hom gesondig het. Ons moet weer sê dat die ware saad van Abraham, in die dae van die Here Jesus dieselfde geloof gehad het as wat Abraham gehad het. Net so sal die ware saad van Abraham, in hierdie geslag, God op dieselfde manier glo soos Abraham geglo het.

Dit wat God in ons tyd gedoen het, is nie in die geheim gedoen nie, maar eerder die teendeel: Tien duisende was getuies van wat God gedoen het. Die profetiese bediening van Broeder Branham, met die gawe van onderskeiding, was die bonatuurlike bediening van die Here Jesus Christus. Hy het Homself aan hierdie geslag geopenbaar op dieselfde manier. Dikwels was die geheime van die hart geopenbaar, van diegene wat die raad van die Here verlang het, sowel as van diegene wat skepties was oor die profetiese bediening. Wie die Woord van God ken en die bediening van Jesus Christus verstaan, sal besef dat 'n soortgelyke bediening in hierdie geslag gemanifesteer was. Al wat ons kan sê, is dat die Skrif voor ons oë vervul is.

Voor die eerste koms van die Here het mense amper vier duisend jaar gewag om die profesieë in vervuling te sien, toe het byna almal binne een generasie gebeur. Ons wag nou al amper twee duisend jaar vir die Wederkoms van die Here en gedurende hierdie tyd het al die kinders van God gedink dat Jesus Christus gedurende húl leeftyd sou terugkeer. Deur die genade van God leef ons in daardie geslag waarin al die profesieë aangaande die tweede koms van Christus vervul word. Jesus Christus sê in Matthéüs 24, vers 34, in die gelykenis van die vyeboom, wat van die volk Israel praat: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie”.

Dieselfde geslag wat Israel sal sien 'n nasie word, is die een wat sal getuig van die vervulling van alle profesieë wat verband hou met die tweede koms van die Here.

Daar is enkele dinge wat eienaardig is in die Christelike era van tweeduisend jaar gelede, sowel as in hierdie hedendaagse tydperk. In die tyd van die vroeë Gemeente was daar 'n afname in die grootsheid van die Judaïsme. Israel het onder die Romeinse besetting gely, totdat die tempel uiteindelik in 70 nC heeltemal vernietig was en die mense van Israel oor die hele wêreld versprei was. Dieselfde gebeur in hierdie era, maar die gety vloei in die teenoorgestelde rigting. Israel word vanoor die hele wêreld versamel en daar is selfs planne om die tempel te herbou. Die huidige posisie van Israel sê vir ons, dat 'n menigte profesieë rakende Israel en van die einde van die heidense bedeling in hierdie eintlike geslag, besig is om vervul te word.

Net so seker as wat die Jode uit alle lande na die beloofde land van hulle vaders teruggekeer het, so is ook die ware kinders van God besig om uit al die denominasies uit te kom, om ​​op die beloftes van God vir hierdie uur te staan.

In elke eeu het die Here Sy wil geopenbaar, deur Sy Woord wat na Sy profete gekom het. Ons leef nou in die mees ontsaglike tyd van die hele geskiedenis van die mensdom. Ons het amper die einde van die heidense bedeling bereik en ons moet weet wat God vir hierdie dag belowe het. Die profeet Daniël het in hoofstuk 12, vers 4, aangeteken: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder”.

In dieselfde hoofstuk, in die negende vers, lees ons: “En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe”.

Baie mense het in opregtheid gevra waarom God nie in die verlede Sy geheime geopenbaar het nie. Ons het so pas gelees dat daar dinge moes weerhou word tot die tyd van die einde. Ons lees in Openbaring 10, vers 7: “maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan Sy diensknegte, die profete”.

In die lees van Openbaring 10, vers 5, en ook Daniël 12, vers 5, sien ons hoe die een Woord saamval met die ander. Dit moet van groot belang wees om te weet dat die engel Gabriël na die profeet Daniël gekom het, aan wie dit gegee was om die dinge te skryf wat in die tyd van die einde moet plaasvind. Op dieselfde manier kom die engel na Johannes op die eiland van Patmos. Ons moet nie verbaas wees om te hoor en te rapporteer dat 'n engel ook na hierdie profeet van God gekom het nie. Ons lees in Daniël 8, vers 17, “Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde”.

Soos voorheen gesê, alles wat God doen en alles wat in die koninkryk van God gebeur, het groot betekenis. In Daniël 8, vers 19, lees ons: “Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde”.

Ons kan sien dat die profetiese Woord praat oor die eindtyd en oor dinge wat bepaal en gehou moet word vir die eindtyd.

Toe Johannes op die eiland Patmos was, was die dinge van die eindtyd aan hom gewys. Ons lees in Openbaring 1, vers 1: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan Sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van Sy engel aan Sy dienskneg Johannes te kenne gegee het”.

Byna dieselfde woorde word in Openbaring 22, vers 6 aangetref. Volgens die getuienis van Broeder Branham, het 'n engel van die Here ook op 7 Mei, 1946, na hom toe gekom. Hy was vanaf die teenwoordigheid van God gestuur om hom te vertel van die dinge wat God wou hê dat hy moes weet.

As ons kan glo dat 'n engel na Daniël en na Johannes gekom het, sal ons dit beslis nie moeilik vind om te glo dat 'n engel ook na Broeder Branham gekom het nie. In werklikheid lees ons dit in die Ou Testament sowel as in die Nuwe, hoe daar gereeld engele gestuur was om 'n boodskap van God te bring. Ons is oortuig daarvan voor God, met ons hele hart, dat ons nou aan die einde van die eindtyd lewe, en dat die Wederkoms van Jesus Christus baie naby is. Ons weet dat die bruid voorberei en uitgeroep moet word, voordat sy weggeraap kan word. Dit is die doel van die koms van die profeet-boodskapper in hierdie eindtyd. Die bruid van Jesus Christus moet uit hierdie godsdienstige Babilon gehaal word deur die ware Woord van God. Ons moet geskei en geheilig word en gereed gemaak word om die Bruidegom te ontmoet. Net soos die Bruidegom die Woord is, so moet die bruid ook deel wees van daardie Woord. In Daniël 12, vers 10, lees ons: “Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan”.

Ons is daarvan oortuig dat ons nou die Woord moet hoor soos dit deur God bepaal is vir ons. Dit is hoogtyd dat ons nie die sienings van organisasies verkondig nie, maar eerder die geopenbaarde Woord van God, wat uitgedeel moet word as die vars voedsel vir hierdie tyd. Nadat ons die So spreek die Here ontvang het, het ons geen behoefte meer vir enige mens-gemaakte interpretasies van die Skrifte nie. As iemand onkundig is oor dit wat belowe is, is dit moontlik dat die Skrif vervul is, selfs sonder dat daardie persoon dit besef.

Toe die Here die eerste keer kom, het die mense die Geskrewe Woord van God gehad en hulle het op die Messias gewag. Hulle het egter nie die openbaring van die Heilige Gees gehad om te sien hoe die profesieë reg voor hulle oë vervul word nie. Vir diegene buite die invloedsfeer van die Heilige Gees, het alles in orde gelyk. Hulle het die tempelaanbidding gehad, en die tema van elke preek en offerande het na die komende Messias op een of ander manier verwys. Toe Hy self kom, het Sy eie mense Hom nie ontvang nie. Oral is die kinders van God nou in afwagting op die Wederkoms van Jesus Christus. Predikers preek daaroor, maar hulle self belemmer die saak, omdat hulle nie die boodskap vir hierdie uur herken nie. Slegs deur 'n God-gestuurde profeet kan ons die goddelike beduidenis van die Woord van God ken. Nadat die Woord geopenbaar is deur die bediening van 'n profeet, kan 'n leraar die dinge aan die gemeente uiteensit, sodat die kinders van God gevestig kan word in die Woord van die Here.

Johannes was 'n man deur God gestuur, met 'n boodskap vir sy tyd. Ons lees in Johannes 1, vers 7: “Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo”.

Dit is 'n aangrypende stelling dat alle mense deur Hom moes glo. Dit was nie 'n groep wat gekies was om die weg van die Here voor te berei nie; dit was hierdie een man wat gestuur was om die weg van die Here voor te berei. God het nie Sy geheime toevertrou aan die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, maar eerder aan die een man wat vir daardie spesifieke doel voorbestem was. Ons kan sien dat dit nie voldoende was om slegs die Geskrewe Woord te het nie, maar dat 'n man van God moes kom met die “Gesproke Woord” om die Geskrewe Woord te openbaar, soos dit vervul was. Dieselfde gebeur in hierdie geslag. Elke prediker en die kinders van God, het die Geskrewe Woord. Maar dit verg 'n goddelik, voorafbestemde profeet, om die “Gesproke Woord” te bring en die verborgenhede uit te lê, wat vir ons bestem is om te weet. Salig is die oë wat dit kan sien, salig is die ore wat dit hoor en salig is diegene wat dit kan glo. Johannes 14, vers 12, is sekerlik deur sy bediening bevestig. Dit is nie nodig om te oordryf nie, inteendeel: 'n mens is amper bang om sekere dinge te vertel, wat in die God-gegewe bediening van hierdie nederige man van God gebeur het.

Daar moet gesê word dat die eindtydboodskap een honderd persent ooreenstem met die Bybel. As iemand dit neem wat Broeder Branham gesê het en dit op 'n ander vlak as die Bybel plaas, sal so iemand die merk mis. Almal wat genoeg van die genade van God ontvang het, om dit wat geleer was, te neem en dit te verifieer uit die Bybel, sal gebalanseerd wees in die Skrif.

Die eindtydboodskap is niks minder nie en niks meer as die Woord van God wat vir hierdie tyd geopenbaar is nie. Dit is nie ‘n byvoegsel by die Bybel nie, maar dit is die Heilige Skrif wat deur die Heilige Gees geopenbaar is. God se volk is teruggebring na die ware Woord en die suiwer leer van die Heilige Skrif. Dit is nie genoeg om al hierdie dinge net in ons koppe te erken en te aanvaar nie. Ons moet lewende getuienisse word van die Woord van God. Wie hierdie dinge neem en dit net met sy kop glo, kan daarmee groot skade berokken, as hy poog om andere te leer. Diegene wat die Woord in hul harte geneem het, kan 'n groot seën vir andere wees.

In Handelinge 20, vers 25, skryf Paulus: “En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie. Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur Sy eie bloed verkry het”.

Paulus was 'n leraar, 'n apostel en 'n profeet. Hy kon sê dat hy die hele raad van God verkondig het. Die bediening van die profeet in die Nuwe Testament moet parallel wees met die bediening van die profete in die Ou Testament, omdat God vir ewig dieselfde is.

Dit is waar dat die Bybel nie net praat van die profeet wat voor die groot en vreeslike dag van die Here sou kom nie, maar dit praat ook van baie valse profete wat sou ontstaan. As ons die Ou Testament noukeurig lees, sal ons sien dat wanneer 'n ware profeet opgestaan het met die So spreek die Here, 'n groot groep valse profete dan die ware profeet teëgestaan het. Dit was so met Jeremia. Ons kan dit lees in Jeremia 23 en 26. Dit was so met Miga, 'n ware profeet, en vierhonderd valse profete het hom teëgestaan. Ons kan dit lees in IKonings 22.

In IITimothéüs 3, vers 1, lees ons hoe dinge in die laaste dae sou wees. In die 8stevers skryf Paulus: “En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof”.

Dit is 'n profesie wat ook in ons tyd vervul word. Waarom was Paulus geïnspireer deur die Heilige Gees om te verwys na Moses en die wonder-werkers destyds, ten opsigte van die laaste dae? Daar moet sekerlik 'n parallel wees tussen daardie tyd en die tyd waarin ons leef. Ons weet almal dat Moses die profeet van God was, aan wie die Here verskyn het in die vuurkolom. Met die absolute en finale sekerheid voor God, moet daar gesê word dat dieselfde Here verskyn het aan Broeder Branham, in dieselfde vuurkolom. Die Engel van die Here het met hom gespreek en gesê: “Soos Moses twee tekens gegee was, word jy ook twee tekens gegee”.

Die Woord van God word nou vervul deur mense wat verrys het met kragtige tekens en wonders, maar wat die Waarheid verwerp, soos Jannes en Jambres dit gedoen het. Ook wat Jesus Christus in Matthéüs 7, vers 21 sê, moet vervul word: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is”.

Ons moet die vraag vra: Wie is hierdie manne wat profeteer, duiwels uitdryf, wonderwerke verrig, en tog in ongeregtigheid bly? Kan dit wees dat hierdie woorde die bedieninge van die volle-evangelie predikante beskryf? Geen ander dryf duiwels uit nie, doen wonderwerke, profeteer en beweer dat hulle die volle evangelie glo nie. Jesus Christus verklaar: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is”.

Ons kan nie toegang tot die hemel verkry deur dit wat ons gedoen het nie; ons moet die wil van God doen.

In Hebreërs 10, verse 35-37, lees ons: “Werp dan julle vrymoedigheid, wat 'n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog 'n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie”.

Volgens Lukas  7, verse 29-30, was almal wat die boodskap van Johannes geglo het, gedoop en daardeur geregverdig in die aangesig van God.  Ons weet dat deur Broeder Branham se bediening, die ware waterdoop in die Naam van die Here Jesus Christus verkondig word. Hier kan ons 'n soortgelyke vraag stel, wat Jesus Christus aan die skrifgeleerdes gevra het in Sy dag. In Lukas 20, vers 4, lees ons: “Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense?”.

Daarom vra ons: is die doop in die Naam van die Here Jesus Christus, van God of van die mense? Die mense het geweet dat Johannes 'n profeet was. Insgelyks het die mense Broeder  Branham geken as 'n profeet. Dit is nou die tyd om uit te praat. Waarom swyg? Hier moet ons sê dat waterdoop in die Naam van die Here Jesus Christus, volgens die So spreek die Here van God se Woord is. Moenie hierdie kritieke bybel-lering langer verkeerd interpreteer met u eie siening nie, maar sê eerder wat gesê was onder die inspirasie van die Heilige Gees. Petrus het met die Jode in Handelinge 2:38, gepraat, Filippus het in Handelinge 8:16, met die Samaritane gepraat en Paulus met die Heidene in Handelinge 19:5. Hier het ons drie getuies. Hoe kan ons die tradisies van mense volg en die ware lering van die Bybel langer ignoreer?

Broeders, as daar enige leerstelling ter sprake is, moet ons die Woord van God vanaf Genesis tot Openbaring neem, om ons antwoord te vind. As ons ons tradisionele lering kan versaak en erken dat 'n bevestigde profeet die Woord van God, deur goddelike openbaring gespreek het, sal dinge verander. Kan iemand die lering van 'n ware bevestigde profeet van God uitdaag? Hoe kan iemand dink dat 'n profeet verkeerd kan wees in sy lering en glo om self reg te wees?

God het nie 'n profeet gestuur sodat ons hom moet ignoreer nie, maar sodat ons aandag kan gee aan die Woord van God, en in geloof gehoor gee aan die So spreek die Here. In Jesaja 66, vers 5, lees ons: “Hoor die woord van die Here, julle wat vir Sy woord bewe! Julle broers, julle haters wat julle verstoot om my Naam ontwil, sê: Laat die Here heerlik word, dat ons julle vreugde kan aanskou! Maar hulle sal beskaamd staan!”.

In Jesaja 48, verse 3, 5 en 6 lees ons: “Die vorige dinge het Ek lankal verkondig, en uit my mond het dit uitgegaan, en Ek het dit laat hoor; skielik het Ek dit volbring, en dit het gekom … daarom het Ek jou dit lank tevore verkondig; voordat dit gekom het, het Ek jou dit laat hoor, dat jy nie sou sê: My afgod het dit gedoen, of my gesnede beeld of my gegote beeld het dit beveel nie ... Jy het dit gehoor — aanskou dit alles! Sal júlle dit dan nie verkondig nie? Van nou af laat Ek jou nuwe dinge hoor en geheime wat jy nie geweet het nie”.

Jesaja 46, verse 9-10, verklaar: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen”.

Broeders, wat u roeping ook al mag wees, wees asseblief nederig genoeg om in lyn te kom met die Woord van God. Almal word uitgedaag om die vele preke van Broeder Branham wat gepubliseer was, te lees. In Openbaring 1, vers 20, lees ons: “die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes”.

Die sewe sterre aan die regterhand van Hom wat die dood en die hel oorwin het, is die sewe boodskappers van die sewe gemeentelike eras. Hulle is nie in die hand van 'n mens of 'n organisasie nie, maar in die magtige hand van die Here.

Sewe keer word dit gesê in die boek Openbaring, hoofstukke 2 en 3: “En skryf aan die engel van die gemeente in … Dit sê Hy ...”. Daar is ook sewe keer geskrywe: “Aan hom wat oorwin ...” en “Wie 'n oor het; laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê”. As ons die vyand wil oorkom, moet ons weet hoe om dit te bereik. In Openbaring 12, vers 11, lees ons:

“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie”.

Mag die Woord ons getuienis wees en mag ons onder die bloed gevind word. Deur Hom wat ons liefgehad het, is ons meer as oorwinnaars.

Ten slotte groet ons almal met die woorde in IIPetrus 3, vers 2: “sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser”.

Ook met die woorde van Paulus uit Romeine 16, verse 24-27: “Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen. Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is, maar nou geopenbaar is en deur die profetiese Skrifte bekend gemaak is onder al die heidene, volgens die bevel van die ewige God, tot gehoorsaamheid van die geloof — aan die alleenwyse God, aan Hom die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen”.

Die koms van die Here Jesus Christus is baie naby. Kyk op, want ons verlossing is naby. Is u gereed om die Here te ontmoet? Kan u bid: "Ja, kom Here Jesus Christus"?

Die genade van God wees met u almal!

Die woorde “So spreek die Here” het vir baie mense 'n nuwe betekenis gekry. Onder die inspirasie van die Heilige Gees, kon God se profete nog altyd sê: “So spreek die Here”. Diegene wat getuies is van die profetiese bediening van Broeder Branham, moet tog erken dat dit onder die inspirasie van die Heilige Gees was, gebaseer op goddelike openbaring, wanneer hy gesê het: “So spreek die Here”.

Ons leef in 'n tyd waarin baie dinge gebeur, en is amper bang vir wat die nuus volgende kan bring. Pastore en evangeliste probeer alle dinge verstaan ​​en korrek te verduidelik. Baie boeke is geskryf met die doel om 'n beter begrip te gee van die wêreldgebeure wat plaasvind. Ons het egter nie die goed-bedoelde interpretasies van die mens nodig in 'n tyd wanneer die koms van die Here Jesus Christus so naby is nie. Wat ons nodig het, is die So spreek die Here van 'n ware profeet, wat gegrond is op die onfeilbare Woord van God. Ons leef in 'n tyd waarin die profetiese voorspellings rakende hierdie eindtyd hul vervulling vind. Niemand het die reg om goddelike dinge vanuit die menslike oogpunt te interpreteer nie. Geestelike dinge kan slegs deur die Heilige Gees onderskei en geopenbaar word. Net so seker as wat die Here God die profesieë deur die monde van Sy profete uitgespreek het, het Hy ook die betekenis daarvan op dieselfde manier bekend gemaak, ten tye van die vervulling.

Dit is nie ons doel om Broeder Branham, of die bediening wat God hom gegee het, te verdedig nie. 'n Man deur wie God vir 33 jaar sulke magtige tekens en wonders kon verrig, hoef nie deur enige een verdedig te word nie. Onder diegene wat die werk van die Heilige Gees in hierdie geslag ervaar het, is dit ‘n welbekende feit dat God Broeder Branham op 'n spesiale manier gebruik het, om aan die spits te wees van so ‘n magtige herlewing, wat wêreldwyd ná die Tweede Wêreldoorlog begin het. Ons kan met waarheid sê dat niemand die dinge wat gebeur het, kon doen nie, tensy God met hom was. Alvorens ons hierdie onderwerp van nader kan bekyk, moet ons besef dat God alle dinge volgens die plan van verlossing doen, soos opgeneem en vooruitgespreek in die Skrif.

Telkens wanneer 'n man van God in die Nuwe Testament gekies is, om te praat of te skryf oor dit wat betrekking het op die plan van verlossing, verwys hy altyd terug na die profetiese Woord. Dit is wat die skrywers van die vier Evangelies en ook die apostels gedoen het. Ons moet erken dat God Sy man op daardie bepaalde tydstip gekies het om dit tot uitvoering te bring wat vir daardie spesifieke tyd verordineer is om te gebeur.

Daar kan met waarheid gesê word dat elke nuwe-testamentiese lering gebaseer is op die So spreek die Here van die profetiese Woord. Al die manne van God in die Nuwe Testament, wat gekies was om te skryf of te praat, was op dieselfde manier geïnspireer deur die Heilige Gees as wat die profete was. Hulle het altyd verwys na die geïnspireerde Woord van God wat voorheen gespreek was. Elke bybelse vraag in die Nuwe Testament was in die lig van die profetiese Woord beantwoord en het daardeur die So spreek die Here geword. Dit was nie die mens se antwoord nie, maar die goddelike antwoord wat deur die Almagtige God, volgens Sy Woord gegee was. Daarom kan ons verstaan ​​wat Petrus skryf in IIPetrus 1, vers 21: “want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek”. Op dieselfde manier word manne van God deur die Heilige Gees beweeg volgens die wil van God, om die goeie nuus van die vervulde profesieë te verkondig. In Romeine 1, verse 1-2, lê Paulus die grondslag neer vir wat hy geskryf en voortgebou het op: “Paulus, 'n dienskneg van Jesus Christus, 'n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God — wat Hy tevore beloof het deur Sy profete in die heilige Skrifte …”. Die apostels verklaar hier dat die belofte van die evangelie alreeds vroeër in die Heilige Skrif geskryf was deur die profete.

As ons die briewe aan die Romeine en die Hebreërs lees, sien ons hoe gereeld die So spreek die Here van die profetiese Woord gebruik word in die nuwe-testamentiese lering. In Romeine 9, verse 24-26, verdedig Paulus die heiden bekering met die Skrifte en skryf: “... ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde;  en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God”.

As hy dieselfde onderwerp behandel, skryf Paulus in Romeine 15, verse 9-11, “... en dat die heidene ter wille van Sy barmhartigheid God kan verheerlik, soos geskrywe is: Daarom sal ek U loof onder die nasies en tot eer van u Naam psalmsing. En ook sê Hy: Verbly julle, o nasies, saam met Sy volk; en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke”.

Ons sien duidelik dat Paulus sy leringe baseer op die Woord van God wat deur die profete van die Here gespreek is. Volgens Handelinge 15, verse 13-15, is hierdie onderwerp in Jerusalem onder die apostels met Paulus en Barnabas bespreek. Ons lees soos volg: “En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê: Broeders, luister na my! Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om 'n volk uit die heidene vir Sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is ... ”. Dit was nie net Paulus nie, maar Jakobus het ook verwys na die woorde wat deur die heilige profete gespreek is. Ons moet vir eens en altyd leer dat 'n skriftuurlike antwoord slegs uit die Bybel verkry kan word. In Romeine 15, vers 4, skryf die apostel Paulus: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê”.

Dit is baie belangrik dat ons moet leer om terug te gaan na die geïnspireerde Woord van God en sodoende ons antwoord te vind as die So spreek die Here. Ons sien dat Paulus, Jakobus en al hierdie manne van God nie antwoorde gegee het wat hulle gedink het moet reg wees nie, maar deur die Heilige Gees is hulle aangespoor om die antwoord uit die Woord van God te gee.

In Handelinge 8, vers 35, lees ons die wonderlike stelling: “En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig”.

Stefanus was ook 'n man vol geloof en die Heilige Gees. In sy preek in Handelinge 7, wys hy dikwels op die So spreek die Here uit die profetiese Woord. Dit is onmoontlik om die Ou- van die Nuwe Testament te skei. Want, in die Ou Testament is die profesieë gegee en in die Nuwe Testament is dit vervul. Alles wat ons preek en leer moet gegrond wees op die So spreek die Here van die volledige Woord van God. Die doel van die Woord van God is nie om ons eie idees en interpretasies by te voeg nie, maar dat ons die plan van verlossing moet sien deur die openbaring van die profetiese Woord. Vir hierdie doel het God Sy manne gekies vanaf die begin van tyd, met ware inspirasie van die Here, om Sy Woord te spreek.

Ons kan sien dat God, sedert die dae van die reformasie, die een waarheid na die ander uit Sy Woord herstel en geopenbaar het. Diegene wat die God-gestuurde boodskapper in elke tydperk aanvaar het en geluister het na wat in die Naam van die Here gespreek was, het die seëninge van God ontvang. Diegene wat die boodskap van die uur geglo het, was die ware kinders van God. Ons moet alles sien wat nou in die lig van die profetiese Woord gebeur, soos al die manne van God in die Nuwe Testament gedoen het.

Ons lees in Matthéüs 1, verse 22-23: “Dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons”.

Matthéüs was deur die Heilige Gees geïnspireer en hy het teruggekeer na die profetiese Woord wat deur inspirasie gegee is. Toe die wyse manne na Jerusalem gekom en gevra het waar Christus gebore was, het hulle ook hul antwoord uit die Woord van God ontvang: “Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal 'n leidsman voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees” (Matt. 2:5).

In Matthéüs 26, vers 31, lees ons: “Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan en die skape van die kudde sal verstrooi word”.

Ons sien dat Christus ook voortdurend verwys het na die Woord van God. In Matthéüs 26, vers 54 het Jesus gesê: “Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?” … “Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug” (vers 56).

As ons hierdie tema kan bestudeer, sal ons verbaas wees hoe dikwels die apostels na die woorde van die profete verwys.

Markus 1, verse 1-2 lees soos volg: “Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God. Soos geskrywe is in die Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak” (Mal. 3:1; Isa. 40:3).

Markus rig onmiddellik ons ​​aandag op die profete Maleági en Jesaja, en lê die grondslag vir sy Evangelie op die profetiese Woord. Hy beklemtoon die So spreek die Here om aan die mense die vervulling te wys, van wat God deur die woorde van die profete beloof het. In die vierde vers maak Markus melding van die voorganger en skryf: “Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig”.

Johannes was die God-gestuurde profeet met die God-gestuurde boodskap aan God se volk in daardie tyd.

Dit is baie belangrik en van groot betekenis dat ons God se Woord voorrang gee. Na Markus die fondament deur die profetiese Woord gelê het, vertel hy ons meer oor Johannes. Sy sending en sy boodskap word beskryf. Daar word genoem hoe hierdie profeet aangetrek het en wat hy geëet het. Markus hou terug om oor Jesus te praat en gaan voort om te praat oor die voorganger en profeet. Dit is heel merkwaardig. Die eerste voorganger van Jesus Christus het gekom en gegaan en 'n wonderlike getuienis gelaat. In hierdie laaste dae, reg in ons midde, is 'n drama besig om af te speel, waardeur talle profesieë rakende hierdie eindtyd alreeds en steeds vervul word. Daar is ook 'n voorganger, soos Johannes, belowe vir die tweede koms van Jesus Christus. Hierdie feit sal skriftuurlik verder in hierdie boekie bevestig word.

As die Skrif vertel van die voorganger van die eerste koms van die Here, dan kan ons sekerlik skryf oor die voorganger van die tweede koms van die Here. God se volledige plan van verlossing is deur Sy voorafbestaande kennis verordineer, so ook die boodskap en die boodskapper vir elke dispensasie. Ook die mense wat die boodskap moet hoor, is vóór die grondlegging van die wêreld deur God voorafbestem.

Ons sal bewys dat ons die So spreek die Here as ons grondslag geneem het. Die skrifgeleerdes, wat nie geglo het dat Johannes die God-gestuurde profeet was nie, sou miskien kwaad gewees het dat Markus na hom moes verwys in sy geskrifte. Hulle kon hom natuurlik beskuldig het dat hy 'n man verheerlik, maar Markus was geïnspireer deur die Heilige Gees. Hy kon neerskryf wat plaasgevind het in die absolute sekerheid van die geopenbaarde Woord van God.

Geliefdes, dit is onmoontlik vir hulle wat waarlik met die Heilige Gees gevul is, om dit wat God belowe en vervul het in hierdie geslag, te ontken. Deur die genade van God is ons teruggebring na die So spreek die Here. Ons kan nou die betekenis van die profetiese Woord insien, in die lig van die openbaring van Jesus Christus.

Nou kom ons by die vraag: Waarom het die skrifgeleerdes die vervulling van die profesieë nie in hulle tyd erken nie? Dit was bloot omdat hulle hul eie interpretasie van die Skrif daargestel het en op God gewag het om Sy Woord na gelang van hul eie interpretasie te vervul. Dieselfde gebeur met die skrifgeleerdes in hierdie geslag.

Slegs diegene wat die So spreek die Here van die profetiese Woord in hierdie tyd verstaan, erken die vervulling van die Skrifte. So seker as wat God 'n profeet gestuur het voor die eerste koms van Christus, het Hy ook 'n profeet gehad wat Sy tweede koms vooruit gaan. Te midde van al die voorbedagte interpretasies van mense, het hy opgestaan ​​en deur die openbaring van die Heilige Gees die So spreek die Here van die Woord van God, aan die volk van God, in hierdie geslag gebring. Dit is nou hoogtyd om alle mens-gemaakte interpretasies te laat vaar en terug te keer na die Woord van God.

Ons kan sê dat alles wat met Jesus Christus gebeur het, volgens die Skrif was. Sy geboorte, Sy die lewe, Sy bediening, Sy lyding, Sy dood, Sy opstanding en hemelvaart was alles volgens God se Woord. Dit is alles vervul volgens die profesieë van die Ou Testament wat deur die profete van God uitgespreek is. Ons sien ook dat alles wat met die Gemeente van die lewende God gebeur, van die begin tot die einde, gebeur volgens die voorafbepaalde raad van God.

In Lukas 4, vers 16, lees ons dat die Here Jesus op die sabbatdag die sinagoge ingegaan het. Die boek van die profeet Jesaja was aan Hom oorhandig. Hy het toe die wonderlike gedeelte van hoofstuk 61 gelees, wat betrekking het op Sy bediening en begin toe om die volgende woorde te sê: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul”.

Soos ons kan sien, het die skrywers herhaaldelik klem gelê op die vervulling van profesieë, soos ook die Here Jesus Christus.

Geliefdes in Christus! Het ons verstaan ​​waar die klem val in hierdie tyd? Verstaan ​​ons dat die Here Jesus en al die manne van God in die Nuwe Testament altyd na die Ou Testament verwys het? Hulle het voortdurend geïllustreer dat alles wat plaasgevind het, volgens die Skrifte plaasgevind het. Dit is presies wat ons doen, deur die genade van die Almagtige God. Ons was bevoorreg om die vervulling van die Skrifte te kon sien en ook bevoorreg om te kan skryf oor die dinge wat God in ons tyd gedoen het.

Diegene wat die So spreek die Here van die Woord van God verwaarloos, is verblind in hul hoogmoed en hulle verbeur God so. Hulle volg nie die Here na gelang van Sy plan nie. So ‘n persoon bou nie op die fondament van die onvervalste Woord van God nie. Hy bou nie op die rots van die openbaring van Jesus Christus nie, maar op sy eie fondasie.

O volk van God! Kom terug na die So spreek die Here, sodat u die vervulling van die Woord van God in hierdie tyd kan sien. Kom terug na die ware geloof wat gegrond is op die Woord van God. Ons leef in 'n tyd waarin die wonderlike voorspellings rakende die Wederkoms van Jesus Christus voor ons oë vervul word. Eer aan God, wat die lig van Sy Woord laat skyn op die wat in duisternis sit.

Johannes skryf in Johannes 6, vers 45: “Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees”.

Deur die geopenbaarde Woord van God word ons geleer en het ons nou insig oor die dinge van God wat verborge was deur die eeue. In Johannes 7, vers 38, lees ons (Jesus Christus wat praat): “Hy wat in My glo soos die Skrif sê, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei”.

Slegs dan kan die seën van God op ons rus. Hierdie woorde “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê”, is belangriker as wat ons besef. Alles wat ons doen en glo, moet volgens die Skrif wees. Ons lees in II Timothéüs 3, verse 16-17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”.

As ons tot die volle statuur van Jesus Christus wil kom en tot volmaaktheid wil gaan, volgens Hebreërs 6, vers 1, moet ons die geïnspireerde Woord van God lees en al die beloftes wat daarin geskryf is glo.

Dit is baie belangrik om te weet dat Jesus Christus ná Sy opstanding Sy dissipels se verstand vir Sy Woord geopen het. Ons lees in Lukas 24 dat Hy met twee van Sy dissipels oppad na Emmaus was. Hulle het oor alles wat in daardie dae gebeur het gepraat, maar het nog geen begrip daaroor gehad nie en nie geweet wat dit alles beteken het nie. In ons tyd het daar ook baie gebeur en mense het daaroor gepraat, maar wat van om Jesus te ontmoet? Hy kan ons verstand oopmaak en ons vraag vandag beantwoord. Die dissipels het selfs vir Jesus gesê: “Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?”. Hulle het Hom nie herken nie; hulle het ook nie besef dat die Skrifte vervul moes word nie. Solank as wat die dissipels gepraat het, kon hulle verstand nie geopen word nie, maar toe die Here Jesus begin praat, kon hulle sien en ook verstaan ​​wat destyds plaasgevind het. Dit is moontlik vir ware dissipels om oor die dinge van God te praat, en tog onkundig daaroor te wees dat die Skrifte in vervulling is.    Dit word opgesluit in die woorde van Jesus in Lukas 24, vers 25: “O onverstandiges, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in Sy heerlikheid ingaan nie?”.

Ons sien hoe Jesus Christus self benadruk het dat alles vervul moes word, soos dit deur die profete gespreek was.

Hierdie is baie belangrik. Jesus Christus is vandag dieselfde as wat Hy destyds was. As ons waarlik Sy dissipels is, dan sal Hy ons die lig van Sy Woord gee en die verstand om te sien dat die voorspellings wat vir hierdie tyd geprofeteer was, plaasgevind het.

Baie profesieë word vervul in die tyd waarin ons leef. Daardie profesieë, moet eers vanuit die Skrifte tot ons aandag geroep word. Ons moet ook verstaan ​​dat ons nie die profesieë van die Skrifte kan verduidelik net soos ons wil nie. Dit is nodig dat 'n God-gestuurde profeet die verborge dinge van God uitspreek. Soos Broeder Branham gesê het: “God is Sy eie vertolker”. Hy interpreteer Sy Woord deur dit wat Hy gespreek het, te laat gebeur.

Diegene wat graag wil verstaan ​​wat God doen voor die tweede koms van Christus, moet eers ​​God se handelinge voor Sy eerste koms verstaan. In die Ou Testament lees ons herhaaldelik dat die Woord na die profete gekom het. Die profete het in visioene en deur openbaring gesien, wat God wil hê dat Sy volk moes weet. In Amos 3, vers 7, lees ons die bekende Skrif: “Want die Here Here doen niks tensy Hy Sy raadsbesluit aan Sy knegte, die profete, geopenbaar het nie”.

Dit sê nie dat die geheime van God aan 'n evangelis of 'n prediker geopenbaar word nie, maar aan die diensknegte, die profete van God. Paulus beklemtoon hierdie feit in die Nuwe Testament en skryf in Efésiërs 3, vers 5: “wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan Sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees”.

Ons moet leer om die goddelike orde te respekteer en God te vra om ons te help om dit wat Hy doen, reg te verstaan. 

‘n Ware profeet van God spreek nie sy eie gedagtes uit nie, en verklaar ook nie die sienings van ‘n denominasie nie, maar praat eerder met Godgegewe outoriteit in die Naam van die Here. Op hierdie punt moet ons 'n verklaring uit die Woord van God aanhaal in IIKronieke 20, vers 20. Dit lui soos volg: “… terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan Sy profete, dan sal julle voorspoedig wees”.

Ons glo beslis dat hierdie woorde deur die inspirasie van die Heilige Gees gespreek is. Ons moet dit nie ligtelik opneem nie, maar oplet wat in die laaste gedeelte van die vers gesê word: “Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan Sy profete, dan sal julle voorspoedig wees”. In Haggai 1, verse 12-13 lees ons: “(Toe het) die hoëpriester, en die hele oorblyfsel van die volk gehoor gegee aan die stem van die Here hulle God en aan die woorde van Haggai, die profeet, volgens die opdrag waarmee die Here hulle God hom gestuur het; en die volk was vervul met vrees voor die aangesig van die Here. Daarop het Haggai, die boodskapper van die Here, kragtens die boodskap van die Here, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die Here”.

Hierdie Skrif word ook deur inspirasie gegee en is voordelig vir lering. Hier lees ons van die Here se boodskapper, wat die boodskap van die Here aan die volk van God gegee het. Die belangrikste oor hierdie Skrif is dat die oorblyfsel van die volk aan die stem van die Here hulle God gehoor gegee het, en die woorde van die profeet Haggai, want die Here hulle God het hom gestuur, en die volk het die Here gevrees.

Eerstens moet ons verstaan ​​wat God belowe het en, wanneer ons besef dat God 'n profeet gestuur het, moet ons ook bereid wees om die woorde van God te gehoorsaam. Die Here sal dan met ons wees, sodat ons die boodskapper kan ontvang en ook die boodskap wat 'n ware profeet van God in die Naam van die Here uit die Woord van God lewer. Sonder aarseling kan daar gesê word dat die ware oorblyfsel van die volk van God ook in hierdie geslag, gehoorsaam is aan die stem van die Here hulle God, soos hulle luister na die woorde van die God-gestuurde profeet. Hulle het die boodskapper en ook die boodskap ontvang. Soos reeds genoem, was daar profesieë in die Ou Testament waarna verwys word met die eerste koms van die Here. Voordat dit vervul was, het God 'n profeet met die naam van Johannes gestuur. Hy het die weg van die Here voorberei en het die “Gesproke Woord” van God op daardie tydstip na die kinders van God gebring, om die waarheid van die Geskrewe Woord te openbaar. Deur die “Gesproke Woord” is die Geskrewe Woord geopenbaar. Almal wat die boodskap van Johannes geglo het, het in werklikheid God geglo. Nou lewe ons voor die tweede koms van Christus en weer word profesieë vervul. Almal wat die boodskap van hierdie uur, wat deur die God-gestuurde profeet gebring was, glo, sal die vervulling van die Skrifte sien.

Ons het die So spreek die Here nodig in hierdie tyd, om absolute sekerheid te kry oor wat ons glo en leer. Baie wat in die dae van Johannes gepreek het, het dit nie in lyn gebring met God se Woord nie, en nie erken dat dit voor hulle oë vervul word nie. Dieselfde kan in hierdie tyd gebeur. Ons kan selfs praat van die koms van die Here en nie besef dat die Skrifte vervul word nie. Tog, ondanks alles wat God gedoen het, word die Seun van God weer gekruisig, as ons wat God vir hierdie geslag voorspel en vervul het verwerp en ignoreer. 

Dit is onmoontlik om die werk wat God doen, te omseil. As u 'n ware kind van God is, sal u die ware boodskapper en die boodskap van God erken en aanvaar. Volgens Handelinge 1 vers 16, het Petrus saam met die honderd-en-twintig in Jerusalem gestaan en gesê: “Broeders, hierdie Skrif moes vervul word wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid, aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het”.

Deur die inspirasie van die Heilige Gees het Petrus die Skrif vervuld gesien, selfs in wat gebeur het met Judas. Ons moet eintlik die hoofstuk tot aan die einde lees, want Petrus verwys voortdurend na die profesieë wat vervul moes word. Dit is die kenmerk van 'n ware dienskneg van God. Hy sal nie goed uitgewerkte verduidelikings het nie, maar sal die volk van God terugneem na die So spreek die Here van die Woord van God.

In Handelinge 2 lees ons van die uitstorting van die Heilige Gees. Weereens is dit Petrus wat in vers 14 saam met die elf sy stem verhef en gesê het: “Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom”.

Ons sien dat Petrus, onder die invloed van die Heilige Gees, presies geweet het watter profesie vervul is. Hy het nie sy uitleg gegee oor wat op die Pinksterdag gebeur het nie, maar hy het verwys na die Woord van God. Hy kon die mense wys dat die profeet Joël daarvan gepraat het.

In Handelinge 3, vers 18, lees ons: “maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al Sy profete, dat die Christus sou ly”. Dit is 'n wonderlike stelling. Met verwysing na Christus, sê hy in vers 21: “Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al Sy heilige profete”.

Met hierdie profetiese stelling het ons by ons eintlike tema gekom. Christus wag in die hemel tot die herstelling van alle dinge plaasgevind het, en totdat die goddelike orde in die Gemeente van die lewende God weer opgebou is, soos God deur die mond van Sy heilige profete gesê het. Toe Petrus hierdie Woord van God gespreek het, wat die herstelling van alle dinge betref, was Johannes se bediening lankal klaar.

Hierdie belofte stem ooreen met wat Jesus Christus in Matthéüs 17, vers 11 gesê het, waar ons soos volg lees: “Dis waar, Elía kom eers en sal alles herstel”.

Dit is in die toekomstige tyd gespreek en geskryf. Dit kan nie ontken word nie. Die Here Jesus Christus het daarvan gepraat nadat die bediening van Johannes klaar was. Die dissipels het aan die Here gevra: “Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elía eers moet kom?”. Sy antwoord was dat Elia sou kom en alles herstel. Dan, in verwysing na Johannes, het Hy gesê “dat Elía al gekom het, en hulle het hom nie erken nie”. Jesus het slegs hierdie stelling gemaak, omdat die eerste deel van die profesie oor die stuur van die profeet Elia alreeds vervul was, “… om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders” (Luk. 1:17). Hier is 'n verborgenheid soos in Lukas 4, vers 19, waar Jesus gelees het oor die aangename jaar van die Here, maar weggelaat het wat geskrywe is aangaande die dag van wraak.

Ons sien dus dat dit God se belofte was om 'n profeet te stuur voor die eerste koms van Christus, sowel as om 'n profeet te stuur voor die tweede koms van Christus. Die belofte om die profeet Elia voor die groot en die vreeslike dag van die Here te stuur, kom voor in Maleági 4, vers 5: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek”.

Die tweede koms van die Here Jesus Christus moet plaasvind voor die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek.

Dit is duidelik dat die skrifgeleerdes gewag het op 'n man wat groot tekens en wonders onder die mense sou doen, net soos Elia gedoen het. Johannes was 'n Woord-profeet, maar geen tekens en wonders het deur sy bediening plaasgevind nie. Hy was nie die profeet Elia wat voor die groot en vreeslike dag van die Here sou kom nie. Die dag van die Here was nie op hande in Johannes se tyd nie; dit was eerder die begin van die dag van genade en verlossing. Hy was eenvoudig die profeet wat opgestaan ​​het in die krag en gees van Elia. Die engel het aan Sagaria in Lukas 1, vers 17 gesê: “En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders”.

Dit is absoluut noodsaaklik dat ons elke woord presies lees. Dit sê nie: hy was Elia nie, maar dit sê net dat hy in die gees en krag van Elia sou kom. In Johannes 1, vers 19 lees ons, “En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u? En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie. Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie”.

As ons Johannes nie 'n leuenaar wil noem nie, moet ons glo wat hy gesê het. In vers 23 antwoord hy met die Skrif wat oor hom geprofeteer is: “Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het”.

Johannes se getuienis en dit wat die engel vir Sagaria gesê het, stem volkome saam met die getuienis van Jesus Christus. Daar is geskryf oor Johannes in Matthéüs 11, vers 10: “Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak”.

Dit is presies wat ons in Maleági 3, vers 1, geskryf vind. Dit is wat Jesus Christus self gesê het, en ons moet glo wat hy gesê het. Johannes kon beslis nie 'n profeet wees wat voor die groot en vreeslike dag van die Here moes kom nie. Bykans tweeduisend jaar het verloop en die groot en vreeslike dag van die Here was nog nie. Volgens die Woord van God, soos ons lees in die laaste twee verse van die Ou Testament, in die profeet Maleági, moet Elia eers voor die groot en vreeslike dag van die Here kom. Hy sal die harte van die kinders terugbring tot die vaders, sodat die Here nie die aarde met die banvloek tref nie.

Laat ons nou enkele verse uit die Skrif aanhaal, waarin die dag van die Here beskryf word. In IIThessalonicense 2, vers 2 skryf Paulus: “om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is”.

Daar moes sekerlik mense gewees het wat die voorganger van die eerste koms verwar het met die voorganger van die tweede koms. Dit gebeur ook vandag, anders sou Paulus nie nodig gehad het om te skryf oor hierdie tema rakende die dag van die Here nie. Paulus was 'n apostel en 'n profeet. Hy het geskryf oor die afvalling en alles beskryf wat voor die dag van die Here sou gebeur. Basies het Paulus gesê dat die dag van die Here eers kan kom ná die vervulling van die dinge wat in IIThessalonicense 2 en ander plekke geskryf is, met verwysing na die laaste dae.

Die dag van die Here word in die Ou- sowel as in die Nuwe Testament beskryf. Byvoorbeeld, in Jesaja 13, verse 6 en 9, lees dit soos volg: “Huil julle, want die dag van die Here is naby; hy kom as 'n verwoesting van die Almagtige … Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde 'n woesteny te maak en Sy sondaars daaruit te verdelg”.

In die profeet Sefanja 1, verse 14-15, lees ons: “Naby is die groot dag van die Here, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die Here! Bitterlik skreeu die held daar. Dié dag is 'n dag van grimmigheid, 'n dag van benoudheid en angs, 'n dag van woestheid en verwoesting, 'n dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke en wolkenag”.

Ons lees verder in Joël 2, vers 31: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom”

Laasgenoemde Skrif herinner ons baie aan die sesde seël. Almal kan vanaf Openbaring 6, vers 12 lees, wat die sesde seël behels.

Die dae van genade en verlossing eindig vir die heidene sodra die Wegraping plaasvind. Dan begin die dag van toorn en wraak. Petrus skryf in IIPetrus 3, vers 10: “Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand”.

Paulus skryf in IThessalonicense 5, vers 2: “want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag”. Verder skryf hy in die vierde vers: “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie”.

Hierdie voorspelling word ook vervul. Paulus skryf dat ons nie oorval kan word nie, omdat ons nie in duisternis woon nie. Die profeet Sagaría het in hoofstuk 14, vers 7 geprofeteer: “En dit sal 'n enige dag wees wat aan die Here bekend is — geen dag en geen nag nie; maar teen die aand sal dit lig word”

Diegene wat in hierdie tydperk, in die lig van die geopenbaarde Woord van God lewe, wandel glad nie meer in die duisternis nie.  Die uitverkorenes van God in dié geslag, het besef dat Hy Sy kneg en profeet gestuur het voor die groot en vreeslike dag van die Here.

Hier is 'n paar vrae aan alle predikers van die Evangelie in ons tyd, wat diegene aankla wat in bybeltye nie die besoeke van God erken het nie, en ook nie die vervulling van profesie gesien het nie:

Kan dit moontlik wees dat ons in dieselfde situasie is, sonder dat ons dit besef? Gaan dit wat God in ons tyd doen, by ons verby? Verstaan ​​ons nie wat God doen nie, want ons sien net ons eie programme en nie die plan van God nie, ook nie die vervulling van die Woorde wat die Here deur Sy profete gespreek het nie?

Dit is absoluut noodsaaklik dat ons die ewige nooit-mislukkende Woord van God neem om ons weg te belig. Ons lees die wonderlike Woorde van onse Here in Johannes 8, vers 12: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê”.

Jesus Christus is die Woord. Om Hom te volg, moet u die Woord vir hierdie uur volg. Hoeveel mense sê met hul monde, “U woord is 'n lamp vir my voete en ‘n lig vir my pad”, maar wandel steeds in duisternis. God se Woord kan slegs 'n helder skynende lig word, as dit aan ons geopenbaar word in die goddelike betekenis daarvan, deur die openbaring van die Heilige Gees. Broeder Branham het dikwels gesê: “Mense dank God vir wat Hy gedoen het en vir wat Hy nog gaan doen, maar mis en omseil wat Hy in hulle tyd doen”.

Ons het nou 'n keuse. Ons kan aanhou om ons eie interpretasies te glo en te verkondig, óf ons kan God se Woord aanvaar, wat deur die profetiese bediening van Broeder Branham gestuur is in hierdie tyd. Die meeste mense is onkundig oor wat God vir hierdie tydperk belowe het. Ons moet die feit leer en aanvaar, dat God sedert die begin van tyd, Sy diensknegte — die profete — gebruik het, om te openbaar wat moet gebeur. Wanneer iets buitengewoons op aarde moes plaasvind, het God altyd 'n profeet gehad met wie Hy kon praat. Ons moet ook verstaan ​​dat nie elke prediker en evangelis 'n profetiese bediening het nie. Slegs 'n profeet kan die profetiese Woord aan die mense openbaar.

So seker as wat God die profete gebruik het om dinge te voorspel, gebruik Hy profete om dit te verklaar in die tyd van die vervulling daarvan. Goddank daarvoor. Hy waak oor Sy Woord om dit uit te voer.

Jesus Christus het in Lukas 17, verse 26-30 geprofeteer: “En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word”.

Dit is baie belangrik dat ons daardie dae in ag neem en besef wat God toe gedoen het, om dus te weet wat Hy nou ook doen. Die meerderheid van die gelowiges praat slegs van die dinge wat in daardie dae onder die ongelowiges gebeur het. Maar ons, as die kinders van God wat op die Wederkoms van Jesus Christus wag, stel veral belang om te weet wat gebeur het onder diegene wat destyds uitgeroep was. Dit is 'n feit dat God destyds 'n profeet gehad het met die watervloed oordeel. Hy het die verborgenheid van Sy wil aan daardie profeet geopenbaar en almal wat hom geglo het, het ontsnap en was veilig.

Op daardie tydstip was daar die nageslag van Set, wat God se seëninge gehad het, en ook die nageslag van Kain. Toe hierdie twee vermeng het, het die einde van alle vlees voor God gekom. Christus sou in die vlees, uit die nageslag van Set gebore word, wie se saad nie met Kain s'n vermeng was nie. In ons tyd kom die godsdienstige wêreld saam en word vermeng in die Wêreldraad van Kerke. Dit is op so 'n tydstip dat God 'n profeet gestuur het met 'n boodskap, om die kinders van God uit te roep, sodat hulle almal wat nie die leuens van Satan aanvaar en glo nie, van die res geskei kan word, om die Waarheid te glo. Ons kan onsself voorstel hoe mense gespot en hul koppe geskud het, toe hulle met Noag, die profeet van God, praat. Maar die tyd het gekom dat God dít bevestig het, wat in Sy Naam gesê was. So sal dit ook in hierdie geslag wees.

So seker as wat God in daardie dae 'n profeet nodig gehad het, moet Hy nou ook 'n profeet het, want Jesus Christus self het in Lukas 17, vers 30 gesê: "Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word".

Die mense het miskien gedink dat Noag nie die enigste hoef te wees wat die Woord van God geken het nie, aan wie die wil van God vir daardie tyd geopenbaar was nie. Tog is dit 'n gevestigde feit nietemin, dat Noag bevestig was as die profeet van God.

Vriende, die Skrif kan nie gebreek word nie. Jesus Christus, die Seun van God, het in Matthéüs 24, verse 37-39 gesê: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees”.

Ons kan met waarheid sê dat profesie voor ons oë vervul word. Kom ons kyk na die gebeure wat plaasgevind het voordat die vuur van God uit die hemel geval het en die stede Sodom en Gomorra verbrand is. Volgens Génesis 18, het die Here Sy profeet Abraham met twee engele besoek. In Génesis 19 lees ons van die twee engele wat na Sodom gegaan het, maar die Here het by Abraham gebly en gesê: “Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen?” (Gen. 18:17).

Abraham was in daardie tyd die profeet van God en aan hom is die geheime van die wil van God geopenbaar. Lees Génesis 18, verse 9-15 aandagtig deur. Die Here het die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, bevestig, terwyl Sara in die tent was en geluister het na die gesprek. Sy het binne-in haarself gelag. Toe het die Here aan Abraham onthul dat sy gelag het. Hy het ook die gedagtes van haar hart bekend gemaak (vers 13). Dit is van uiterste belang om hierdie gebeurtenis deeglik te verstaan, want dit het gebeur net voordat die oordele van God op Sodom en Gomorra geval het.

As ons nie verstaan ​​wat in daardie dae gebeur het nie, kan ons sekerlik nie verstaan ​​wat nou gebeur nie. Is ons instaat om te sien hoe die bediening van die Here, toe Hy op hierdie aarde gewandel het, ooreenstem met dit wat met Abraham gebeur het, net voordat Sodom en Gomorra vernietig is? Die Here het Homself bekend gemaak aan Abraham. Hy het Homself ook met Sy eerste koms bekend gemaak aan die koninklike saad van Abraham. Net soos Abraham God geglo het, so het die nageslag van Abraham God ook geglo, toe die Here Homself geopenbaar het en Hy hier op aarde gewandel het.

In die Evangelie van Johannes, hoofstuk 1, verse 40-42, word dit berig dat Andréas sy broer na Christus gebring het. Die Here het na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Jona …”. Nog nooit tevore het Hy hom ontmoet nie, maar nou het Hy hom by die naam geroep en selfs die naam van sy vader genoem. Moet dit asseblief nie ligtelik opneem nie, want alles wat die Here doen, het beslis 'n groot betekenis. In dieselfde hoofstuk word ons die verslag gegee dat Filippus vir Natánael na Christus gebring het. Toe sê Jesus: "Hier is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie". Natánael was so oorweldig dat hy met verbasing vra: "Waarvandaan ken U my?" (Joh. 1:48).

Toe kom die antwoord van die Meester: “Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien”. Dit was genoeg vir Natánael, en hy het uitgeroep: “Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!”.

In die Evangelie van Johannes, hoofstuk 4, lees ons die verhaal van die vrou van Samaria. Die Here Jesus het haar lewe geopenbaar, waarop sy Hom geantwoord het: “Here, ek sien dat U 'n profeet is”. Toe sê sy verder: “Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig”. Jesus sê toe vir haar: “Dit is Ek wat met jou spreek!”.

Dit was genoeg vir die vrou. Sy was oortuig en hardloop toe die stad binne en sê: “Kom kyk 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?”.

As iemand die bediening van Broeder Branham korrek wil verstaan, in hierdie tyd, moet hy eers ​​die bediening van die Here verstaan. Dit kan nie ontken word deur diegene wat teenwoordig was by die byeenkomste van Broeder Branham nie, dat dieselfde Here Homself op dieselfde manier geopenbaar het deur die krag van die Heilige Gees. Honderde band-opgeneemde boodskappe is  lewende getuienis van hierdie feit. Ook in hierdie tyd het die ware saad van God erken en gejuig oor wat die Here van die heerlikheid gedoen het. Die saad van die slang verklaar dat die werk van die Here van die duiwel is. Soos dit destyds was, so is dit ook nou. Maar elke persoon aan wie die Here Homself op hierdie bonatuurlike manier geopenbaar het, was oortuig daarvan dat dit van God was.

Enigiemand wat die vier evangelies lees, sal vind dat die Here Jesus Christus vir die mense kon sê wat hulle dink en wat hulle gedoen het, ens. In Johannes 2, verse 24-25 lees ons: “Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is”.

Volgens Matthéüs 21, vers 1, stuur Jesus Christus twee dissipels en sê vir hulle: “Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle 'n eselin vind wat vasgemaak is, en 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig; en dadelik sal hy hulle stuur. En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is: Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op 'n esel, ja, 'n jong esel, die vul van 'n pakdier”. Die dissipels het beslis alles gevind net soos die Here vir hulle gesê het.

Die Here Jesus Christus het geweet wat iemand in sy hart dink, en hy kon die omstandighede uitlê, wat sou gebeur presies soos Hy gesê het. Die ware saad van God was nie gegrief vanweë hierdie bonatuurlike bediening van die Here nie, maar was eerder oortuig dat dit die werk van God was. Daarom was hulle geseënd. Ons kan die aard van die bediening van Jesus Christus sien, hoe Hy op die aarde, as die Seun van die mens, die werk van 'n profeet gedoen het.

Dit was die bonatuurlike bediening van onderskeiding wat sommige mense gestruikel het, maar dit was hierdie tipe bediening waardeur geeste onderskei en uitgedryf is. In die teenwoordigheid van so 'n bediening was dit nie moontlik om neutraal te bly nie. Die saad van God het verklaar dat dit uit God is, en die saad van die slang het verklaar dat dit van die duiwel was. Ons wens net dat dit moontlik was dat die gordyn van tyd opgehef kon word, sodat ons die eindbestemming van die ware saad van Abraham kon sien, wie met hul hele hart geglo het.

Net so sal dit ook 'n ernstige vermaning wees as ons ook diegene kon sien wat die werk van die Here verwerp het en teen Hom gesondig het. Ons moet weer sê dat die ware saad van Abraham, in die dae van die Here Jesus dieselfde geloof gehad het as wat Abraham gehad het. Net so sal die ware saad van Abraham, in hierdie geslag, God op dieselfde manier glo soos Abraham geglo het. 

Dit wat God in ons tyd gedoen het, is nie in die geheim gedoen nie, maar eerder die teendeel: Tien duisende was getuies van wat God gedoen het. Die profetiese bediening van Broeder Branham, met die gawe van onderskeiding, was die bonatuurlike bediening van die Here Jesus Christus. Hy het Homself aan hierdie geslag geopenbaar op dieselfde manier. Dikwels was die geheime van die hart geopenbaar, van diegene wat die raad van die Here verlang het, sowel as van diegene wat skepties was oor die profetiese bediening. Wie die Woord van God ken en die bediening van Jesus Christus verstaan, sal besef dat 'n soortgelyke bediening in hierdie geslag gemanifesteer was. Al wat ons kan sê, is dat die Skrif voor ons oë vervul is.

Voor die eerste koms van die Here het mense amper vier duisend jaar gewag om die profesieë in vervuling te sien, toe het byna almal binne een generasie gebeur. Ons wag nou al amper twee duisend jaar vir die Wederkoms van die Here en gedurende hierdie tyd het al die kinders van God gedink dat Jesus Christus gedurende húl leeftyd sou terugkeer. Deur die genade van God leef ons in daardie geslag waarin al die profesieë aangaande die tweede koms van Christus vervul word. Jesus Christus sê in Matthéüs 24, vers 34, in die gelykenis van die vyeboom, wat van die volk Israel praat: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie”.

Dieselfde geslag wat Israel sal sien 'n nasie word, is die een wat sal getuig van die vervulling van alle profesieë wat verband hou met die tweede koms van die Here.

Daar is enkele dinge wat eienaardig is in die Christelike era van tweeduisend jaar gelede, sowel as in hierdie hedendaagse tydperk. In die tyd van die vroeë Gemeente was daar 'n afname in die grootsheid van die Judaïsme. Israel het onder die Romeinse besetting gely, totdat die tempel uiteindelik in 70 nC heeltemal vernietig was en die mense van Israel oor die hele wêreld versprei was. Dieselfde gebeur in hierdie era, maar die gety vloei in die teenoorgestelde rigting. Israel word vanoor die hele wêreld versamel en daar is selfs planne om die tempel te herbou. Die huidige posisie van Israel sê vir ons, dat 'n menigte profesieë rakende Israel en van die einde van die heidense bedeling in hierdie eintlike geslag, besig is om vervul te word.

Net so seker as wat die Jode uit alle lande na die beloofde land van hulle vaders teruggekeer het, so is ook die ware kinders van God besig om uit al die denominasies uit te kom, om ​​op die beloftes van God vir hierdie uur te staan.

In elke eeu het die Here Sy wil geopenbaar, deur Sy Woord wat na Sy profete gekom het. Ons leef nou in die mees ontsaglike tyd van die hele geskiedenis van die mensdom. Ons het amper die einde van die heidense bedeling bereik en ons moet weet wat God vir hierdie dag belowe het. Die profeet Daniël het in hoofstuk 12, vers 4, aangeteken: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder”.

In dieselfde hoofstuk, in die negende vers, lees ons: “En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe”.

Baie mense het in opregtheid gevra waarom God nie in die verlede Sy geheime geopenbaar het nie. Ons het so pas gelees dat daar dinge moes weerhou word tot die tyd van die einde. Ons lees in Openbaring 10, vers 7: “maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan Sy diensknegte, die profete”.

In die lees van Openbaring 10, vers 5, en ook Daniël 12, vers 5, sien ons hoe die een Woord saamval met die ander. Dit moet van groot belang wees om te weet dat die engel Gabriël na die profeet Daniël gekom het, aan wie dit gegee was om die dinge te skryf wat in die tyd van die einde moet plaasvind. Op dieselfde manier kom die engel na Johannes op die eiland van Patmos. Ons moet nie verbaas wees om te hoor en te rapporteer dat 'n engel ook na hierdie profeet van God gekom het nie. Ons lees in Daniël 8, vers 17, “Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde”.

Soos voorheen gesê, alles wat God doen en alles wat in die koninkryk van God gebeur, het groot betekenis. In Daniël 8, vers 19, lees ons: “Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde”.

Ons kan sien dat die profetiese Woord praat oor die eindtyd en oor dinge wat bepaal en gehou moet word vir die eindtyd.

Toe Johannes op die eiland Patmos was, was die dinge van die eindtyd aan hom gewys. Ons lees in Openbaring 1, vers 1: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan Sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van Sy engel aan Sy dienskneg Johannes te kenne gegee het”.

Byna dieselfde woorde word in Openbaring 22, vers 6 aangetref. Volgens die getuienis van Broeder Branham, het 'n engel van die Here ook op 7 Mei, 1946, na hom toe gekom. Hy was vanaf die teenwoordigheid van God gestuur om hom te vertel van die dinge wat God wou hê dat hy moes weet.

As ons kan glo dat 'n engel na Daniël en na Johannes gekom het, sal ons dit beslis nie moeilik vind om te glo dat 'n engel ook na Broeder Branham gekom het nie. In werklikheid lees ons dit in die Ou Testament sowel as in die Nuwe, hoe daar gereeld engele gestuur was om 'n boodskap van God te bring. Ons is oortuig daarvan voor God, met ons hele hart, dat ons nou aan die einde van die eindtyd lewe, en dat die Wederkoms van Jesus Christus baie naby is. Ons weet dat die bruid voorberei en uitgeroep moet word, voordat sy weggeraap kan word. Dit is die doel van die koms van die profeet-boodskapper in hierdie eindtyd. Die bruid van Jesus Christus moet uit hierdie godsdienstige Babilon gehaal word deur die ware Woord van God. Ons moet geskei en geheilig word en gereed gemaak word om die Bruidegom te ontmoet. Net soos die Bruidegom die Woord is, so moet die bruid ook deel wees van daardie Woord. In Daniël 12, vers 10, lees ons: “Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan”.

Ons is daarvan oortuig dat ons nou die Woord moet hoor soos dit deur God bepaal is vir ons. Dit is hoogtyd dat ons nie die sienings van organisasies verkondig nie, maar eerder die geopenbaarde Woord van God, wat uitgedeel moet word as die vars voedsel vir hierdie tyd. Nadat ons die So spreek die Here ontvang het, het ons geen behoefte meer vir enige mens-gemaakte interpretasies van die Skrifte nie. As iemand onkundig is oor dit wat belowe is, is dit moontlik dat die Skrif vervul is, selfs sonder dat daardie persoon dit besef.

Toe die Here die eerste keer kom, het die mense die Geskrewe Woord van God gehad en hulle het op die Messias gewag. Hulle het egter nie die openbaring van die Heilige Gees gehad om te sien hoe die profesieë reg voor hulle oë vervul word nie. Vir diegene buite die invloedsfeer van die Heilige Gees, het alles in orde gelyk. Hulle het die tempelaanbidding gehad, en die tema van elke preek en offerande het na die komende Messias op een of ander manier verwys. Toe Hy self kom, het Sy eie mense Hom nie ontvang nie. Oral is die kinders van God nou in afwagting op die Wederkoms van Jesus Christus. Predikers preek daaroor, maar hulle self belemmer die saak, omdat hulle nie die boodskap vir hierdie uur herken nie. Slegs deur 'n God-gestuurde profeet kan ons die goddelike beduidenis van die Woord van God ken. Nadat die Woord geopenbaar is deur die bediening van 'n profeet, kan 'n leraar die dinge aan die gemeente uiteensit, sodat die kinders van God gevestig kan word in die Woord van die Here.

Johannes was 'n man deur God gestuur, met 'n boodskap vir sy tyd. Ons lees in Johannes 1, vers 7: “Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo”.

Dit is 'n aangrypende stelling dat alle mense deur Hom moes glo. Dit was nie 'n groep wat gekies was om die weg van die Here voor te berei nie; dit was hierdie een man wat gestuur was om die weg van die Here voor te berei. God het nie Sy geheime toevertrou aan die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, maar eerder aan die een man wat vir daardie spesifieke doel voorbestem was. Ons kan sien dat dit nie voldoende was om slegs die Geskrewe Woord te het nie, maar dat 'n man van God moes kom met die “Gesproke Woord” om die Geskrewe Woord te openbaar, soos dit vervul was. Dieselfde gebeur in hierdie geslag. Elke prediker en die kinders van God, het die Geskrewe Woord. Maar dit verg 'n goddelik, voorafbestemde profeet, om die “Gesproke Woord” te bring en die verborgenhede uit te lê, wat vir ons bestem is om te weet. Salig is die oë wat dit kan sien, salig is die ore wat dit hoor en salig is diegene wat dit kan glo. Johannes 14, vers 12, is sekerlik deur sy bediening bevestig. Dit is nie nodig om te oordryf nie, inteendeel: 'n mens is amper bang om sekere dinge te vertel, wat in die God-gegewe bediening van hierdie nederige man van God gebeur het.

Daar moet gesê word dat die eindtydboodskap een honderd persent ooreenstem met die Bybel. As iemand dit neem wat Broeder Branham gesê het en dit op 'n ander vlak as die Bybel plaas, sal so iemand die merk mis. Almal wat genoeg van die genade van God ontvang het, om dit wat geleer was, te neem en dit te verifieer uit die Bybel, sal gebalanseerd wees in die Skrif.

Die eindtydboodskap is niks minder nie en niks meer as die Woord van God wat vir hierdie tyd geopenbaar is nie. Dit is nie ‘n byvoegsel by die Bybel nie, maar dit is die Heilige Skrif wat deur die Heilige Gees geopenbaar is. God se volk is teruggebring na die ware Woord en die suiwer leer van die Heilige Skrif. Dit is nie genoeg om al hierdie dinge net in ons koppe te erken en te aanvaar nie. Ons moet lewende getuienisse word van die Woord van God. Wie hierdie dinge neem en dit net met sy kop glo, kan daarmee groot skade berokken, as hy poog om andere te leer. Diegene wat die Woord in hul harte geneem het, kan 'n groot seën vir andere wees.

In Handelinge 20, vers 25, skryf Paulus: “En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie. Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur Sy eie bloed verkry het”.

Paulus was 'n leraar, 'n apostel en 'n profeet. Hy kon sê dat hy die hele raad van God verkondig het. Die bediening van die profeet in die Nuwe Testament moet parallel wees met die bediening van die profete in die Ou Testament, omdat God vir ewig dieselfde is. 

Dit is waar dat die Bybel nie net praat van die profeet wat voor die groot en vreeslike dag van die Here sou kom nie, maar dit praat ook van baie valse profete wat sou ontstaan. As ons die Ou Testament noukeurig lees, sal ons sien dat wanneer 'n ware profeet opgestaan het met die So spreek die Here, 'n groot groep valse profete dan die ware profeet teëgestaan het. Dit was so met Jeremia. Ons kan dit lees in Jeremia 23 en 26. Dit was so met Miga, 'n ware profeet, en vierhonderd valse profete het hom teëgestaan. Ons kan dit lees in IKonings 22.

In IITimothéüs 3, vers 1, lees ons hoe dinge in die laaste dae sou wees. In die 8ste vers skryf Paulus: “En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof”.

Dit is 'n profesie wat ook in ons tyd vervul word. Waarom was Paulus geïnspireer deur die Heilige Gees om te verwys na Moses en die wonder-werkers destyds, ten opsigte van die laaste dae? Daar moet sekerlik 'n parallel wees tussen daardie tyd en die tyd waarin ons leef. Ons weet almal dat Moses die profeet van God was, aan wie die Here verskyn het in die vuurkolom. Met die absolute en finale sekerheid voor God, moet daar gesê word dat dieselfde Here verskyn het aan Broeder Branham, in dieselfde vuurkolom. Die Engel van die Here het met hom gespreek en gesê: “Soos Moses twee tekens gegee was, word jy ook twee tekens gegee”.

Die Woord van God word nou vervul deur mense wat verrys het met kragtige tekens en wonders, maar wat die Waarheid verwerp, soos Jannes en Jambres dit gedoen het. Ook wat Jesus Christus in Matthéüs 7, vers 21 sê, moet vervul word: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is”.

Ons moet die vraag vra: Wie is hierdie manne wat profeteer, duiwels uitdryf, wonderwerke verrig, en tog in ongeregtigheid bly? Kan dit wees dat hierdie woorde die bedieninge van die volle-evangelie predikante beskryf? Geen ander dryf duiwels uit nie, doen wonderwerke, profeteer en beweer dat hulle die volle evangelie glo nie. Jesus Christus verklaar: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is”.

Ons kan nie toegang tot die hemel verkry deur dit wat ons gedoen het nie; ons moet die wil van God doen. 

In Hebreërs 10, verse 35-37, lees ons: “Werp dan julle vrymoedigheid, wat 'n groot beloning het, nie weg nie. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry. Want nog 'n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie”.

Volgens Lukas  7, verse 29-30, was almal wat die boodskap van Johannes geglo het, gedoop en daardeur geregverdig in die aangesig van God.  Ons weet dat deur Broeder Branham se bediening, die ware waterdoop in die Naam van die Here Jesus Christus verkondig word. Hier kan ons 'n soortgelyke vraag stel, wat Jesus Christus aan die skrifgeleerdes gevra het in Sy dag. In Lukas 20, vers 4, lees ons: “Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense?”.

Daarom vra ons: is die doop in die Naam van die Here Jesus Christus, van God of van die mense? Die mense het geweet dat Johannes 'n profeet was. Insgelyks het die mense Broeder  Branham geken as 'n profeet. Dit is nou die tyd om uit te praat. Waarom swyg? Hier moet ons sê dat waterdoop in die Naam van die Here Jesus Christus, volgens die So spreek die Here van God se Woord is. Moenie hierdie kritieke bybel-lering langer verkeerd interpreteer met u eie siening nie, maar sê eerder wat gesê was onder die inspirasie van die Heilige Gees. Petrus het met die Jode in Handelinge 2:38, gepraat, Filippus het in Handelinge 8:16, met die Samaritane gepraat en Paulus met die Heidene in Handelinge 19:5. Hier het ons drie getuies. Hoe kan ons die tradisies van mense volg en die ware lering van die Bybel langer ignoreer?

Broeders, as daar enige leerstelling ter sprake is, moet ons die Woord van God vanaf Genesis tot Openbaring neem, om ons antwoord te vind. As ons ons tradisionele lering kan versaak en erken dat 'n bevestigde profeet die Woord van God, deur goddelike openbaring gespreek het, sal dinge verander. Kan iemand die lering van 'n ware bevestigde profeet van God uitdaag? Hoe kan iemand dink dat 'n profeet verkeerd kan wees in sy lering en glo om self reg te wees?

God het nie 'n profeet gestuur sodat ons hom moet ignoreer nie, maar sodat ons aandag kan gee aan die Woord van God, en in geloof gehoor gee aan die So spreek die Here. In Jesaja 66, vers 5, lees ons: “Hoor die woord van die Here, julle wat vir Sy woord bewe! Julle broers, julle haters wat julle verstoot om my Naam ontwil, sê: Laat die Here heerlik word, dat ons julle vreugde kan aanskou! Maar hulle sal beskaamd staan!”